Wiele vir 'n avontuur

Deur Alida Vos, SARIE Januarie 2010

“Dis mos ’n ryding vir baardmanne en pyprokers,” sê my buurman toe hy die Jeep Cherokee 2.8 CRD Limited in my oprit van nader bekyk.

“Groot gunsteling van die Amerikaners,” verklaar hy. Ja, ek moet saamstem. Met dié robuuste ryding met sy viertrek-eienskappe kan ’n mens Botswana aandurf. En danksy die dakvenster (opsioneel) kan jy lekker vir die leeus loer en foto’s neem. Die Jeep het genoeg pakplek vir 4 mense, maar vir ’n lang vakansie in die boendoes sal ’n sleepwa of dakrak dalk nodig wees. Die sitplekke is gerieflik en dis binne ruim genoeg vir 5 volwassenes. Die afwerking is maar gewoon, maar die dieselenjin is op en wakker, wat pendel op die N1 vergemaklik. Die brandstofverbruik is 9.4 liter/100 km, volgens Jeep. Sal ék vir my een aanskaf? Dalk nie, maar my pyproker-man dalk wel. Prys: R404 900 (handrat)

  • Foto van verskaf