Lewe + Liefdes

My herinneringe aan Fidji – Deel 3

Ek onthou die eerste keer toe ek oor die internasionale tydsone geseil het. Dit het geen verskil gemaak aan die tyd nie, maar dit was steeds vir my ‘n opwindende ervaring. Ons het letterlik “vandag” uit Suva vertrek en “gister” op die eiland Vanuabalavu aangekom. Dié eiland val eintlik aan die anderkant van die internasionale tydsone, maar die onsigbare grenslyn is verskuif om baie van die eilande deel te kon maak van die res van Fidji. Met die aanbreek van ‘n nuwe jaar is Fidji die eerste land om dit te begroet, en nie Nieu-Seeland soos algemeen aanvaar word nie.

My besoeke aan die naburige eiland Adavaci (uitgespreek Andavathi) was elke keer ‘n belewenis. As dit laagwater is, kan jy daarheen loop! Ek is elke keer aan huis van Avinash deur sy ouers met ‘n feesmaal verwelkom. Een gereg wat sy ma berei het, waarvan ek nie veel wou eet nie, was ‘n bosduifkerriegereg. Daar is nie veel vleis aan die bene nie en die geluide wat met die afsuig van die bene gepaard gaan, is iets afgrysliks om aan te hoor. Dis iets waaraan ek vinnig gewoond moes raak, want dis algemene gebruik, asook om winde regdeur die maaltyd op te breek.

Die strand by Adavaci.

Ek moes die spesiale speenvarkgereg wat vir my berei is, ook van die hand wys. Die snoet is spesiaal vir my gehou, maar ek kon en wou daardie aand niks eet nie. Die blote gedagte aan die snoet het veroorsaak dat ek skielik nie meer honger was nie. Ek het maar die verskoning gebruik dat ek reeds geëet het!

Daar is nie baie groentesoorte op Vanuabalavu beskikbaar nie weens die baie reën wat daagliks oor dié deel van die eilandgroep val. Eksotiese vrugte is wel volop, soos die “soursop” wat oral te vinde is. Die “nangka” (jackfruit) word soms groter as ‘n waatlemoen en bevat baie segmente wat ‘n ongewone maar lekker soet smaak het. Die meelpiesang (plantain) is ‘n soort piesang wat gekook word en soos ‘n soet piesang-gegeurde aartappel proe. Papajas word groen gepluk, gerasper en gekook tot sag. Daarby word kokosneutmelk en gevlokte tuna gevoeg. Die broodvrug word byna so groot soos ‘n rugbybal en word ook gekook. Ek het dié gekookte vrug vele male in wiggies gesny en in olie gebraai soos aartappelskyfies. Heerlik!

Broodvrug Meelpiesang
 Broodvrug  Meelpiesang

Op Mavana het ek ons geliefde afrikanerblommetjies gesien. Die eilandbewoners se naam daavoor is “Monkey Fish Flower”, wat geensins vir my sin maak nie. Hier het ek die afgesette premier, Laisenia Qarase, ontmoet. Sy regering is tydens die staatsgreep in 2006 omvergewerp. Hy woon nou op die eiland Vanuabalavu, waar hy die hoof (chief) is van die eilandbewoners.

Die eilandbewoners is vreeslik lief vir roomys, hoewel daar nêrens op Vanuabalavu ‘n winkel is wat dit verkoop nie. Ek het besluit om roomys te maak met onder meer kondensmelk en kokosneutmelk, wat dadelik ‘n treffer onder die werkers was. ‘n Lekker Fidjiaanse topping daarvoor word gemaak deur ‘n avokadopeer te verpulp en dan lemmetjiesap en heuning by te voeg.

Die huis van die Khumars.

Met Kersfees is ek na die Khumars op die eiland Adavaci. Vir ons Kersete het ek ‘n hoendergereg gemaak wat hulle verslind het. My vla en jellie moes ons maar drink, want dit het in die hitte gesmelt en mev. Khumar besit nie ‘n yskas nie. Dit was wonderlik om hul uitdrukkings te sien nadat ek aan elkeen ‘n geskenk oorhandig het. Sy het genoem dat hulle ook Christene is, maar dat dit die eerste keer is dat hulle geskenke tydens Kersfees ontvang. Ek was bevoorreg om iets met hulle te kon deel wat ons soms as vanselfsprekend ervaar.

Links: Die huis van die Khumars.

Ek hoop julle het die uittreksels uit my dagboek geniet. Dit was ‘n uitsonderlike tyd in my lewe en ek sal dit altyd onthou.

  • Nicolene

    Wonderlike, wonderlike stories!

  • saki marais

    lyk rerig soos ‘n droom. daai foto’s is onglobaar mooi!