FOTO: Phyllis Green

My kind

Aan hoeveel tegnologie mag my kind blootgestel word? Minder as wat jy dink!

Dis maklik om strokiesprente op die TV aan te sit of om jou kleuter ’n iPad in die hand te stop om hom of haar besig te hou. Maar selfs opvoedkundige tegnologie kan ’n negatiewe effek op jou kind hê as hulle té veel blootstelling hieraan kry, berig Huffington Post.

Volgens die Amerikaanse Akademie vir Pediatrie behoort kinders onder die ouderdom van 2 jaar glad nie aan tegnologie blootgestel te word nie – nie eens aan ’n televisie wat op die agtergrond speel nie. Tog kyk babas onder 2 jaar ’n gemiddeld van meer as 2 ure per dag, beweer dié instelling.

Kinders tussen 3 en 5 jaar moet beperk word tot 1 uur tegnologie per dag en kinders tussen 6 en 18 jaar oud mag daagliks 2 ure se tegnologie inkry. Dit is nou enigiets van TV-kyk tot rekenaarspeletjies én selfone.

Hierdie riglyne is ontwikkel deur die pediatriese arbeitsterapeut Cris Rowan; dr. Andrew Doan, ’n neurowetenskaplike; en die pediatriese instellings van Amerika en Kanada. Dié riglyne is gepubliseer op Zone In, Cris se organisasie wat beoog om kinders op te voed sonder die hulp van tegnologiese hulpmiddels.

Navorsing op 4-jariges

Volgens ’n studie wat deur die Joernaal van die Amerikaanse Akademie van Pediatrie gepubliseer is, kan 9 minute se hoëspoed-tekenprente op die televisie ’n onmiddellike negatiewe uitwerking op 4-jariges se kognitiewe funksies hê. Dit beïnvloed spesifiek die deel van hul brein wat gebruik word vir beplanning, organisering en om detail te onthou (die executive function). Lees die volledige studie hier.

Geen selfone vir kinders jonger as 12 jaar

Nog een van Cris se aanbevelings is dat kinders eers ná die ouderdom van 12 aan selfone en ander draagbare toestelle blootgestel word. Die sterkste argument teen selfone by jong kinders is die effek van die radiogolwe waarmee selfone werk.

Maar kenners, onder meer dié van die Amerikaanse gesonheidswebblad Web MD, meen daar moet nog eers baie navorsing gedoen word voordat daar met sekerheid gesê kan word dat radiogolwe ’n impak op ’n groeiende brein het. Lees meer oor die navorsing hier.

Ouers moet wel in ag neem dat selfone dalk kinders se slaappatroon kan beïnvloed wanneer hulle met die foon langs hul bed slaap en hulle snags nog boodskappe ontvang.

Verslawing

Volgens Zone In se feiteblad kan kinders van selfs 4 jaar oud reeds verslaaf raak aan ’n tablet of ’n slimfoon as hulle gereeld toegelaat word om daarmee te speel.

’n Verslawing aan rekenaarspeletjies kan depressie, angs en swakker skoolprestasie tot gevolg hê, luidens ’n studie wat in die Joernaal van die Amerikaanse Akademie van Pediatrie gepubliseer is.

CBC News berig dat jong volwassenes in China, Brittanje, Uganda en Chili gesukkel het om vir slegs 24 uur van hul slimfone, rekenaars en televisies af weg te bly. Baie van die jongmense wat aan die studie deelgeneem het, het erken dat hulle afhanklik, en selfs verslaaf, aan hierdie tegnologie is.

Internet-gebruiksteuring (Internet Use Disorder) is nog nie in die sielkunde-handboeke soos die DSM (The Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders), opgeneem nie, maar die feit dat dit sterk oorweeg word, bewys dat ’n verslawing aan die internet beslis  bestaan. Volgens Forbes is die gevaartekens hiervan onder meer onttrekkingsimptome, toleransie (die behoefte aan meer en meer blootstelling ten einde dieselfde bevrediging te verkry), verminderde belangstelling in ander aktiwiteite en onsuksesvolle pogings om op te hou. Lees die volle artikel hier.

Voordele van tegnologie by jong kinders

Natuurlik hou opvoedkundige iPad-speletjies en opvoedkundige televisie baie voordele vir jong kinders in. Ouer kinders kan weer baat vind by tegnologie vir hul skoolprojekte, en ’n selfoon maak hul bereikbaar vir ouers en vriende.

Cris se aanbevelings

Dít is die aanbevelings wat Chris op Zone In se webtuiste geplaas het.

zone in

Wat dink jy? Behoort kinders so min blootstelling aan tegnologie te kry soos wat Cris meen? Of is daar meer waarde in tegnologie as kwaad? Lewer jou kommentaar hieronder of op ons Facebook– of Twitter-blad.

Bronne: Zone In, Huffington Post, Joernaal van die Amerikaanse Akademie van Pediatrie