sr1304_leserstorie_aangenome_seun01
My kind

“Hoe kan ‘n ma ooit haar kind vergeet?”

Ek was eenmaal swanger en het my pasgebore baba verloor. Ná dertien jaar se hoopgebede was ek steeds kinderloos, kon ek nie saam met ander mammas praat nie. Ons besluit toe op aanneming en kort voor lank word ’n seuntjie aan ons toevertrou. Dit was hemels, ’n kind van God afgebid.

Die aanneming was anoniem en die baba pasgebore. Met die eerste aanraking aan die klein bondeltjie het ek ’n belofte aan ons albei gemaak: Sodra hy 18 jaar oud is, gaan ons sy biologiese mamma weer opsoek. Hy het my met ’n pruimbekkie en vaak ogies aangekyk, min wetend wat ek toe vir hom probeer sê. Vandat ek CJ se doek die eerste dag omgeruil het, het ek hom vertel hy is aangeneem. Elke keer as hy vir my geglimlag het, het ek geweet dis ’n lang pad, maar oor 18 jaar sou ek die juweel weer aan sy ma terugbesorg. Nege maande het sy hom onder haar hart gedra, ’n band gevorm wat geknip moes word weens omstandighede, en sy het met bitter hartseer, trane en sielswroeging van haar bondeltjie afstand gedoen.

CJ was vir ons bestem, want hy was oorspronklik toevertrou aan ’n ander ouerpaar, wat toe weens omstandighede nie die baba wou hê nie. Ek het nie gekies nie, ek wou net liefhê en ’n kind van my eie grootmaak. Op drie maande is CJ onder die van Lidderd geregistreer, en ons kon vir sy biologiese ma ’n laaste briefie skryf. Daarna was ons verbied om met haar kontak te maak. Daar was soveel wat ek wou sê. My enigste paragraaf aan haar was dat sy asseblief elke jaar op sy verjaardag die aand om tienuur moes uitgaan en na die maan gaan kyk. Vir ’n halfuur sou ons met mekaar kommunikeer. Só het ek klein CJ elke jaar geneem om na die maan te kyk, en ons drie het geweet …

Sommer vroeg in sy lewe het hy al begin vra vrae oor haar. Hy het haar in elke vrou gesoek. Ek het geweet dit sou ’n moeilike pad vorentoe wees, want daar was ’n band tussen hulle, byna onnatuurlik. CJ het grootgeword as ’n pragtige fors blonde seun met ongelooflike leierseienskappe: Hy is verkies as leier van die studenteraad, het erekleure in atletiek verwerf en is ’n bobaas-rugbyspeler.

Die jare het vinnig verbygegaan. CJ wou nou die legkaartstukke laat inpas. Hy was 17, en ek moes my belofte nakom. Maar die kantoor van die OVV (Oranjevrouevereniging) in Bloemfontein, waar sy aanneming bekragtig is, lig my in hulle kan eers op 18 jaar met die opsporingsproses begin, en dít kan tot twee jaar duur. Net daar besluit ek op Facebook, al is ek nie ten gunste daarvan nie. Met groot twyfel tik ek haar naam in: Ilze Vrey ‒ en haar prof ile spring uit. Ek het dit afgeskakel. Weer aangeskakel …

Destyds het Ilze ’n traktaatjie in ’n wit Bybel gesit en dit het saam met haar bondeltjie na die aanneemouers gegaan. Op die traktaatjie het sy geskryf: Hoe kan ’n moeder dan ooit haar kind vergeet? Ek het toe besluit om dié woorde vir haar te SMS. Ek kon my net die geweldige skok ná sewentien jaar voorstel, maar ek het die send-knoppie gedruk. Die dae het verbygesleep. En toe, een Sondagmiddag, lui die foon: ‘Dis Ilze hier.’ Vir ’n breukdeel van ’n sekonde het 17 jaar van CJ se lewe deur my gedagtes geflits. Die oomblik van waarheid was hier.

CJ het op my afgekom waar ek in gesprek (telefonies) was met haar. Hy was verward, oorstelp, in trane en het ‘ge-mammie’ en ‘ge-tannie’ deurmekaar. Ná die gesprek het ons vir hom ’n St. Christopher-hangertjie gekoop en sy biologiese naam en van daarop gegraveer. Ons het sy identiteit aan hom teruggegee. Ons sou Ilze ontmoet by ’n atletiekbyeenkoms waaraan CJ moes deelneem. Die dag het nadergekom en my hart wou skeur, want ek het nie geweet of ek nou die buitestander sou wees nie. Ek het haar gelei na die baan, en gevra of sy haar seun raaksien. En eensklaps het hy omgekyk. Ek het op sy lippe die woord ‘Mamma’ gelees. Sy het na CJ toe gestap. Hulle het mekaar omhels en vasgehou, ma en seun het mekaar gevind soos ’n naald en stukkie gare.

Ek ken my kind, ek het geweet sy biologiese mamma se liefde is op sy hartsland soos reën. Nooit sal hy haar ooit weer hoef te laat gaan nie, want sy is nou deel van sy daaglikse bestaan. Lank verlore, maar nou weer gevind. Die liefde van ’n ma en seun het hulle altyd gebind. Ek het so gestaan en besef niemand weet wát hier op die atletiekveld afspeel nie. CJ het vir die eerste keer geweet dat dié wedloop nie net nog ’n wedloop was nie, maar ’n wedloop na oorwinning. Want die verlore stukkie in sy legkaart is gevind, en dit pas perfek.

Deur die jare het ek vir Ilze ’n DVD van CJ se lewe gemaak, want sy moes niks van hom mis nie: van sy eerste bad, sy hele doopplegtigheid tot sy verkiesing as leier. ’n Drie uur lange DVD waarna ons toe saamgekyk het. Ek het dit afgesluit met: Hoe kan ’n moeder dan ooit haar kind vergeet? Maar nou was die woorde op mý van toepassing. Ons het saamgehuil en in haar oë het ek gesien dat dit ook die oë van ’n kosbare vriendin is.