FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

My kind

20 dinge wat jy oor outisme moet weet

Outisme neem toe en hierdie 20 dinge sal jou kennis oor dié afwyking vinnig verbreed – veral as daar dalk ’n outistiese kind saam met jóú kind in die klas is.

Mense sê hulle verstaan outisme. Maar voor jy nie self so ’n kind het nie, weet jy nie waarvan jy praat nie, sê Annalies van Rijswijk, direkteur van SNAP (Special Needs Adapted Program) in Durbanville.

So ’n kind is emosioneel en fisiek uitputtend. Dit verander ’n gesin se lewe ingrypend. Intensiewe terapie stel ook hoë eise aan ouers se tyd en geld. En die ouers word oral gekritiseer.

20 dinge wat jy oor outisme moet weet

1. Taal

Sowat 40% van mense met outistiesespektrumafwyking (OSA) leer nooit praat nie. Selfs dié wat kan praat, sukkel dikwels om ’n gesprek te begin en dit te laat vlot. Hulle sal met gebare, eerder as woorde, kommunikeer.

2. Sosiale interaksie

Omdat hul brein abnormaal funksioneer, kan hulle nie ander mense se emosies, liggaamstaal en die kompleksiteit van sosiale verhoudings verstaan nie (mind blind). Hulle tree dikwels onvanpas in verhoudings op, wat hulle sosiaal kan isoleer. Dit lyk dikwels asof hulle ander meestal ignoreer. Baie speel as kinders nie met maatjies nie.

3. Verbeelding

Hulle kan nie abstrak dink nie en is gewoonlik vasgevang in rigiede denkpatrone, belangstellings en gedrag. Hulle het geen of ’n beperkte verbeelding. En ’n swak of geen begrip nie van vreemde konsepte, kliektaal, idiome, ensovoorts. Hulle neem alles letterlik op.

4. Sensoriese ervaring

Hul sintuie is oorsensitief; of dalk na die ander kant toe, hulle soek sensoriese stimulasie. Omdat die eerste groep se sintuie so verskerp is, kan die omgewing hulle maklik met pynlike gewaarwordinge oorweldig, wat tot vreemde reaksies en gedrag kan lei. Soos in ’n besige supermark/nagklub met harde musiek, ligte wat flikker, mense wat rondmaal, skerp reuke, ensovoorts. Dis die kind wat sy ore toedruk elke keer wanneer ’n vliegtuig oor die huis vlieg.

As gevolg van sintuiglike sensitiwiteit, het hulle dikwels ook kos-fiemies. Die sensories soekende kind is egter dolgelukkig as die radio, TV, grassnyer, stofsuier, alles gelyk aan is.

Nog 16 vinnige feite

  • Geen gesigsuitdrukkings en/of eentonige stemtoon
  • Ontwikkeling van spraak stadig, of praat glad nie
  • Reageer nie as jy met hulle praat nie, lyk doof
  • Lyk asof hulle in ’n wêreld van hul eie leef
  • Maak min of geen oogkontak
  • Verkies om op eie te speel
  • Swak verbeelding, sukkel om self met verbeelding-speletjies te vermaak
  • Swak verbeelding, sukkel om self met verbeelding-speletjies te vermaak
  • Onder-/hiperaktief
  • Fokus op detail
  • Het skynbaar geen vrees vir gevaar. Kan lei tot ongelukke, ernstige beserings, voortydige dood
  • Herhalende en/of obsessiewe gedrag, soos deure oop- en toemaak, ligte aan- en afskakel
  • Gedra hulle eienaardig, wieg heen en weer, wapper hande, tol voorwerpe in rondte (stimming)
  • Gedrag waarmee hulle hulself beseer, bv. kopstamp, byt, krap
  • Haat verandering in roetine/omgewing. Soek die voorspelbare
  • Abnormale slaap- en/of eetpatroon

Nóg in die My Kind-afdeling op SARIE.com