sr1211my_kindlowres
My kind

Gaan my kind werk kry?

Jy wroeg saam met jou 
kind deur die matriek-eindeksamen. Met dít agter die blad, lê die groot besluit voor: wat gaan hy ná skool doen om hom te kwalifiseer vir ’n loopbaan?

En hoe weet julle of hy eendag gaan werk kry daarmee?

Die koerante is propvol syfers wat jou keel laat toetrek. Volgens die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) in Johannesburg is daar op die oomblik 4,5 miljoen werkloses. En sowat 600 000 van hulle is gegradueerdes, volgens die arbeidsekonoom Loane Sharp van Johannesburg.

Ouers is tereg bekommerd. Op ’n vraag hieroor op SARIE se Facebook-blad was die reaksie oorweldigend.

Talita Pacé skryf: “My seun het argitektuur 
gaan swot, kon geen 
werk kry nie en het op 
die ou end ’n supermark-kassier geword.”

Joey Grundling verwoord haar kwelling so: “My seun het ’n LL.B-graad en sukkel steeds om werk te kry. Firmas wil nie meer klerke inneem nie, want hulle sny koste. Hy sal enigiets doen.”

En Charlene Saayman voeg by: “My matriekdogter gaan volgende jaar in die onderwys studeer. As dit so uitdraai, moet sy maar vir haar ’n pos oor die water gaan soek.”

Maar kenners sê die prentjie is darem nie net donker nie. Jy, as student, moet net weet hoe om die toekoms reg aan te pak.

Prof. Kobus Maree, opvoedkundige sielkundige aan die Universiteit van Pretoria, sê ouers moet besef hul kinders sal vir seker in die toekoms op hulself aangewese wees om werk vir hulself te skep, selfs met ’n graad.

Sy boodskap aan studente: “’n Kwalifikasie is deesdae geen waarborg dat jy ’n werk sal kry nie. Jy moet ondernemingsgees, ’n innoverende ingesteldheid en kreatiwiteit aan die dag lê en nie bang wees om gereeld van beroep te verander nie.

“Beroepsaanpasbaarheid is die 
sleutel tot sukses in die 21ste eeu. En doen jou werk so goed as moontlik. Volgens statistieke van die Amerikaanse departement van arbeid het mense deesdae teen 38 al sowat tien tot veertien verskillende beroepe beoefen. Plaaslik gaan dinge nie veel verskil nie.”

Die Pretoriase kreatiwiteitskenner dr. Kobus Neethling sluit hierby aan: “Die werkkultuur gaan verskuif van ‘iemand gee my ’n werk’ na ‘ek skep my eie werk’. Jy gaan nie meer vir ’n bepaalde graad studeer wat jou ’n sekere werk waarborg nie. Veel belangriker is ’n oop gemoed, innovasie en moed.”

Ian van den Berg, opvoedkundige sielkundige van Psychological Services and Career Development (PsyCaD) aan die Universiteit van Johannesburg, sê dis belangrik dat jongmense wat die arbeidsmark wil betree nie net goed gekwalifiseer is nie, maar dat hulle goed kan kommunikeer, aanpasbaar is, in groepe kan saamwerk, goeie rekenaarvaardighede het en oor leierskapsvaardighede beskik.

“Alles gaan oor die totale pakket 
wat jy kan bied. Kortom: wat gaan jou laat uitstaan tussen al die ander wanneer iemand na die CV’s kyk en nuwe mense aanstel?”

Loopbaankenners sê ook uit een mond: entrepreneursvaardighede is 
’n groot pluspunt.

As jy wil weet of jy die regte 
rigting gekies het, moet jy “ja” kan antwoord op die volgende twee 
vrae: “Geniet ek wat ek doen?” en “Doen ek dit goed?”, meen Kathy Knott, ’n voorligtingsielkundige 
van Johannesburg.

Dit ís moeilik om op ’n studierigting te besluit. Kenners se menings oor die lewensvatbaarheid van sekere rigtings verskil ook, maar hulle is dit eens dat jy dit losweg in die volgende kategorieë kan afbaken.

1. Werke van 
die toekoms

Prof. Maree sonder dié velde uit:

Beroepe in kommunikasie-tegnologie, onder meer rekenaar-
speletjie-ontwerpers, programmeerders, sagteware-ontwikkelaars, webontwerpers, netwerk-ontwikkelaars, aanlyn-
joernaliste en aanlyn-bemarkers.

Verpleging raak al belangriker met MIV/vigs, geweld en oorloë wat wêreldwyd toeneem.

Prostetika
Die werk van ’n prototis (iemand wat prosteses maak) gaan al meer in aanvraag raak soos sportlui met gestremdhede toenemend deelneem aan sportgebeure soos 
die Paralimpiese Spele.

Elektriese en bedryfsingenieurswese
Vergoedingspakkette is groot en dié ingenieurs is wêreldwyd gesog.
 Die aanvraag na mediese tegnoloë het ontplof. Dis ’n skaars vaardigheid en die betaling is goed.

Die vraag na vaardigheid in kliniese tegnologie (waar jy onder meer kan spesialiseer in kardiologie 
en reproduktiewe biologie) het 
sterk toegeneem.

Bosbou- en landbou-beroepe sal toeneem. Dink aan ’n beroep as plant- of onkruidwetenskaplike, tuinboukundige of omgewings-beampte. Soos bewaringsekologie al belangriker word, gaan beroepe soos sonpaneel-installeerders, organiese boere, landskap-ontwikkelaars, herwinningspesialiste en windturbine-vervaardigers gewilder raak.

Toenemende elektrisiteits- en waterkrisisse plaaslik skep ’n behoefte na hidroloë.          

Biologiese vooruitgang beloof nuwe beroepsmoontlikhede vir navorsers in biotegnologie (soos die navorsing en vervaardiging van voedsel, brandstof en alkohol). Laboratorium-beroepe is dus gróót nuus.

Dr. Neethling sê ook:

Jou kop is waarskynlik deur as jy belê in ’n kwalifikasie in voorskoolse onderwys en enigiets wat met tegnologie te make het.

Hy en prof. Maree reken albei 
daar moet beslis meer aandag gegee word aan tegniese beroepe soos loodgieters, elektrisiëns, haarkappers en motorwerktuigkundiges. Hulle 
is wêreldwyd in aanvraag, goed 
gekwalifiseer en verdien uitstekend.

2. Eens gewilde beroepe wat steeds gesog kan wees – mét aanpassings

Prof. Maree lig ’n paar velde uit:

Onderwys
Die dae is verby dat jy net vir ’n gewone onderwysgraad studeer. Oorweeg dit om aanvullende vakke soos Engels te neem sodat jy, indien moontlik, kan klasgee in Engels in lande soos die Verre-Ooste of Indië. Dit maak jou meer bemarkbaar.

Joernalistiek
Dit is nie meer genoeg om net te kan skryf nie, deesdae moet jy kan foto’s neem, blogs skryf, video’s neem en redigeer … kombineer die klassieke joernalistieke vaardighede met digitale kennis. As jy baie ondernemend is, kan jy byvoorbeeld deur Afrika toer en jou eie reisprogramme maak wat jy dan aan TV-stasies verkoop.

Rekeningkunde
Kombineer dit met die regte bestuursvaardighede soos ’n MBA en selfs skryfvernuf. As jy ander vaardighede aanleer, kan jy byvoorbeeld ’n DVD maak van jou werkplek of handleidings skryf vir nuwelinge oor wat die werk behels (en dit selfs digitaal uitlê). Dink lateraal – dit verhoog jou bemarkbaarheid en jou werkbevrediging.

Verpleegkunde
Doen aanvullende kursusse in forensiese sielkunde sodat jy die Polisie kan bystaan in moordsake. Of volg kursusse in prostetika sodat jy weet hoe om kunsbeen-passings te doen.

Kathy Knott, voorligtingsielkundige, voeg hierby:

Gesondheidsorg (dokters, fisioterapeute, sielkundiges, arbeidsterapeute): As jy jou jou eie praktyk wil hê, is dit goed om sakekursusse te doen sodat jy weet 
hoe om dit te bestuur.

Argitektuur
’n Aanvullende kursus in projekbestuur help jou om die gaping te vul tussen suiwer argitektuur en meer algemene projekbestuurswerk wat ook argitektoniese kennis verg.

