My kind

Jou kind droom gróót. . . en jy kan help! – DEEL 1

’n Formule 3-renjaer, platejoggie, branderplankryer, begaafde musikus en vlieënier… Hulle het almal dieselfde gemeen: ouers wat hulle bystaan en inspireer.

Kleintyd droom kinders dikwels hardop: “Eendag as ek groot is …’’ In hul kop is hulle al klaar ’n popsanger, ballerina, Springbok-rugbyspeler of supermodel. Sommige kinders verwesenlik daardie drome reeds voor hulle volwasse is – danksy hul passie om hul bes te doen. Ander moet ’n bietjie langer wag. Dis vir seker harde werk en talent wat lei tot sukses. Maar dit gebeur nie sommer sonder ouers se hulp, tyd, energie, gebede en dikwels sakke vol swaar verdiende geld wat hulle in hul kroos belê nie.

SARIE het met ’n paar jongmense gepraat wat kan getuig van ouers wat bankvas agter hulle staan – en juig oor hul spruite se sukses. Ontmoet Dylan Cronjé (11) van Johannesburg – die jongste platejoggie in die land; Natanja Uys (10), harpspeler, violis en pianis van Kaapstad; Marcelle Nienaber (16) van Pretoria-Oos, wat op 15 die jongste vlieënier was wat ’n solovlug in ’n Cessna 172 uitgevoer het; Roman de Beer (19), ’n junior Grand Prix Formule 3-renjaer van Alberton aan die Oos-Rand; en Tanika Hoffman (20), SA branderrykampioen en medekampioen by die Internasionale Branderryvereniging se Wêreldspele in Panama.

‘My ma offer ’n groot deel van haar sosiale lewe op’ – Dylan Cronjé (11), platejoggie

Unknown“My ma, Rita, ’n bestuurder in korttermynversekering, en pa, Brett, ’n senior finansiële bestuurder, is cool. My ma help my met bemarking op Facebook en Twitter. Sy werk voltyds, maar maak altyd tyd om my na die Soul Candi Institute of Music in Johannesburg te neem om te oefen of om my toerusting te herstel. Dan werk sy maar harder in die aand
om haar verlore tyd in te haal. Ek waardeer dit. My ma het vir my ’n platejoggiebeginnerskursus by die Institute of Music as geskenk gegee nadat ek as 8-jarige heeltyd op haar iPhone gespeel het met musiek-apps. Daarna het my ouers ook vir ’n kursus in produksiesagteware betaal.

My ma het ook vir my geld geleen om klanktoerusting te koop waarmee ek tuis oefen. Sy het self ’n groter motor gekoop om al my toerusting na gigs te vervoer. Met die geld wat ek dáár verdien, betaal ek my skuld aan haar terug (mét rente!). Baie naweekaande help my ouers my by private geleenthede om my toerusting op te stel en agterna op te ruim. My ma offer ’n groot deel van haar sosiale lewe op. My ouers is lank gelede geskei. My pa is weer getroud en my ma is ook al vyf jaar weer in ’n vaste verhouding. Sy moet ook baie aandag aan my 3-jarige tweelingsussies gee. Dis vir my regtig lekker om mense te laat dans. Selfs my ouma Hester Vermaak is een van my fans.’’

Ma Rita oor Dylan
“Ek wou sy musiekwêreld verstaan en het ook met ’n DJ-kursus begin. Ons ‘speel’ soms lekker saam tuis. Natuurlik is ek dikwels bekommerd wanneer hy vakansies in klubs werk, selfs al hou ons toesig. Maar ek het baie eerlik met hom oor die gevare van dwelms en drank gepraat. Ek glo ook hy moet geldslim wees. Hy spaar geld en koop selfs aandele. Ek maak nie ’n bedorwe brokkie groot nie.”

‘My ouers sê ek moet net my bes doen’ – Natanja Uys (10), harpspeler, violis en pianis

Amia 1“My ma, Amia, ’n tuisteskepper, is baie onselfsugtig. Sy het my drie susters en vier broers [tussen 6 en 24] tuis onderrig. Ons almal bespeel ’n instrument. Ek kry klavier- en vioollesse en neem by die Hugo Lambrechts-musieksentrum in Bellville harpklasse. Smiddae ry my ma ure lank rond vir ons musiekonderrig, sorg dat ek oefen, praat my moed in, en soms maak sy video-opnames van my lesse sodat ek voor eksamens daarna kan kyk. Sy self bestudeer ook die klavier, viool en klassieke kitaar. Vanjaar speel sy gr. 5 in klassieke kitaar by Unisa. Sy het dié eksamens reeds in klavier en viool afgelê. Mamma neem selfs aan eisteddfods deel en skryf Unisa se musiekteorie-eksamens. Sy sê dit help
haar om ons angsvlakke te verstaan en só kan sy ons beter help as ons oefen.

