My kind

Meer kinders ly aan vetsug – help jou oorgewig kind só

Dis ’n feit. Kinders die wêreld oor word al hoe vetter en dis die ouers se verantwoordelikheid om hulle ’n ongesonde toekoms te spaar. Hier is hoe jy jou kinders gesond kan hou en jou oorgewig kind kan help.

Volgens ’n berig in Die Burger word die wêreld se kinders steeds al hoe vetter. Professor Branislav Antala van die Comenius-universiteit in Slowakye reken dat 10% van die wêreld se kinders op die oomblik vetsugtig is.

Volgens die berig word daar in Suid-Afrika se skoolkurrikulum net ’n uur per week aan liggaamlike opvoeding afgestaan. Tog is dit baie belangrik om reeds in die kinderdae ’n gesonde en aktiewe leefstyl te vestig.

Antla bewys met statistieke dat die gemiddelde liggaamsgewig van seuns en meisies in Europa toeneem, en hul motoriese vaardighede en fiksheid verswak – alles weens onaktiwiteit.

In Suid-Afrika

Die statistieke sê dit alles: Ons jeug is naas Brittanje, Kanada, Amerika en Mexiko die vetste ter wêreld. Sowat 5% van ons seuns en 25% van ons meisies is oorgewig of vetsugtig. Maar wat staan jou as ouer te doen?

Raadop met my oorgewig kind …

*Hoe hanteer jy dit?

Mariza van Zyl, ’n dieetkundige van die Paarl gee raad.

Hoeveel beweeg julle?

Sit jy en jou man voor die TV met net jul kakebene wat werk? Die kinders sal dieselfde doen. Daar is ’n direkte verband tussen TV’s in slaapkamers en vet kinders. Dis ook die geval by kinders wat meer as twee uur per dag voor ’n skerm sit (TV, rekenaar of selfoon). Dus: Jou hele gesin moet aan die gang kom.

Wat eet en drink julle?

Kitspap, witbrood, witsuiker, witrys? Koop gesonder kos. Dieselfde reëls geld vir volwassenes.

Moenie kos verminder nie, maar gee gesonde kos.

’n Kind van ses se energiebehoeftes is baie dieselfde as ’n volwasse vrou s’n. Jou kind sál dus meer as jy eet. Hul energiebehoeftes verskil na gelang van hul liggaamsbou, groeifase en aktiwiteit. Die piek in seuns se groeifase is om en by 17 of 18 en stabiliseer dan. Meisies s’n is sowat twee jaar vroeër – op 15 of 16. Jou oorgewig kind móét dus eet, maar die regte kos.

Jou hele gesin se eetpatroon moet verander.

Jy kan nie verwag jou vet kind moet lekkergoed vermy en jý eet dit skelm nie. Of jy belet haar Coke, maar haar boeties drink dit steeds nie.

Lekkernye moenie taboe wees nie.

Eet eerder klein porsies en maak beter keuses, sê Mariza.

Skool toe

  • ’n Goeie ontbyt is byna belangriker as wat sy by die skool eet, anders eet sy alles wat voorkom.
  • ’n Gesonde kosblik bevat: Meer kos, maar minder brood. Pak bv. ’n gekookte eier of porsie kouevleis, ’n vrug, rou groente en gesonder vette (grondboontjiebotter, neute) in. Swaar volgraanbrood of rogkraakbeskuitjies met genoeg vulsel is ook ’n goeie keuse. Los die margarien. Gee rosyne, vrugterol of droëperskes vir soetigheid. En een maal per week dalk ’n paar blokkies sjokolade.
  • Stel voor sy spaar haar snoepiegeld vir iets wat sy graag wil hê. En as sy wel iets daar koop, net ’n klein pakkie.
  • Wees bewus van wat jou kind by die nasorgsentrum eet, vra vrae. Dring daarop aan dat sy nie elke dag verfynde kos soos ’n hot dog kry nie.

Nóg raad

  • Dis nooit te vroeg om jou gesin te leer om gesond te eet nie.
  • Leef en eet soos jy graag wil hê jou kind moet – stel dus ’n voorbeeld.
  • Doen dadelik iets as jy agterkom jou kind se gewig of liggaamsbeeld is vir haar ’n probleem. Kinders sal dit openlik sê of bv. noem dat maats haar spot. Luister na haar, bespreek saam ’n oplossing en kry hulp indien nodig.
  • Soms is die tekens meer subtiel: Jy kom dalk agter sy is skaam vir haar liggaam en vermy ’n swembroek.
  • Probeer die oorsaak vasstel. Dis nie altyd net verkeerde eetgewoontes nie, daar kan ook mediese of emosionele redes wees.
  • Deel inligting met haar oor die aard, oorsake en gevolge van haar probleem. Doen dit op ’n vlak wat sy verstaan.
  • Doen navorsing oor die oplossings of kry professionele hulp as jy onseker voel. Verduidelik die oplossing op so ’n manier aan jou kind dat sy die voordele insien.
  • Kitsoplossings werk nie en herhaalde mislukkings gaan jou kind net laat glo sy kan nie gehelp word nie.
  • Waak daarteen dat alle gesprekke met haar om kos of die verbod daarop draai. Sorg vir balans. Doen lekker dinge saam met haar en gesels ook oor ander dinge as kos. ’n Gelukkige kind wat voel dat jy omgee, in haar belangstel en vir haar lief is, werk beter saam aan enige probleem.
  • Maak van kleins af duidelike, konsekwente reëls oor maaltye en snoepgoed. Navorsing wys vetsug kom meer voor in gesinne sonder duidelike gesagstrukture. Dis ook dan moeiliker om die probleem op te los.
  • Jou kind eet dalk uit verveling, of omdat kos ’n beloning is, of haar ’n gevoel van beheer gee. Waak van kleins af daarteen om haar met ’n eetdingetjie te beloon as sy soet is. Of om haar te dwing om nóg te eet, al is sy versadig. Sy moet leer om op gereelde tye te eet. En net as sy honger is, nie as beloning of wanneer sy gestres is nie.

*Geneem uit ’n artikel deur Lydia van die Merwe, gepubliseer in die April 2013-uitgawe van SARIE

Nóg in My Kind