My kind

Maak jou kind boelie-bestand

My hart het geskeur as my kind soggens by die skoolhek moes insluip omdat hy die boelies by sy skool vrees,” vertel Ina van Wilropark, Pretoria. Sy gebruik ’n skuilnaam op aanbeveling van sy sielkundige. “Dit sal hom net ’n verdere teiken maak
[indien hy geïdentifiseer word],” sê sy.

Haar gr. 7-seun loop nou al maande lank onder ’n groep boelies by die skool deur oor sy welige rooi krulhare en sproete. In Brittanje staan dié soort optrede teenoor rooikoppe as gingerism bekend.

Hy is volgens een Amerikaanse studie waarskynlik een uit vier kinders in sy skool wat op een of ander manier geboelie word. Boonop wys ’n studie by die Yale-universiteit (waarin 37 studies
saamgevat is) dat ’n geboelie by skole, saam met dissiplinêre probleme, wêreldwyd aan die toeneem is.

Maar as jou kind geboelie word, hoef hy nie langer ’n slagoffer te wees nie. Hy kan die situasie oorwin en ’n selfgeldende individu raak, glo opvoedkundige sielkundige Tania Holz van die Oos-Rand.

[box:full:grey:both]

‘N SLAGOFFER

[/box]

As jy nie vroegtydig aandag gee aan die geboelie nie en hom nie leer hoe om die probleem te hanteer nie, gaan hy die res van sy lewe ’n slagoffer wees, waarsku sy. “Die probleme van volwassenes wat in die werkplek en deur vriende en huweliksmaats geboelie en gemanipuleer word, kan dikwels na hul kinderjare teruggevoer word.”

’n Geboelie in die kinderjare kan ’n lae selfbeeld, onttrekking en aggressiewe gedrag as volwassene
uitlok. As daar nie werk van gemaak word nie, kan dit in ekstreme gevalle die oorsaak van selfmoord wees.

Ina en haar kind se sielkundige het saam besluit dat haar seun nie volgende jaar na ’n ander hoërskool as die boelies gaan nie.

“Hy moet leer om die boelies in die oë te kyk en genoeg selfvertroue opbou om hulle op hul plek te sit. Ek weet dis vir sy eie beswil,” sê sy.

[box:full:grey:both]

OM TE PRAAT

[/box]

Die verhouding tussen jou en jou kinders en die atmosfeer in die huis moet dit vir hom/haar maklik
maak om te praat as hy/sy geboelie word, sê Tania.

Sy glo as jy saam met jou kinders dinge doen en hul maats leer ken, skep dit vir jou geleenthede om waar te neem wat in hul lewens aangaan. Jou kinders sal ook makliker openhartig met jou gesels oor ’n geboelie.

“Verduidelik aan jou kind wat boelie is. Dit sluit fisieke en verbale aanslae in.”

Sy verwys na onder meer viktimisering deur selfoonboodskappe en op Facebook, en as jou kind gedwing word om dinge te doen wat hy nie wil doen nie.

Ongelukkig praat baie kinders nie, maar oplettende ouers sal sien as gedrag verander. “Dit sluit psigosomatiese simptome soos maag- en hoofpyne in om nie skool toe te gaan nie.”

Ina se seun het ook dié soort simptome gehad.

“Ek het met hom gepraat nadat ’n onderwyseres my van die probleem vertel het. Noudat ons al ’n ent met die terapie gevorder het, weet hy hy het die reg om te praat as ander hom te na kom.”

[box:full:grey:both]

HOEKOM ’N TEIKEN?

[/box]

“Daar is ’n rede hoekom die een kind die boelie is en die ander een geboelie word,” sê Tania. Stel vas wat agter die geboelie skuil. Wat maak jou kind ’n teiken vir ’n boelie, en leer hom vaardighede om dit te hanteer.

“Kinders wat sukkel met sosiale vaardighede kan ander kinders maklik onbewustelik irriteer en kwaad maak en hulself ’n teiken maak.”

As jou kind met aggressie op ’n geboelie reageer, gaan dit aanhou en dalk vererger.Hy moet leer om selfgeldend teenoor ’n boelie op te tree.”

Ina was na aan trane nadat sy die artikel “Simply Red” in die vrouetydskrif Marie Claire (Augustus 2010) gelees het. Sy het ook die Facebook-blad Kick a Ginger gesien.

“Ek herken al die stereotipering wat rooikoppe toegevoeg word in my kind se boelieprobleem. “Hy het byname soos Kerriekop en Rooies, en hoewel hy eintlik ’n mooi kind is, het hy in ’n stadium geglo hy is lelik.”