Ingenieurswese
Oorweeg aanvullende IT- en sakekursusse omdat baie ingenieurs uiteindelik 
na dié velde beweeg.

3. Werke wat vorentoe minder gesog gaan wees
 
“Sogenaamde lae-tegnologie-beroepe soos enjinmonteerders en masjien- en verpakkingsoperateurs (van bv. vrugte).” – Ian van den Berg, opvoedkundige sielkundige

Meubelmakers, rekenaar-operateurs, bibliotekarisse, nuusontleders en teksverwerkers
(word processors) is van die sogenaamde ‘dinosourus’-beroepe.” – Dr. Neethling                                   

“Enigiets wat te algemeen is, maak jou nie gesog nie. As jy ’n gewone B.A.- of B.Com.-graad volg en nie jou basiese kwalifikasies aanvul met byvoorbeeld talle ander gesogte kort kursusse nie, soek jy moeilikheid. ’n Wit Afrikaanse regstudent (tensy 
jy uitermate goeie punte en die regte kontakte het) se kanse om werk te 
kry, is byvoorbeeld uiters skraal.” – Prof. Maree.

4. Die voor
uitsigte 
vir goeie
 entrepreneurs

Pavlo Phitidis, besturende direkteur van Aurik, ’n Johannesburgse maatskappy wat mense voorberei 
en begelei op die pad na entrepreneurskap, beskryf ondernemerskap
as een van die snel groeiendste ekonomiese neigings wat daar is.

“Dit gaan vorentoe dalk die enigste opsie wees as jy in ag neem dat ons in ’n ekonomiese klimaat is waar baie min mense in die korporatiewe wêreld 
die poste kry wat hulle wil hê.”

Hy reken die vooruitsigte 
vir entrepreneurs is goed: “Weens die internasionale resessie neem groot maatskappye al hoe minder mense in diens – al hoe meer werk word uitgekontrakteer. Dís waar groot moontlikhede vir entrepreneurs wag.”

Wat is belangrik om 
jou goed van jou taak 
te kwyt in dié “bedryf”?

Pavlo se raad:

Entrepreneurskap gaan oor toegepaste kennis. Jy kan hope boeke daaroor lees, maar die beste manier is om dit te doen. “Ek sal net tien persent van die boeke van entrepreneurs soos Donald Trump 
en Richard Branson oor dié onderwerp glo …”

Suid-Afrikaanse jongmense kan baie leer by die jeug in onder meer Viëtnam waar kinders van selfs net tien jaar oud deeltyds (vir min geld) in familie-ondernemings begin werk om waardevolle sakelesse te leer. Só leer hulle byvoorbeeld geld groei nie aan bome nie. Teen die tyd dat hulle die skool verlaat, het hulle al waardevolle vaardighede onder die knie.

Suid-Afrikaanse kinders wat so gelukkig is om universiteitsopleiding te kry, moenie aanvaar dat deure eenvoudig sal oopgaan as hulle entrepreneurs wil word nie. Raak as studente betrokke by onder meer SIFE (Students in Free Enterprise), ’n internasionale nie-regeringsorganisasie wat saam met sakelui ’n verskil maak in gemeenskappe, waar jy jou universiteitskennis kan toepas in onder meer entrepreneursprogramme in die “werklike” 
lewe. Dit gee jou ’n reuse-voorsprong bo studente wat nie aan sulke programme deelneem nie.

’n Goeie entrepreneur moet ook weet hoe om vir hulp te vra. Dis 
’n komplekse en veeleisende “beroep”. 
Jy moet vasbyt, maar
ook luister wanneer ervare mense vir jou sê 
jy mors jou tyd.

Daar is twee maniere om ’n entrepreneur te wees: Jy kan óf stadig, met babatreetjies begin, sodat jy nie so hard val nie. (Onthou net, mislukking is deel van die leerproses.) Die tweede roete is om elke keer wanneer jou onderneming sukses bereik, uit te brei en te verkoop. En dan weer een te koop. Só brei jy jou sakeryk uit.

  • kerri

    Sien aangehegde artikel

  • Jan

    Toets