My kind

Nuwe blog: “Daar is ‘n tiener in my huis”

Carollize is ‘n enkelma van drie, en sy bly in die Kaap. Haar tienerseun, Andrew, begin nou al die ongemaklike vrae vra en sy moet daarvoor pa staan. Tussendeur word daar ge-WhatsApp en hartsake gedeel. Volg Carollize en haar tiener se reis deur sy 14de jaar. 

(Foto ter illustrasie)

Lees van onder af indien dit jou eerste keer is

14 Julie 2014

Dis skoolvakansie. Ek weet nie van julle nie, maar dit bly vir my (desnieteenstaande die belofte wat die woord inhou) die rofste tyd in die jaar. Ek werk voltyds en moet die kinders sinvol probeer besighou in my afwesigheid. Ek kan letterlik nie wag vir die skool om weer te begin nie.

Gelukkig is daar vir 2 jaar al ’n staande tradisie: Ouma en Oupa kom gedurende die wintervakansie by my bly om na die drie bloedjies te kyk en seker te maak hulle brand nie my huis af nie. En so is dit weer hierdie vakansie – Oupa en Ouma het hulle intrek in Durbanville geneem – met hulle goue spanjoel.

Oupa se dagtaak bestaan uit koerant-lees, briewe skryf aan die koerant in protes oor iets wat weer alle moraliteit of logika te bowe gaan, kaggel maak en met die seuns te speel.

Ouma se dagtaak bestaan uit kos kook, brei, kinders se broeke korter maak, knope vaswerk, die tuinman touwys maak, en die kinders sagmoedig bearbei, en soms minder sagmoedig as hulle aan die baklei raak.

My ‘great dane’ hond, Floyd, kry nie genoeg van die goue spanjoel nie. Hy karnuffel haar behoorlik – los haar nie vir ‘n oomblik uit nie.  Elke nou en dan hoor jy net ’n skerp huil wanneer hy te hardhandig met haar te werk gaan.

Die kinders se niggie (nou Graad 1) het ook kom kuier vir ‘n week. Lily het dan haar tannie gebel om te sê Ouma is hier en dat Carli moet kom kuier. Hulle speel en baklei om die beurt, maar is oor die algemeen ‘n  plesier.  Hulle vermaak hulself in Lily se kamer. As ek gaan loer, speel hulle in Sondagrokkies en my ou hoëhakskoene “mevrou-mevrou”. (Vir die wat nie in die 70’s grootgeword het nie, dis ’n speletjie waar dogtertjies soos grootmense aantrek en hulle verbeel hulle kuier saam by teepartytjies of in koffewinkels en deel kwansuis al die nuutste gebeure, kwale en klagtes.)

Die seuns aan die ander kant is ’n heel ander storie. O my goeiste! Andrew spandeer die meeste van sy tyd op sy PSP (’n draagbare Playstation), en Etienne die meeste van sy tyd in die garage of buite in die tuin. Maar o wee, as hulle per ongeluk onder mekaar se voete beland, spat die vonke. Andrew kan mos eenvoudig nie ‘n geleentheid laat verbygaan om sy broer te treiter of ‘n naam toe te snou nie. So moes Oupa en Ouma al by menige geleentheid die twee uitmekaar hou en forseer om vrede te maak.

Etienne – my buitelugkind. Hy spandeer gewoonlik sy sakgeld by Builders’ Warehouse, Outdoor Warehouse en Spiro’s, dis nou te sê dit wat hy nie uitdeel nie (goeie Samaritaan). Hy het al genoeg toue bymekaar gemaak om ons hele huis te anker in geval van ’n orkaan. As ek in die middae by die huis kom, hang hy in ’n harnas aan ’n paar toue uit die groot boom in my voortuin. Floyd hardloop onder heen en weer – bitter bekommerd oor die outjie bo in die boom.

