FOTO Volkswagen

FOTO Volkswagen

Motors

Ry-indruk: VW Caddy

Die Volkswagen Caddy is ’n veelsydige en “sien-wat-jy-kry”-ryding. Basies is dit ’n kleinboet vir die alombekende Kombi, maar ook ruimer en meer prakties as iets soos Volkswagen se gewilde Tiguan-sportnutsvoertuig. Dis ook beskikbaar in verskeie gedaantes, soos ’n paneelwa, mensekarweier of ’n kombinasie van twee.

Kopers op soek na ’n passasiersvoertuig kan kies tussen die Caddy se standaard- vyfsitplekweergawe of ’n langer sewesitplekmodel, die Maxi. Ons het spesifiek die Caddy Maxi Comfortline toetsbestuur.

Maar moet tog net nie dink dat die passasiersweergawe ’n paneelwa met sitplekke is nie … Volkswagen het regtig hard gewerk om seker te maak dat dit ’n gerieflike ryding is, wat jou byna dieselfde verfyndheid as iets soos die indrukwekkende Golf bied.

Só is die bougehalte op dieselfde standaard as die meeste ander Volkswagens, terwyl dit ook al die jongste tegnologie-foefies het.

FOTO: Volkswagen

FOTO: Volkswagen

Die Caddy se aantreklikste eienskap is natuurlik die ruimte wat dit bied. Met drie rye sitplekke vir sewe passasiers, talle stoorkompartemente en baie pakplek in die bagasieruim, is dit ’n wenresep vir diegene wat ’n moderne voertuig soek wat terselfdertyd hope pakplek het. Die Caddy is ook ’n goeie alternatief as ’n minibus dalk vir jou te groot is.

Ons toetsmodel het ’n 2,0 liter-turbodieselenjin gehad, wat lekker kragtig is. Hoewel die Caddy Maxi langerig is, voel dit nie te lomp nie en is hantering redelik goed. Dis wel raadsaam om ’n paar rand ekstra te spandeer aan belangrike parkeerhulpmiddels soos ’n trurat-kamera.

Verder is dit ’n baie veilige voertuig met talle lugsakke en ander aktiewe en passiewe veiligheidskenmerke. Volkswagen het die Caddy onlangs ’n verjongingskuur gegee en dit het nou ’n meer moderne voorkoms, terwyl die binne-ontwerp ook hersien is.

FOTO: Volkswagen

FOTO Volkswagen

FOTO: Volkswagen

FOTO Volkswagen

Die Caddy Maxi Comfortline is nie goedkoop nie, maar dit is een van die sinvolste voertuie wat jy kan koop. Dit kan maklik ’n alledaagse ryding wees, maar jy kan die sitplekke verwyder as jy die dag groot of lomp items moet vervoer. Twee van SARIE se voertuie is hoeka Caddy’s wat al vir ’n paar jaar getroue diens doen.

As jy dus iets nog meer prakties as ’n sportnutsvoertuig of luikrug soek, is dit die moeite werd om iets soos die Caddy te oorweeg.

Prys: R423 300

Ratkas: Sesspoed-outo

Enjin: 2,0 liter-turbodiesel

Brandstofverbruik: 6,3 liter/100 km (gemiddeld)

Lees ook

Ry-indruk: BMW X1

Ry-indruk: Hyundai H1

Ry-indruk: VW Passat