Mini_cabrio_3
Motors

Ry-indruk: Mini One en Mini Cooper S-kabriolet

Dit is nogal begeerlik om ’n Mini te besit, want nie net is dit ’n parmantige ryding nie, maar dit is deesdae – anders as die Mini’s van ouds – eintlik ’n luukse klein motortjie. SARIE het onlangs Mini se intreevlakmodel, die One, asook die duurder Cooper S-afslaankap toetsbestuur.

Die derde generasie “nuwe” Mini’s is in hul jongste gedaante steeds dadelik herkenbaar as lede van dié ikoniese Britse motorfamilie. Maar Mini se aanneem-ouers is BMW, wat beteken dat die nuwe modelle eintlik met Duitse ingenieursvernuf en gehalte spog.

via GIPHY

Soos dit in motor-evolusie gaan, is die huidige modelle groter, beter en meer verfynd as hul voorgangers. Die motortjies lyk steeds modern en spog met die jongste tegnologiese foefies.

Die Mini One, die reeks se intreevlak-model met ’n prys van R279 000, is nie noodwendig ’n afgewaterde weergawe nie. Dit het meer as genoeg veiligheidskenmerke en beskik ook oor al die nodige geriewe soos elektriese vensters, lugverkoeling en ’n klankstelsel met Bluetooth wat met jou slimfoon kan konnekteer.

Mini_one

Onder die One se enjinkap is ’n wakker 1,2-liter-turbopetrolenjin wat 75 kW se krag lewer. Jy verwag dalk dat die intreevlakmodel met sy piepklein enjin lui op die pad kan wees, maar dis glad nie die geval nie! Inteendeel, die Mini One is ’n wakker rakker.

Omdat Mini’s nogal aan die duur kant is, is die One waarskynlik dié een om te koop. Soos ander Mini’s is dit steeds prettig om te bestuur en bied dit baie goeie brandstofvebruik teen 4,9 liter per 100 km.

Die ánder Mini wat ons toetsbestuur het, was die blitsige Cooper S-kabriolet. Soos die One is die afwerking redelik goed, maar is dit nog luukser en ons toetsmodel het onder meer leerbekleedsel gehad. Die afslaankap kan gedeeltelik wegvou wanneer ’n paneel soos ’n sondak oopskuif, of dit vou heeltemal weg wanneer die dak in die kattebak verdwyn.

Mini_cabrio_5 Mini_cabrio_1

Die Cooper S het ’n kragtige 2-liter-turbopetrolenjin wat ’n stewige 141 kW ontwikkel. Ons toetsmotor het ’n outomatiese ratkas gehad, wat dié enjin goed komplementeer aangesien ratwisseling vinnig gebeur sonder om die motor se sportiewe karakter af te breek. Dis ’n regte blitsbuks en jy sal 0-100 km/h in sowat sewe sekondes kan kafdraf.

Tog is die Cooper S nie goedkoop nie, want jy sal ’n minimum van R457 000 betaal en dié prys kan heelwat opgejaag word as jy begin kies en keur uit die talle aanloklike opsionele ekstras. Dis dalk meer raadsaam om die Cooper-model, wat bietjie minder kragtig en byna R70 000 goedkoper is, te oorweeg.

Uiteraard is Mini’s se ruimte beperk, en die kabriolet se bagasieruim is maar knap! Die One is ruimer as wat jy verwag, maar soos die kabriolet is dit eintlik ’n ryding vir enkellopendes, paartjies of as ’n tweede voertuig.

Mini_cabrio_4

Mini_cabrio_6

Mini’s is regtig pret om te bestuur en hantering is veral goed, maar jy moet jou gereed maak vir ’n effens stamperige rit. Tog voel dit soos ’n eersteklas-voertuig, want bougehalte is indrukwekkend en die byderwetse, retro-voorkoms trek steeds aandag.

– SARIE se eie motorkenner, Wilmer Müller, toets gereeld die nuutste motors op die mark. Hier’s van sy vorige Ry-Indrukke:

Ry-indruk: Audi A4

Ry-indruk: Ford Everest

Ry-indruk: Hyundai H1