new-passat_static-001_1800x1800
Motors

Ry-indruk: VW Passat

Die Volkswagen Passat het nog altyd tweede viool gespeel in sy klas, waar hy met die BMW 3-reeks, Mercedes C-klas en Audi A4 meeding. Dis nie oor dit ’n tweederangse produk is nie, want dit het al die regte bestanddele gehad om ’n goeie mededinger in die topsegment vir mediumgroot sedans te wees.

new-passat_static-012_1800x1800

Dinge is nou baie anders met die nuwegenerasie-model, want nie net het dit ’n treffende voorkoms wat jou dadelik laat besef hierdie is ’n luukse motor nie, maar dit is propvol moderne tegnologie. Die prys is ook nie sleg in vergelyking met sy mededingers nie. In Europa is die Passat selfs in 2015 as motor van die jaar aangewys en het dit stof geskop in die oë van die C-klas.

new-passat_interior-003_1800x1800

Vir die eerste keer trek die Passat aandag as jy in die straat ry. Veral die plat neus en byna koepee-agtige lyne laat dit dadelik soos ’n weelderige ryding lyk. Boonop is die ruim binnekant besonder luuks en jy kan jy jouself verstout om te dink dat jy eintlik in ’n Audi sit. Daar is subtiele chroomlyne en ’n horlosie sit reg in die middel van die paneelbord.

new-passat_interior-002_1800x1800

Daar is ook ’n raakskerm-multimediastelsel. ’n Nuwe kenmerk is dat die ou analoogmeters voor die bestuurder met ’n digitale skerm vervang is en al die nodige inligting soos spoed, toere en algemene rit-inligting aandui. Met die druk van ’n knoppie op die stuurwiel kan jy die beeld verander sodat dit die satnav-padkaart of musiekinligting vertoon.

new-passat_interior-006_1800x1800

Onder die enjinkap het ons toetsmodel-VW ‘n wakker 1,8-liter-turbopetrolenjin gehad met ’n outomatiese sewegang-ratkas. Dié kragbron is ’n juweel met genoeg woema terwyl brandstofverbruik glad nie sleg is nie. Die Passat is opvallend stil en hoewel dit ‘n groterige voertuig is, bestuur dit maklik.

new-passat_detail-001_1800x1800

Die nuwe Passat is sonder twyfel ’n goeie kopie in sy klas: statig en weelderig. Met motorpryse wat onder druk is, moet baie kopers afskaal. En oppas, om van ’n A4 of 3-reeks na die nuwe Passat oor te skakel, voel dalk selfs na ’n opgradering!

Toetsmodel: Passat 1,8 TSI Comfortline

Prys: R457 500

Enjin: 1,8-liter-turbopetrol

Krag: 132 kW @ 5100 – 6200 r/min

Wringkrag: 250 Nm @ 1 250 – 5 000 r/min

Brandstofverbruik: 5,8 liter/100 km (gemiddeld)

new-passat_static-008_1800x1800

 Lees nou: