My kind

My seun is gay

Hy sê hy stel glad nie belang in meisies nie (hy het probeer), maar voel sterk aangetrokke tot een van sy seunsmaats. Hy sê dis nie ’n fase nie. Dit was ’n moeilike, emosionele gesprek, ’n groot skok, maar as hy seker is, aanvaar ek dit. Ek wil hom nie verloor nie, maar my man sal dit nooit aanvaar nie en waarskynlik sê ek het hom opgepiep. Wat moet ek doen?

KENNERS GEE RAAD

[box:full:grey:both]

Dr. Jean du Plessis, kliniese sielkundige van die Strand en skrywer van Oor gay wees (Tafelberg, 1999)

[/box]

 

Soms gaan tieners deur ’n fase van onsekerheid oor hul seksuele oriëntasie, maar as hulle daaroor begin praat, is hulle gewoonlik seker. Jou seun stel dit as ’n gegewe. Kunssinnigheid hou nie noodwendig verband met gay-wees nie.

Die meer deurslaggewende faktor: Meisies het vir hom geen seksuele aantrekkingskrag nie, maar sy seunsvriend wel. Sy spontane innerlike belewing is hier belangrik.

Seksuele oriëntasie is aangebore en waarskynlik geneties vasgelê. Jul verhouding met hom beïnvloed dit nie. Selfs “oppiep” kon hom nie gay gemaak het nie. ’n Ma het dikwels wel ’n beter verhouding met ’n sensitiewe seun omdat sy hom van kleintyd onbewustelik beskerm teen ’n pa wat dalk sy selfbeeld afkraak om van hom ’n “man” te maak.

Dis ’n kompliment dat hy sy diepste wese teenoor jou ontbloot het. Maak seker hy weet jy het hom lief soos altyd en jy ondersteun hom onvoorwaardelik. Wees daar, sonder om heeltyd op die “probleem” te fokus.

As jy jou man se reaksie reg voorspel, is die probleem hier sy homofobie. Dis dalk goed om eers beter ingelig en voorbereid te wees, sodat jy jou man kan help om dit in die regte perspektief te sien.

Niks kan jou seun sen gay-wees verander nie. Dis deel van die kern van sy menswees. Aanvaarding is ’n proses. Terapie kan hom help om meer vrede in sy gemoed te kry en om die stres wat met andersheid gepaardgaan, te leer hanteer. Julle as ouers kan ook baat vind by ’n paar sessie by ’n sielkundige met ervaring hiervan.

[box:full:grey:both]

Adéle Lottering, voorligtingsielkundige van Pretoria

[/box]

 

Julle twee deel duidelik ’n kosbare vertrouensverhouding. Jou seun voer waarskynlik al lank ’n innerlike stryd, en kon ten spyte daarvan dit waag om so ’n sensitiewe onthulling aan jou te maak. Fokus liefs op jul positiewe band.

Jou seun is nou in die adolessente ontwikkelingstadium. Dis nou vir hom belangrik om sy identiteit te vestig. Onsekerheid oor seksualiteit is in dié fase ’n normale tendens.

Die band tussen ma en seun verskil radikaal van dié tussen pa en seun. Jou en jou man se perspektief sal dus verskil. Dit kan ’n uitdagende faktor in jul huwelik wees. Moenie middelman speel nie – ondersteun eerder jou man én jou seun. Dis jou seun se verantwoordelikheid om dit aan sy pa te onthul.

Daar’s nie kitsoplossings nie. Besef dat jy in ’n rouproses is. As kinders soms besluite buite hul ouers se verwagtings of drome neem, kan dit voel asof die ouers hul kind verloor. Emosies soos woede, skok, ontkenning en bevraagtekening is normaal.

Moedig jou seun aan om by ’n psigo-terapeutiese proses in te skakel vir ondersteuning en leiding. Vra oop, eerlike vrae en bespreek praktiese kwessies en grense. Kommunikeer met hom vir beter begrip, nie om hom te verander nie.

Jou primêre doel as ouer is om jou kind onvoorwaardelik lief te hê en te aanvaar, om sy regte te erken en sy positiewe kwaliteite te beklemtoon. Beskou dit as ’n groeiproses in jul verhouding en gesin, om sterker anderkant uit te kom.

[box:full:grey:both]

Tanya Vandenberg, Gautengse aanbieder van GPS-lewensvaardigheid-programme vir tieners

[/box]

 

Weet jy regtig dat jou man hom sal verwerp? ’n Deel van hom het tog seker oor die jare gesien dat sy seun verskil van sy verwagtinge? Eendag sal hy moet weet. Daardie oomblik sal aanbreek as jul seun werklik gereed is om die probleme in hul verhouding wat dalk deur dié openbaring veroorsaak kan word, in die oë te kyk. Intussen doen jy wat jy moet doen: jy staan by jou seun, respekteer sy keuse en gee hom die vryheid om te besluit wie hy is en wat hy wil hê, al is dit vir jou swaar. Ongeag die toekoms sal dít hom selfvertroue en krag gee om die man te word wat hy wil wees.

Vir hulp, skakel Jean 021 853-2004; Adéle 083 279 2325; Tanya 011 782-6991

  • Carina van Rensburg

    My dogter van 26 jaar is ook gay. Van kleins af was dit net "shorts en t-shirts" ek kon haar nooit in ‘n rok kry nie. Sy het "uit die kas geklim" toe sy 19 was, maar net teenoor my. Haar pa is oorlede toe sy 5 jaar oud is. Ek kon dit nie aanvaar nie. Wat het ek verkeerd gedoen? Het altyd die ander kant van die familie verwyt want daar is beslis ander gays onder hulle. Met ‘n skok het ek uitgevind dit kom van die XX kromosone van my af. My man, haar stiefpa, het haar afgeskryf en sy wil so graag net aanvaar word.

    Ek ondersteun haar en haar lewensmaat. Maklik met haar was dit nie. Sy was in ‘n rebelse stadium waar dit drank en ongelukke was. 2 Motors in een jaar afgeskryf. Toe ontmoet sy haar lewensmaat. Wat ‘n wonderlike meisiekind. Waar ek altyd met my selfoon gaan slaap het vir "daardie oproep: Ma ek was in ‘n ongeluk" gebruik ek dit nou vir my wekker.

    My vriendin se seun was ook gay. Hy het Desember 2008 dit erken en sedertdien het hy en sy pa nie met mekaar gepraat nie. Hy het op sy verjaardag doodverongeluk, ook op daardie rebelse stadium. Sy pa het hom laaste lewend gesien. Mag die Here gee dat hulle vrede gemaak het.

    Liewe medelesers met gay kinders: ondersteun hulle. My dogter het vir my gesê: "Dink mamma dit is lekker om deur almal verwerp te word? Dink Mamma nie ek wil normaal wees en ook kinders hê nie?" Ek het haar lief. Sy het ‘n goeie hart. Sy is gelowig en doen net goed.

    ‘n Artikel in die Vroue Keur van Maretha Maartens het my oë oopgemaak en laat besef dat dit nie ‘n keuse is nie. Hoe kan jy as vrou/man een oggend wakker word en besluit: "Nou gaan ek vir dieselfde geslag"? Onmoontlik.

    Wees lief vir hulle en aanvaar hulle. Dit is die kinders wat na jou gaan omsien die dag as jy oud is.

  • Corrie vd Merwe

    Corrie vd Merwe
    Ek is ‘n ouer wat ook ‘n gay seun gehad het. Wat ‘n wonderlike kind was dit nie. Hy het net altyd goed gedoen aan ander. Ongelukkig het hy nooit aan ons dit geopenbaar nie, maar ek as ma het dit al van kleintyd af geweet.Ek dink dat my man ook geweet het maar ons kon dit nooit aan mekaar erken nie. Ek was altyd te bang dat my man hom sal verwerp. In sy matriekjaar het my man eendag aan hom ‘n snedige aanmerking gemaak. Dit het veroorsaak dat my seun en man toe nog verder van mekaar verwyder was.In desember na sy eerste jaar op universiteit het hy dood verongeluk op pad huistoe. Dit het veroorsaak dat ek en my man totaal en al van mekaar weggedryf het. My man het homself verwyt tot en met Nov 2003 toe dit vir hom net te veel geword het en hy selfmoord gepleeg het. Dit is nie die moeite werd om jou kind te verwyt nie, glo my hy word so gebore. Ek het die helse stryd gesien wat my kind gestry het, dit het my gebreek om hom so hartseer sy lewe lank te moes sien. Lees ‘n Kas is vir Klere deur Pieter Cilliers dan sal jy verstaan wat so ‘n persoon moet deurgaan. Moenie jou kind wegstoot nie, vat hom eerder in jou arms en ondersteun hom.
    My wonderlike kind is al 12 jaar dood en ek mis en huil nog elke dag oor hom. Jou gay kind is net so ‘n Godgeskape mens soos ek en jy wees lief vir hom en se dit vir hom. Dit was baie erg om my man so te sien ly en daar is niks wat ek vir hom kon doen nie. Want my seun was nie meer met ons dat hy dit kon regstel nie. WEES ASB BAIE LIEF VIR JOU GAY KIND HY IS BAIE BAIE BESONDERS. 23/12/2009

  • Retha

    Wat maak gay-wees n groter sonde as ander sondes? Aanvaarding bring heling net soos vergifnis vrymakend is. Ouers,familie en vriende moet besef: dit gaan nie oor hulle nie, leef die Nou, leef die pad,al het dit opdraandes. Leef dit met blydskap,want as jy die trane droog, sal jy die liefde weerkaats en terug gekaats as troos verkry.
    Ons kry krag na kruis altyd.Sterkte, mede ouers!

