My kind

Leer jou kind waardering

  • Lê die idee in jou kind se onderbewuste vas dat hy klein dingetjies moet waardeer. Prys hom van jongs af oor byvoorbeeld ’n mooi prentjie of geskenkie wat hy by die kleuterskool vir jou gemaak het. Dit laat hom trots voel en leer hom nie net materiële dinge wat jy in winkels koop, is waardevol nie.
  • Moenie jou kind beskuldig met aanmerkings soos: “Daar is baie ander wat nie eers ’n stukkie brood het om te eet nie.” Positiewe versterking is doeltreffender as straf of skuldgevoelens.
  • Moenie hom te veel bederf nie. Vra jouself eerder af hoekom jy die behoefte het om altyd vir jou kind die beste te koop. Het jy dalk swaargekry en nou probeer jy opmaak daarvoor? Dalk voel jy ’n bietjie onseker oor jou posisie in die gemeenskap en probeer jy ’n sekere beeld skep? Wat die rede ook al is, gaan dink daaroor. Vra jouself af of jy ’n positiewe bydrae maak tot jou kind se emosionele ontwikkeling.
  • Gee jou kind weekliks of maandeliks sakgeld. Hy ontwikkel dan ’n beter begrip vir die waarde van geld en leer dalk hoe onregverdig dit is om ’n duur geskenk te verwag. Laat hom Kersfees self geskenkies met sy sakgeld koop. Hy sal gou leer dit is die klein dingetjies wat tel.
  • Gee jou kinders klein takies of verantwoordelikhede by die huis. Kinders kry ’n groter waardering vir tyd en opoffering as hulle leer om van hul tyd te gee. Hulle kan byvoorbeeld help om tafel te dek en af te dek, die skottelgoedwasser uit te pak of om die swembad skoon te maak. Let wel, sonder betaling, net ’n “dankie, ek waardeer jou hulp”.
  • Die grootste geskenk wat ons as ouers kan gee, is onverdeelde aandag, ’n oor wat regtig luister voor ons raas, iemand wat saam aan die tafel sit en eet, en veral volwassenes wat mekaar met respek en liefde hanteer.
  • jaqui

    Hi D
    Dalk net n bietjie inlugting…..