Arme Aletta wat die huis probeer skoonkry en wasgoed probeer was en stryk is moedeloos. So gou soos sy probeer opruim, krap almal weer deurmekaar – Oupa se koerante wat oral lê, leë koffiebekers (hoekom moet hulle elke keer ’n skoon beker uit die kas haal?), leë glase (dieselfde vraag as by die bekers), en eierdoppe en broodkrummels van die vele maaltye wat deur die loop van die dag genuttig word.

Andrew glo mos dat mens ’n 4de volledige maaltyd moet nuttig tussen middag- en aandete. Dit bestaan gewoonlik uit visvingers en Two Minute NoodlesWhere does he put it all? My ma waarsku gedurig dat hy op ’n stadium gaan ophou groei in lengte en dan sy moses gaan teëkom as hy sywaarts begin groei.

Dan wil ek nie eers oor die magdom wasgoed praat nie. Hoekom moet hulle drie maal ’n dag aantrek en is al die klere dan vuil? Nee, hulle is eenvoudig net te lui om dit op te vou of op te hang. Arme Aletta!

Maar gister het hulle saam met Oupa en Ouma see toe vertrek vir die week. Watter saligheid – die stilte wat in die huis hang. Dis net ek en Floyd. Ek kan rustig TV kyk, boek lees en brei. “Mamma!” weergalm nie meer in my huis asof dit ’n treffersnit op repeat is nie.  Daar is net … stilte.

Elke kind is hier weg met een sportsak vol klere, behalwe Etienne wat ’n tweede sak saamgeneem het vir sy harnas, toue en valhelm. Daar is mos hoë mure wat geklim moet word by die huis by die see. Het hulle genoeg warm klere ingepak? Ek hoop so. Etienne sal maklik die hele week dieselfde kortbroek en T-hemp dra – skoene is mos vir mense wat gaan werk, en langmouklere vir mense wat koud kry. Andrew se hele kleretas is gevul met klere wat uit die wasgoedmandjie kom, wat my teorie bewys aangaande skoon klere in die was. Toe daar gepak moes word, was daar eenvoudig niks in sy kas oor nie.

Nou wag ek. Ek wag vir die stilte om te veel te raak vir my. Ek wag vir die “mamma!” om te dof te raak om te hoor in my geheue. Ek wag vir die verlange om weer hulle asems en lyfies in die huis te hê. Ja, maak nie saak hoe gek hulle jou maak by tye nie, sonder hulle kan of wil ’n ma nie wees nie. Mens voel eenvoudig nie heel nie.

Carollize

22 Mei 2014

Gister was weer een van daardie dae wat ek my doeltreffendheid as ouer moes bevraagteken.  Eintlik het ek gedink ek vaar redelik goed, tot gistermiddag sy opwagting gemaak het…

Aangesien ek voltyds werk (iets wat ek baie geniet en ook moet doen om myself en die drie bloedjies aan die lewe te hou), is ek bevoorreg genoeg om ’n au pair te hê wat die kinders rondry na buitemuurse dinge en help met die huiswerk. Ek moet sê dat die onderhoud wat ek van die vaderfiguur ontvang net mooi genoeg is om haar salaris te betaal, maar ek doen dit met ’n glimlag op my gesig.

Hoe op dees aarde sou ek andersins dit regkry om al drie rond te ry na perdry, hokkie, rugby, netbal, drama, orkesoefening en dan nog help met huiswerk, take, mondelinge, toetse en eksamen?

In elk geval, terug na gistermiddag. Daar was ’n paar goed wat gister moes gebeur: ek dreig nou al vir die afgelope week om Lily (een van ‘n tweeling) vir haar inenting te neem, Etienne (ander helfte van die tweelingpaar) moet by ’n rugbywedstryd wees by ’n ander skool, en Andrew (my oudste) moet by sy orkesoefening wees. Die seuns het wintersklere nodig, en iewers tussen dit alles moet ek weer by die kantoor uitkom om ’n paar goedjies klaar te maak.