Sy stem saam dat haar gesin gingerism net so erg ervaar soos ’n swart gesin rassisme sal ervaar. (Net sowat 2% van wêreldburgers het rooikoppe en daar word reeds van die 15de eeu af teen hulle gediskrimineer, aldus Wikipedia.)

“Maar ek het beslis ook begrip vir die gevoelens van ouers met oorgewig, maer en gestremde kinders, en enige ander kinders wat geboelie word net omdat hulle anders is.”

[box:full:grey:both]

HANTEER DIE BOELIE SO

[/box]

As jy besef jou kind word geboelie, voel jy jy kan die boelie self aan die nek gaan gryp, sê Ina. Maar Tania waarsku jy as ouer moet dan juis kalm bly.

“Maak eers ’n afspraak met jou kind se onderwyser. As dit aanhou, maak ’n afspraak met die departementshoof, en as dit nie help nie, gaan na die skoolhoof.”

Maak ná ’n week ’n opvolgafspraak om vas te stel wat die skool aan die situasie gedoen het. “Vra die skoolhoof uit oor hul beleid teenoor boelies en hoe boelies gehanteer word. As die skool nie so
’n beleid het nie,moet die hoof en beheerraad aangemoedig word om een op te stel. So ’n beleid moet deur ouers van laerskoolkinders en deur hoërskoolkinders self geteken word as hulle by die skool inskryf.

“Jy kan help om die proses stop te sit deur jou kind na ’n kindersielkundige te neem om vas te stel hoekom hy ’n maklike teiken is. Hier kan hy ook leer om meer selfgeldend op te tree.” Sy raai ouers af om met die boelie se ouers self kontak te maak.

“Min mense wil hoor hul kind is ’n boelie. Dit gaan die saak net vererger. Laat die skool die saak hanteer,maar volg dit op,” is haar raad. “As jou kind per selfoon of e-pos geboelie word, blokkeer die boelie se nommer, of sy toegang tot jou kind se Facebook-profiel.”

Werk eerder daaraan om jou kind bestand te maak teen boelies as om teenoor die boelie te probeer optree.

Volgens Marlet Vosloo, kindersielkundige van Randburg, kan ’n sielkundige jou kind se sosiale vermoëns help verbeter en aan hom selfgeldende tegnieke leer soos oogkontak met die boelie, hoe om die regte liggaamshouding in te neem sodat die boelie hom nie as ’n slagoffer sien nie, hoe om met boelies te praat en waar hy oor ’n boelie kan kla.

“Dit sal baie vir jou kind beteken as hy self sy man kan staan teen die boelie.Die proses sal hom bemagtig laat voel en sy selfvertroue verbeter.”

[box:full:grey:both]

Nog redes hoekom ’n kind geboelie word:

Ina se seun weet nou dat hy trots kan wees op die rooi hare wat hy van sy oupa geërf het en dat dit van hom ’n individu maak. “Ek sien daagliks hoe hy meer selfvertroue kry,” sê sy.

  • Hy is kleiner of groter as die ander kinders, of hy is vetter of maerder.
  • Hy val in ’n minderheidsgroep soos anderstaliges of ander rasse.
  • Daar is iets wat hom laat uitstaan, soos ’n spraakgebrek, ’n snaakse naam of van, erge krulhare.
  • Hy raak maklik angstig of kwaad.
  • Hy het min vriende of is alleen.
  • Hy het nie baie selfvertroue nie en ander kinders weet hy kan homself nie laat geld nie.
  • Partykeer word kinders oor een enkele gebeurtenis wat ’n verleentheid was, uitgesonder, soos as hy opgegooi het voor die klas.

[/box]

AS JOU KIND GEBOELIE WORD . . .

Hier is raad wat hom kan help:

  • Moenie vir hom wys jy is ontsteld nie.Dis wat hy wil hê.
  • Wees ferm en selfgeldend.
  • Soms help dit om ’n boelie se aanmerking in ’n grap te omskep.
  • Onthou, jy is nie die een met die probleem nie, die boelie is.
  • Verbeel jou jy het ’n rubbermuur om jou en alles wat die boelie doen of sê, bons na hom terug.
  • Moenie toelaat dat die boelie jou van jou geluk en selfbeeld beroof nie.
  • Moenie wraak beplan nie, dan daal jy na sy vlak.
  • Vermy die plekke waar die boelie jou voorlê en moenie alleen rondloop nie.
  • Moenie duur items en geld skool toe neem nie en merk jou besittings met ’n permanente merker sodat jy dit later kan uitken.
  • Hou jou kop regop, lyk selfversekerd.
  • Boelies hou daarvan om voor trawante te wys hoe sterk hulle is. Hulle is nie so dapper as hulle alleen is nie.
  • Leer om trots te wees op dit wat jou anders maak. Jy is ’n individu.
  • Maak nuwe vriende by klubs en op uitstappies.

