FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

My kind

‘Ma, jy stres my!’ Angstige ouers maak angstige kinders groot

Elke ouer het dit al beleef: Daardie dag dat álles skeefloop, jy oral rondjaag mét spruite op tou. Dan vra ’n angstige stemmetjie: ‘Mamma, is jy kwaad vir my?’… Ontspan, en keer dat jou stres jou kinders raak.

’n Studie deur die Universiteit van Wisconsin in die VSA het bewys tienermeisies is meer geneig om te sukkel met angstigheid en depressie as hulle as babas aan stres blootgestel is.

“’n Kind kyk na sy ouers vir ’n aanduiding oor hoe om te dink, te voel en op te tree, en as jy as ouer in ’n donker bui is, weet hy alles is nie pluis nie,” verduidelik Mia von Scha, ’n ouerskap- en leefstylafrigter van Johannesburg.

“Jou kind sal aanvoel jy is gespanne nog lank voor jy dalk breekpunt bereik en op iemand skel. Net 5% van wat kinders verstaan, kry hulle uit jou woorde,” sê Zelna Lauwrens, kindergedrag-kenner en stigter van die internasionale groep The Kids Life Studio, wat by kinders ’n kultuur van geestesgesondheid kweek.

Wenke vir ouers

Moenie dit probeer wegsteek nie

Jou kind wéét wanneer jy stres, al is dit dikwels nie eens iets wat hom raak nie, soos werkstres. Dit help dus nie om dit weg te steek nie, sê Mia. Jy kan jou kind van jou stres vertel, maar moenie detail gee nie. Jou kinders moet egter nooit verantwoordelik voel vir jou gemoedstoestand nie, en jy kan hulle nie as klankbord gebruik nie.

Wees positief

Las altyd ’n plan van aksie by – selfs al is jy nog onseker oor een. Sê jy werk daaraan en alles gaan oukei wees. Die doel is om hulle te verseker die grootmense het alles onder beheer.

Moenie stres oor korttermyn stres nie

Kinders het ’n mate van gesonde stres nodig om te ontwikkel. Korttermyn-stres, soos om te leer fietsry of ’n ander skool, kan gesond wees, sê Zelna. Kinders leer só nuwe vaardighede aan, of hulle leer om nuwe probleme op te los, soos om die fiets se band om te ruil. Erge korttermyn-stres, soos ’n inbraak of ongeluk, kan ook deur kinders verwerk word as hulle daarmee gehelp word, sonder ernstige gevolge.

Maak só jou kind weerbaar

  • Leer jou kind hoe om ’n gesonde leefstyl te handhaaf. Dit help om spanning te verwerk. Fokus op: Genoeg oefening, goeie eetpatrone, genoeg slaap, die stel van doelwitte (hetsy by die skool, werk of buitemuurs), tyd vir ontspanning, en leer hom om te vra vir hulp as hy dit nodig het.
  • Help jou kind om ’n manier te kry om van opgeboude stres ontslae te raak, soos om in ’n kussing te skree, te hardloop, of ’n slaansak te slaan.
  • Moedig hom aan om dinge met jou te deel. Kinders weet dikwels nie hoe om hulself uit te druk nie. Begin met iets soos: “Ek kan sien jy’s bekommerd oor jou toets.”
  • Leer hulle om vir die positief in elke negatief te soek, al is dit hóé klein of moeilik.
  • Moenie altyd vir jou kinders die antwoord gee nie, maar moedig hulle aan om probleme self op te los sodat hulle leer hoe om dit te doen.
  • Indien jou kind gespanne voel, soos voor ’n toets, leer hom/haar hoe om reg asem te haal. Wanneer ons gespanne is, haal ons kort en vlak asem. Deur dubbel so lank uit te blaas as wat jy inasem, aktiveer jy jou liggaam se natuurlike meganisme om stres te beveg.

Ken die tekens

As jou kind dié simptome het, kan stres die oorsaak wees

  • Irritasie, buierigheid en skielike stout gedrag
  • Vatbaarheid vir verkoues en siekte
  • Konsentrasieprobleme
  • Veranderings in slaap- en eetpatrone
  • Minder belangstelling in genotvolle aktiwiteite
  • Nagmerries
  • Bangheid of benoudheid
  • Maag- en hoofpyne

Hou jou kind fyn dop. As hy sorgeloos lyk by die skool of by vriende se huise, maar teruggetrokke tuis, kan dit dalk beteken jou huis is ’n stresvolle omgewing.

Nóg in My Kind: