renault_captur-sunset-3q-studio-white_1800x1800
Motors

Ry-indruk: Renault Captur

Die motorbedryf moet dankbaar wees vir die Nissan Juke, wat die segment vir kompakte sportnutsvoertuie geskep het. Deesdae maak vervaardigers goed geld met dié soort motors. 

Renault het nou ook al ’n geruimte tyd ’n mededinger vir die Juke, die Captur – wat nogal ’n gewilde keuse in Suid-Afrika is. Buiten die Juke, moet die Captur ook die Ford EcoSport, Opel Mokka en die Citroën Cactus die stryd aansê.

Aanvanklik was die Captur net met ’n turbopetrolenjin beskikbaar, maar die reeks is onlangs uitgebrei en daar is nou ook ’n turbodieselkragbron. Ons het die Renault Captur Sunset Limited Edition 1,5 dCi toetsbestuur.

renault_captur-sunset-sideq_1800x1800

Eintlik is die Captur ’n Clio op steroïede, aangesien dit sy onderstel met Renault se gewilde luikrug deel. Nes die Clio het die Captur ’n parmantige voorkoms en hou die meeste mense nogal daarvan. Ons toetsmodel het ’n tweekleur-afwerking gehad – die dak en bak se kleure het verskil.

Binne is meer ruimte as in die Clio en ’n mens sit lekker hoog.

Die uitleg van die instrumentasie is modern en lyk sportief en die klawerswart plastiek skep ’n gevoel van duursaamheid. Standaardkenmerke sluit in klimaatbeheer, elektriese vensters en ’n raakskerm met satellietnavigasie. Jy kan ook jou slimfoon via Bluetooth verbind en dit met stembevele beheer.

renault_captur-sunset-interior_1800x1800

renault_captur-sunset-console_1800x1800

Die bagasieruim sluk 355 liter, maar as die agtersitplek vorentoe gly, vergroot dit na 455 liter. Die rugleunings kan platvou om ’n laairuim van 1 235 liter te skep.

Die Captur se 1,5 liter-turbodiesel pas die motor soos ’n handskoen en nie net is dit ’n gewillige enjin nie, maar is brandstofvebruik nogal goed. Volgens Renault is die gemiddelde verbruik ’n superlae 3,2 liter/100 km.

Die Captur is ’n gerieflike alledaagse ryding wat maklik is om in en om die stad te bestuur, terwyl dit ook die langpad maklik kafdraf.

renault_captur-sunset-rear-detail_1800x1800

Renault weet hoe om mooi motors te ontwerp, en die Captur is nie ’n uitsondering nie. Dit sal ’n gerieflike alledaagse ryding vir ’n klein gesin of enkellopende wees. Dit is ’n waardige mededinger in sy segment, want dit sal in die meeste kopers se behoeftes voorsien.

Model: Renault Captur Sunset Limited Edition

Prys: R292 400

Enjin: 1,5 l-turbodiesel

Krag: 66 kW @ 4 000 r/min

Wringkrag: 220 Nm @ 1750 r/min

Verbruik:</strong> 3,2 liter/100 km

– SARIE se eie motorkenner, Wilmer Müller, toets gereeld die nuutste motors op die mark. Hier’s van sy vorige Ry-Indrukke:

Ry-indruk: Audi A4

Ry-indruk: Ford Everest

Ry-indruk: Hyundai H1

Ry-indruk: Mini One en Mini Cooper S-kabriolet