(Bronne: Marlet Vosloo, kindersielkundige van Randburg, en It’s My Life)

AS JOU KIND DIE BOELIE IS . . .

Hy het ook hulp nodig:

  • Neem kennis van die probleem en wees bereid om aan jou kind se probleem te werk.
  • Dink na wat die oorsaak van jou kind se gedrag kan wees. Gee jy genoeg aandag en is jy betrokke? Watter voorbeeld stel jy? Hoe praat jý met ander en hoe praat julle as gesinslede met mekaar?
  • As jou kind se aggressie jou bekommerd maak, neem hom na ’n sielkundige sodat hy onder meer kan leer hoe om stres en emosies van woede en teleurstelling te hanteer. Sy sal jou kind kan leer hoe om empatie met ander te hê.
  • Moenie tuis etikette soos rassisme en lelike name vir ander mense soos “ou rooikop”, “vettie” of “domkop” aanmoedig nie.
  • Moet ook nie jou kind as “boelie” brandmerk nie. Stel eerder vas hoekom hy boelie.
  • As jy nie iets aan die probleem doen nie, kan jou kind gebrandmerk en uitgestoot word. Leer hom dat geweld, manipulasie an afknouery nie die regte manier is om teenoor ander op te tree nie.

(Bron: Opvoedkundige sielkundige Tania Holz)

[box:full:grey:both]

OM TE WEET

HOEKOM JOU KIND BOELIE?

  • Kinders leer gedrag by ouers en maats.
  • Kinders wat by die huis geboelie word, sal ander boelie.
  • Soos in die grootmenslewe is daar by skole altyd groepe wat beheer of die oormag oor ander groepe wil kry.
  • Kinders manipuleer ander dikwels om hul sin te kry.
  • Rassisme of onverdraagsaamheid teenoor ander kan ’n vorm van superioriteit oor ander groepe vorm en veroorsaak dat kinders ander boelie.
  • Party kinders leer nie tuis om nie hul buie op ’n onaanvaarbare manier op ander uit te haal nie. Kinders boelie om maats te beïndruk.
  • Sommige kinders boelie omdat hulle nie empatie het nie.
  • Ouers wat ander mense boelie of aggressie teenoor gesinslede toelaat, stel ’n voorbeeld vir boelies.
  • Kinders met ’n lae selfbeeld kan ander boelie.
  • Swak sosiale vaardighede en impulsiewe gedrag kan veroorsaak dat boelies nie dink voor hulle optree nie.
  • Slim wenk:  Verbeel jou daar’s ’n rubbermuur om jou en alles wat die boelie sê, bons na hom toe terug.

[/box]

(Bronne: Marlet Vosloo, kindersielkundige van Randburg, en It’s My Life, ’n Amerikaanse organisasie wat kinders lewensvaardighede leer. Sielkundiges, maatskaplike werkers, skoolterapeute en opvoedkundiges span saam om kinders raad te gee. Lees meer by www.pbskids.org/itsmylife/index.html.)

  • Hendrina

    Wat gemaak as jou oudste dogter nog in die huis die jongste dogter in die skool afkraak en sleg sê. Jy kan mooi praat, straf, baklei dit help net ‘n rukkie sy was self geboellie op skool

  • Marietjie Hugo

    My dogter bly in die Strand en my kleinseun is daar in graad ses in ‘n privaatskool waarvoor sy R200200 per maand betaal. Daar is egter ‘n kind wat in al sy klasse langs hom sit en sy penne en ander goed afvat. My keinkind is nie aggressief van geaarheid nie en kan homself nie handhaaf nie. Puses knou die kind hom af en vat sy snoepie geld af. Hy het nou die dag met ‘n blou neus tuis gekom en gesê hy het prestick daarop geplak dis hoekom dit blou is. Hy weier tans al twee weke om weer skool toe te gaan en is raak agter met sy werk. Mydogter het skool toe gegaan en met die hoof gaan praat oor die viktimisasie. Sy het na die boelie toe gegaan en vir hom gevra of hy op ‘n ander plek wil gaan sit – natuurlik het hy gesê nee hy sit lekker waar hy is! Soos jy seker kan agterkom is my dogter alleenouer – die Pa woon in Oudshoorn en sy het al die probleme met hom bespreek maar kry net vae beloftes wat nooit nagekom word nie. Dit is geensinds my geaardheid om my neus in my kinders se sake te steek nie maar so kan dinge nie aangaan nie.
    Wat is daar wat ‘n mens kan doen? As die hoof van die skool nie die regte stappe doen nie na wie toe moet my dogter dan gaan – na die skool se beheerraad?