Etienne moes vertrek vir die rugby voordat die skool uitkom en sou die hele middag daar moes wees.  Die au-pair was die aangewese persoon wat dit sou hanteer.  Uit die aard van die saak sou iemand die ander twee by die onderskeie skole moes gaan optel, en dan weer sorg dat die oudste, Andrew, ’n uur later by die skool terug is vir sy orkesoefening.

Nadat ek vir Lily by die laerskool optel 14:10, dink ek daar is mos genoeg tyd om haar gou vir haar inenting (nuwe inenting vir dogtertjies teen servikale kanker) te neem by die apteek voordat Andrew se skool 2:30 uitkom. Dit was ’n baie optimistiese gedagte, want die suster by die kliniek is toe besig en ons moet wag. In ieder geval, ek is toe 10 min laat om Andrew te kry.

En, wat is die eerste ding wat jy hoor as hulle in die motor klim? Ons is honger! Ek stop gou by Checkers in die dorp en kry vir hulle kos by hulle deli, toe ek onthou dat ek ook nog vir die tuinman middagete moet kry. My yskas is leeg en hy seker al flou van die honger.

Almal smul. Ek het goed gedoen. ’n Klein oorwinning, maar ’n oorwinning desnieteenstaande.

Ek ry terug hoërskool toe om vir Andrew by die orkesoefening af te laai, en neem sommer vir Lily saam kantoor toe, sodat ek ’n laaste paar dinge gedoen kry, voordat ek weer oor ’nuur vir Andrew moet optel.  Alles verloop sover volgens plan.

Terwyl ek by die kantoor sit, onthou ek dat my liewe Etienne gister vir my ’n whatsapp-boodskap gestuur het wat as volg lees, and I quote: “Mamma kan ek asb ‘n nuwe skoolbroek kry. My broek het guster in die klas geskuur”.

Soos die duiwel dit wil hê, lig my kind my toe in dat hy slegs een skoolbroek het. Dit verbaas my eintlik nie, want hy is nooit gepla in watter toestand sy klere is, of wat hy dra nie. So, dit maak seker sin dat hy nou al vir meer as 6 maande met een skoolbroek aankarring.

Ieder geval, ek dink toe dis ’n blink plan dat ek sommer vir die kinders saamneem winkels toe (na Andrew se orkesoefening) om nie net skoolbroeke nie, maar ook ’n paar ander stukke klere vir die winter te gaan kry  En dis presies waar die moeilikheid begin!

Ek is laat om vir Andrew by die skool te gaan haal. Ek het reeds drie whatsapp-boodskappe gekry om te vra waar is ek. Op pad hoërskool toe bel ek vir Ester (die au-pair) en vra dat sy sommer vir Etienne (wat nou al terug is van die rugby af) bring tot by die hoërskool, waar ek dan almal in my kar kan laai en die stuk afsit Tygervallei-sentrum toe.

By Tygervallei aangekom is Andrew voor in die koor met sy winterskledingbehoeftes. Hy stap sommer vooruit na Cotton On, want hulle klere is “só cool”. Die skoolbroeke is eers vergete. In Cotton On is my tienerseun gefasineer deur alles wat hy sien en moet ek net bontstaan en darem tussen deur die pryse ook te check.  Mamma het immers ’n begroting!  Na omtrent ’n uur verlaat ons die winkel met twee sakke vol klere.

Nou vir die skoolbroeke. Ackermans het geen kort skoolbroeke nie. Kleinboet hou nie van die beperking wat ’n langbroek op hom sit nie. Volgende op die lys: Woolies. Andrew begin geïrriteerd geraak.

By Woolies aangekom vind ons weer eens uit dat daar geen kort skoolbroeke is nie, maar Andrew sien ’n paar skoene wat hy móét hê. Ek soek skoolbroeke en jeans vir my jongste. Andrew raak toenemend geïrriteerd en artikuleer op hierdie stadium baie duidelik hoe hy voel oor die feit dat ons nog nie klaar is nie. Hy het mos nou sy klere! Die selfsug (me, myself and I) van die tieners verstom my. Was ek ook so?