  • aoPol6 kaivzavsuawb, [url=http://mkvebioyguwf.com/]mkvebioyguwf[/url], [link=http://hiyitvufjmhu.com/]hiyitvufjmhu[/link], http://wiqbjgwxyebc.com/

  • Carine Ebersohn

    Ek is gay en het nooit verhoudings gehad nie tot 5 jaar gelede wat ek n wonderlike vrou ontmoet het wie my laat besef het wie en wat ek is nie. Ons is intussen uitmekaar maar my ouers en familie het my verras en my aanvaar soos ek is. Wat n wonderlike wete dat mense my so lief het dat dit wat ek is vir hulle nog steeds goed genoeg is. Aanvaar jou kind/ers soos hulle is. Dit kan dinge net vir al die partye soveel makliker maak.

  • Wilna

    My seun was destyds 18jr oud toe ek ‘n sms op sy foon gelees het dat hy mans tussen 18 en 20 soek. Die skok was onbeskryflik en ek het hom gekonfronteer waarop hy erken het dat hy gay is maar nie geweet het hoe om dit vir my te se nie. Baie dae en baie trane later het ek tot ruste gekom en hom begin aanvaar vir wat hy is. Dis soos hy vir my gese het "Ma, ek is nog dieselfde mens, dis net my seksuele orientasie wat verskil". Dis bitter bitter moeilik om te weet ek gaan nooit die vreugde van Ouma-wees ervaar nie, maar ek het berus. Geen pil/inspuiting/dokter/Sielkundige/Pastoor of Priester kan dit regmaak nie. Hy is wat hy is en nogsteeds die wonderlike seun wat ek van sy geboorte af ken.

  • CARLIEN

    EK HET N VRIENDIN WAT ONLANGS UITGEVIND HET HAAR SEUN IS GAY. DIS VIR HAAR EN HAAR MAN BITTER MOEILIK OM DAARMEE VREDE TE MAAK. MY RAAD AAN HAAR WAS DAT SY HAAR KIND MOET AANVAAR VIR WIE EN WAT HY IS WANT DIS VIR HOM NOG BAIE MOELIKER AS VIR HULLE OM DAARMEE VREDE TE MAAK. SY IS EN BLY MY VRIENDIN ONGEAG HAAR SEUN SE KEUSES. EK IS NET SO LIEF VIR HAAR SEUN OOK EN AANVAAR HOM 100%. VIR MY IS DAAR NIKS ABNORMAALS DAARAAN NIE. GAY MENSE SKEI NIE N VREEMDE REUK AF OOR HUL SEKSUELE VOORKEURE VERSKIL NIE MENSE. JY SAL OOK NIE AANSTEEK NIE, ONTSPAN! EK HET BAIE GAY VRIENDE EN IS VIR ALMAL OPREG LIEF. VIVA GAYS! EK BAKLEI SAAM MET JULLE VIR JULLE REGTE.

  • Skulpie

    My seun het ook 3 jaar terug aan ons bekend gemaak dat hy gay is. WAT `N SKOK!!!!!! Ek en my man kan dit nou nog nie aanvaar nie. Ons het so plus minus 7 maande bykans geen kontak gehad nie. Des 2007 het ek my man gevra of ons hul vir kersfees huis toe kan nooi. My kind het dit so waardeer en die kersfees geniet. Dis so moeilik om vrede te maak hiermee. Die seerkry in jou man se oë, jou eie geweldige seer, dae wat jy eenvoudig net nie kans sien vir die lewe nie – Hoe moet ons hier oor kom? Ons kuier gereeld oor en weer, maar daar is tog `n effense afsydigheid. Ek het vir 3 jaar sonder medikasie uitgehou, maar nou gebruik ek `n anti depressant. Ek weet hy bly nog dieselfde bedagsame kind. As mens so na hom kyk sal jy sê `n regte man. Geen verfyndheid nie. Ag ek weet nie eks op `n slegte plek in my lewe. Ek weet nie hoe om vrede te maak en te aanvaar nie. Bid asb vir ons.

  • HmwHUX axdmrhhnwrhv, [url=http://owptdjvdgwut.com/]owptdjvdgwut[/url], [link=http://pjxygtjpewge.com/]pjxygtjpewge[/link], http://dgnoehvbmffw.com/