Ek wou baie graag harp speel en verlede jaar het my pa, Henry, ’n ingenieur, een gehuur teen R8 000 per jaar. My ma se voorwaarde was dat ek ’n jaar lank 90% vir viool en klavier moes behaal om lesse te kan neem! Dít was ’n lekker motivering. By die Stellenbosse eisteddfod in Mei het ek my harp-, viool- en klavierstukke met lof geslaag. Daarna het ek ook ’n oudisie geslaag om in Augustus as solis in die Kaapse Filharmoniese Orkes by die Jeug-musiekfees in die Kunstekaap op te tree. [Sy het die Concertino in A mineur van O. Rieding Opus 21 gespeel.] Danksy my ouers se sterk geloof het die Here ’n handgemaakte viool en geld vir duur vioollesse deur menslike ‘engele’ voorsien … Ek is mal oor musiek en kompeteer nóóit teen ander nie. My ouers sê net ek moet my bes doen, dan leef ek ‘die waarheid’.”

Ma Amia oor Natanja

“Einstein het onwrikbaar geglo in die verband tussen musikale stimulasie en akademiese prestasie. Ek koop dikwels op markte ou instrumente en tweedehandse boeke as hulpmiddels vir tuisonderrig. Dit hou die kinders gefassineer. Toe Natanja drie was, het sy musieknote geleer deur ronde blokkies uit te pak op ’n houtnotebalk wat Henry gemaak het. Op vier het sy haarself leer lees en op vyf het sy Unisa se voorgraad 1-musiekteorieeksamen met lof geslaag. Ek was verstom, want die vraestel se bewoording is moeilik. Kleutertyd het sy al gesê sy wil in ’n konsertsaal vir mense klavier speel. En sy hét, op vyf, voor 250 mense in ’n ouetehuis!’’

‘Sy sit geduldig by my wanneer ek vliegteorie leer’ – Marcelle Nienaber (16), vlieënier

ELLEN IMG_6607“Sonder my ma, Ellen, ’n kleuterskoolonderwyseres, se motivering sou dit veel langer geneem het om my droom te bewaarheid. In Augustus 2012 het ek vir haar gesê ek wil vlieglesse neem. Vliegtuie het my nog altyd gefassineer. Sedert ek twee jaar oud was, het ons gereeld in die buiteland by my pa, Pieter, gaan kuier. Hy werk as projekbestuurder oorsee. Die vliegsessies moet ek by my skoolwerk inpas. Die Professional
Flight Centre by die Wonderboomlughawe in Pretoria is sowat ’n driekwartier se ry van ons huis. As ek voor skool wil vlieg, staan my ma drieuur op om ontbyt te maak en
maak my vieruur wakker. Ons val vyfuur in die pad sodat ek ’n uur lank voor skool kan vlieg. Soms vlieg ek ná skool ook. Dan wag my ma vir my met ’n lekker tunaslaai en my gestrykte vlieguniform. Saterdae vlieg ek ook ’n paar uur lank.

My ouers dok heelwat op: Dit kos R1 535 per uur in die lug en R350 vir die instrukteur. Elke landing kos ook R80. Dan kos dit R280 om ’n teoretiese eksamen te skryf en die
klasgeld vir die teorie beloop R690 per maand. Ek het nou al drie van die agt sessies voltooi vir die eksamen vir vlieëniers en soms kos my stokperdjie tot R8 000 per week. As ek senuweeagtig is, bid my ma saam met my. Saans, ná my tuiswerk, sit sy geduldig by my wanneer ek vliegteorie leer en soms vra sy my vrae om te toets of ek my werk ken. Op 5 Januarie vanjaar het ek ’n kwartier lange solovlug in ’n Cessna 172-vliegtuig vanaf die Wonderboomlughawe onderneem. Ek het nou selfvertroue om daarop te fokus om eendag ’n kommersiële vlieënier vir ’n lugdiens te word.”

Ma Ellen oor Marcelle

“Sedert Marcelle klein was, teken sy al prentjies van vliegtuie en wolke, en sy het dit gereeld vir haar pa oorsee gefaks. Sy was altyd mal oor vlieg en ek is nooit bang sy sal misluk nie, want ek kan sien hoe geesdriftig sy is. Ná haar eerste vliegles het sy van oor tot oor geglimlag. Ons is geseënd met net een kind wat ons eindelose vreugde gee. Haar pa, Piet, se opoffering om oorsee te werk om vir ons geldelike sekuriteit te gee inspireer haar tot groter hoogtes. Dit is ’n voorreg om haar te motiveer. Sy leef en vlieg met passie.’’

 

Lees nóg verhale hier in DEEL 2 van dié artikel