gallery_1120x667a
Motors

Ry-indruk: Maak grootte saak vir kleinste Merc-sedan?

Om kleiner motors te besit is die hedendaagse neiging en motorvervaardigers besef dit ook. Selfs luukse handelsmerke, soos Mercedes, wat tradisioneel bekend is vir groot statige modelle, bou deesdae kompakte voertuie. Een van Mercedes se kleiner passasiersvoertuie is die CLA, wat saam met met die gewilde A-klas-luikrug die Duitse vervaardiger se intreevlakmodelle is.

Die CLA is ’n vierdeur-sedan met ’n koepee-agtige ontwerp en is onder die C-klas-sedan geposisioneer. Sedert die CLA in 2013 op die mark gekom het, is dit taamlik gewild en het dit vroeër vanjaar ’n verjongingskuur ondergaan. Die ontwerpverandering is byna onopsigtelik, maar Mercedes het onder meer bietjie aan die hoofligte, agterligte, sierrooster en buffer gepeuter.

Die meeste mense dink nogal die CLA is aantreklik, veral van voor en van die kant gesien, maar die agterkant is nie noodwendig in almal se smaak nie. Tog verdien Mercedes ’n klop op die skouer vir ’n treffende ontwerp wat definitief nie as vervelig beskryf kan word nie.

SARIE het die CLA220-diesel, wat word deur Mercedes-Benz se outomatiese sewespoed-ratkas aangedryf word, toetsbestuur. Die CLA 220d se 2,1-liter-kragrbon pas die motor baie goed. Dit is nie net redelik kragtig met 125 kW se kragontwikkeling nie, maar boonop ekonomies met ’n verbruiksyfer van net 4,5 liter/100 km.

gallery_1120x667b

Soos talle ander Mercedes-modelle ry dit soos ’n droom, maar jy moet bewus wees dat dit ’n lae motor is. Binne is dit luuks, met al wat knoppie en funksie is om die kajuitervaring so gemaklik moontlik te maak. En al is dit dalk een van Mercedes se goedkoper modelreekse, is daar glad nie met die CLA se bougehalte, afwerking en binne-ontwerp afgeskeep nie.

gallery_1120x667c gallery_1120x667d

Spasie vir agterste passasiers is wel knap en die CLA sal nie noodwendig deug as alledaagse gesinsryding nie.

Daar is min wat jy met die CLA kan foutvind en dis ’n motor waarvan ons regtig baie hou, maar dis eintlik nie aansienlik goedkoper as die groter C-klas wat meer gerief en ruimte bied nie. Diegene wat dus ’n CLA begeer, hou waarskynlik daarvan omdat dit ’n meer byderwetse ryding is.

Die prys vir die CLA 220d is R519 900, maar met talle opsies wat beskikbaar is, kan die prys seker maklik tot naby R600 000 opgejaag word. Die goedkoper 200d is dus eerder die CLA-model om te koop aangesien dit byna R40 000 minder kos.

– SARIE se eie motorkenner, Wilmer Müller, toets gereeld die nuutste motors op die mark.

Hier’s van sy vorige Ry-Indrukke:

Ry-indruk: Audi A4

Ry-indruk: Ford Everest

Ry-indruk: Hyundai H1

Ry-indruk: Mini One en Mini Cooper S-kabriolet

8 goed wat jy oor die nuwe Kia Sportage moet weet