sr1004reisdinge
Motors

Wiele vir ontspan

Robuust, sterk en iets vir die oog. Nee, jy’s verkeerd. Dis nie Bloubul Victor Matfield nie, maar Nissan se Navara 2.5 dCi. Dis ’n ratse en vinnige 4x4-dubbelkajuitdieselbakkie, wat vir werk (vervoer) en plesier (viertrekroetes) ingespan kan word. Vir baie buitelug-geesdriftiges is ’n dubbelkajuit vandag ’n gesinsmotor, een van die redes waarom jy hulle ook by die skoolhek gewaar. Die Navara het sitplek vir 5, die binnekant is ruim, die sitplekke is gerieflik en jy kan tot 100 kg ekstra op die dakrak vervoer. Veiligheidseienskappe word ook nie afgeskeep nie, maar wat my veral beïndruk het, is die naelloper-dieselmasjien waarmee jy vinnig genoeg kan versnel om ’n trok teen ’n opdraand verby te steek. Dit lyk dalk soos ’n bakkie, maar ry soos ’n motor. ’n Mens kan maar die bankbestuurder gaan spreek as jy vanjaar die ver paaie vir ’n vakansie in die noordelike boendoes wil aandurf.
Prys: van R343 000 tot R389 000.