Uiteindelik is alles gekoop en ons kan huis toe gaan. Dis 7-uur en ek moet nou gaan kos kook, Andrew moet leer vir ’n NW-toets, Etienne moet leer vir ’n speltoets, en hulle moet regmaak vir bed. Ek besef dat my kinders nie 20h00 hulle beddens gaan sien nie, en neem maar verlief daarmee.

Ek kook spaghetti bolognaise, almal eet, en 8:30 daal daar ’n rustigheid oor my huis neer.

Ek het steeds nie die skoolbroeke nie.  Etienne gaan maar nog ‘n dag met sy “geskuurde” broek moet skool toe gaan…

2 April 2014

Ek is die ma van ‘n 14-jarige seun. Need I say more…. Maar Andrew is my hart se punt.  Hy is die oudste van drie kinders, en nét anders. Sy geboorte was ‘n moeilike een, as baba was hy moeilik (en ja, daar was dae wat ek hom wou weggee), en ja, jy het reg geraai, hy is ‘n moeilike tiener.

Tussen sy aanhoudende geterg van sy jonger boetie, sy woede-uitbarstings oor niks, sy kieskeurigheid oor wat hy aantrek én wat hy eet en sy eiewys maniertjies, weet ek baie dae nie of ek eers nodig is in die huis nie.

Andrew het laasweek 14 jaar oud geword, en is uit die aard van die saak verskriklik trots daarop. Hy is blykbaar nou ‘n “grootmens” en praat van sy tweelingboetie en -sussie (11 jaar oud) as die kinders. Hy is dié jaar hoërskool toe en geniet hom gate uit… Dis hokkie en drama, en meer onlangs, die tromme (in die skoolorkes). Genadiglik het hy het vir die eerste keer sy akademiese voete gevind en het in die eerste kwartaal nogal nie sleg gedoen nie. Jy moet verstaan, hierdie kind van my is slim genoeg om presies te weet wat die minimum insette is wat benodig word om net te slaag.

Dit gesê, die belangrikste deel van my kind se lewe in hierdie stadium is sy meisie. Kalwerliefde is darem beautiful. Hy is vreeslik down omdat hy die hele vakansie saam met sy ouma en oupa in Bettysbaai moet deurbring en nie sy meisie kan sien nie.

Verder word daar aanhoudend ge-WhatsApp, soveel so dat ek nou al die maandelikse lugtyd moes aanvul. My oog het so per toeval een van die boodskappies raakgesien toe hy my foon moes gebruik (dit was voordat ek die lugtyd aangevul het), en ek was so aangedaan toe ek lees: “Kan ons môre weer hande vashou?” My ma-hart sug, want onthou ek nie die intense lekkerte van kalwerliefde maar alte goed nie.

Nou die aand toe ons terugry huis toe ná die verjaardagviering in ‘n nabygeleë restaurant (ons bly in Durbanville in die Kaap), word ek ewe onskuldig in die motor gevra: “Wanneer mag mens ‘n meisie soen?”

Nou ja, die ongemaklike vrae het begin…

Sien, ek is ‘n enkelma en moet letterlik pa staan vir al die vraagstukke.  Al die “ek wonder of…”, “ek het gedink…”, en “hoekom is dit so dat…” is nou my verantwoordelikheid om te beantwoord.

Hoe maak ek seker dat my antwoord tegnies korrek is, ons gesin se waardes weerspieël, die kind se selfvertroue en onafhanklilke denke stimuleer, en terselfdertyd cool genoeg is om te verseker dat hy met sy toekomstige vrae weer na my sal kom vir die antwoord.

So, wat dus soms ongemaklike vrae is, is eintlik ‘n wonderlike herinnering daaraan dat jou kind jou genoeg vertrou en ag om die vrae aan jou te stel. Ja, al wil hy aan die ander kant van die straat oorkant die skool afgelaai word, en al mag ek nie uit die kar klim nie, dink my kind steeds ek is cool genoeg om sy hartsgeheime mee te deel…

Carollize