FOTO: QuickPic

Motors

Toyota se tawwe Tienie vir die stad

My buurman het dadelik oorgestap om te kyk  toe ek met die Etios by die huis stilhou.

“Hoe verskil die Etios Cross van die gewone Etios?, wou hy heel eerste weet.

Daar is ‘n  paar verskille  maar dis aan die  buitekant waar die Etios die meeste na ‘n Tawwe Tienie lyk, wat wilde paaie wil aanvat.   Myns insiens is dit  ‘n oulike stadsmotor met houding.  Maar die andersheid is baie sigbaar  veral wat die buffers, ligte  en bedekking (cladding) teen die deure betref en danksy  ‘n prominente dakrak , wat 50 kg kan hanteer.

Om dit te verduidelik: die Etios Cross is ‘n bietjie soos ‘n outjie wat baie meer gimnasium toe gaan as die ander Tienies. Bo-bene, borskas en bo-arms wys net ‘n bietjie meer spiere, wat die jongklomp (veral die meisies) weer ‘n keer laat kyk.

FOTO: QuickPic

FOTO: QuickPic

Die groot vraag is hoe ry die Etios. Die antwoord: Baie skaflik en gerieflik, veral in druk stadsverkeer en die 1.5 l –masjien het genoeg woema om verby te steek wanneer nodig.  Brandstofverbruik het verseker my sak gepas en die uitsig is goed. Volgens Glenn Crompton, vise-voorsitter  van Toyota se  bemarkingsafdeling is die Etios presies wat kopers soek – ‘n doeltreffende motor met  stilering van ‘n crossover teen ‘n beskostigbare prys.

Sou ek een wou besit ? – Dit sou ‘n plesier wees. Motors met houding het nog altyd my oog gevang. Die Cross het onder meer  kragstuur , lugreëling, elektriese vensters,   ontwasemer vir agterste ruit met  ‘n ruitveër,  misligte, afstandbeheerde sluitstelsel en vir veiligheid is daar ABS-remme met elektroniese remverspreiding en lugsakke voor.

Die Etios Cross kos R159 800 en die ander Etios 1.5 –modelle wissel van R127 800 vir die Xi Hatch tot R143 000 vir die Xs Sedan.

FOTO: QuickPic

FOTO: QuickPic