FOTO: Mercedes GLC

FOTO: Mercedes GLC

Motors

Die Mercedes GLC: ’n heerlike alledaagse ryding met luukses

Mercedes se GLC is ’n luukse sportnutsvoertuig wat met die gewilde Audi Q5 en BMW X3 moet meeding. Maar, die Q5 en X3 moet maar op hul hoede wees, want die GLC is glad nie sleg nie.

FOTO: Mercedes GLC

FOTO: Mercedes GLC

Dit deel sy gene met die C-klas, wat ’n topverkoper vir Mercedes is, en die GLC is regtig ook ’n mooi sportnutsvoertuig wat aandag trek – veral die neus is prominent met ’n groot Mercedes-driepuntster op die sierrooster.

SARIE het die topmodel, die GLC 300 met ’n AMG-sportpakket toetsbestuur. Dié weergawe het ’n kragtige 2,0 L-turbopetrolenjin wat 180 kW se krag ontwikkel en die GLC, wat bykans twee ton weeg, om 0-100 km/h in 6,5 sekondes kaf te draf. Dit is ’n juweel van ’n enjin wat hom goed van sy taak kwyt en uiteraard nooit sukkel nie. Die GLC 300 kom ook met ’n seepgladde negespoed outomatiese ratkas wat deur ratte draf sonder dat jy dit werklik agter kom.

FOTO: Mercedes GLC

FOTO: Mercedes GLC

Soos sy mededingers is die GLC ook vierwielaangedrewe, maar dit is nie ’n hardebaard veldryding nie. Die vierwielaandrywing sorg wel dat die voertuig weet wanneer om aan die pad te klou soos omstandighede dit vereis. Daar is ook ’n opsionele lugveerstelsel beskikbaar, wat beteken jy kan die ryhoogte nog meer verhoog, wat veral help as jy dalk meer uitdagende terrein moet aandurf.

Die GLC se binne-ontwerp is ook treffend en die paneelbord word deur ’n groot raakskerm, wat soos ’n iPad lyk, oorheers. Dit dui onder meer inligting van die klankstelsel, rymodusse en geriefskenmerke aan.

FOTO: Mercedes GLC se binne-ontwerp

FOTO: Mercedes GLC se binne-ontwerp

Die kajuit spreek van goeie bougehalte en bied talle luukses.

Die GLC is ’n veelsydige luuksemotor wat goeie ritgehalte en algehele gerief bied. Dis ’n maklike sportnuts om te bestuur en talle tegnologiese kenmerke is beskikbaar wat jou rit veilig sal maak. Kopers kan selfs die voertuig met indrukwekkende parkheerhulpmiddels toerus.

Dit is sonder twyfel ’n heerlike alledaagse ryding, maar die GLC is ook redelik prakties as ’n gesinsvoertuig. Die GLC is wel nie ’n goedkoop ryding nie, want dit is immers ’nMercedes, en die basisprys kan ook nogal opgejaag word deur talle opsionele kenmerke. Maar, as jy dit kan bekostig, is dit glad nie ’n slegte keuse as jy hou van luukse sportnutse nie.

Model: GLC 300
Prys: Begin by R654 900

FOTO: Mercedes GLC

FOTO: Mercedes GLC

 Lees nou: