FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

My kind

‘Mevrou, jou seun is ’n skisofreen’

Skisofrenie was ’n term in haar sielkunde-handboek van jare gelede. Nie iets wat sy ooit gedink het haar eie kind sou tref nie . . . Nou wil sy graag ook ander lyers help

Louise Zietsman het gedink dis die ideale plek vir ’n gesonde gesinslewe. Sy en haar man* het hul twee dogters en seun op ’n plaas naby Vrede in die Vrystaat grootgemaak, maar toe word Paul-Hendrik (nou 27) met skisofrenie gediagnoseer en hul almal se lewe spat aan skerwe. Vandag is sy ouer suster (29) ’n voedselwetenskaplike, sy jonger suster (22) werk aan haar B.Sc.-honneursgraad en Louise versorg Paul-Hendrik heeltyds by haar huis in Johannesburg. Hier vertel sy haar roerende verhaal.

Die dag toe die psigiater vir my sê ‘Mevrou, dis skisofrenie’, het ek teruggedink aan my finale jaar as sielkunde-student. Dis een ding om daarvan in ’n handboek te lees, maar iets heeltemal anders wanneer jy hoor dis jou eie kind wat daardeur geraak word. Ek het begin terugdink aan hoe dit gebeur het. Kleintyd was daar nooit enige probleme nie. Hy was ’n wonderlike kind en ’n briljante leerder. Hy was op skool altyd onder die akademiese toptien – tot aan die einde van standerd agt [graad 10]… Toe het hy vreemd begin optree en die onderwysers het begin kla oor sy skoolwerk.

Vrydagmiddae wanneer hy van die koshuis af gekom het, was hy skielik onbeskof en aaklig. Ek het nie geweet wat aangaan nie en omdat hy 16 jaar oud was, het ek dit as adolessensie afgemaak. Ek en my man, van wie ek intussen geskei is, het ernstige huweliksprobleme gehad en ek het gedink dis dalk net sy reaksie op die slegte huislike omstandighede. Maar in ’n stadium moes ek aan myself erken hier’s iets ernstigs fout. Ek het hom na ’n sielkundige geneem, wat gesê het hy ly aan ’n sosiale fobie. Vir my het dit sommer na twak geklink en ek het nie die sielkundige se mening aanvaar nie. Ons het maar aangegaan en ek het hom deur matriek gesleep. Hy het ’n onderskeiding in Engels gekry, maar ek het geweet hy het die potensiaal gehad om ses te kry. Ná skool het hy uitgewerswese aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Ek, hy en sy ouer suster het saam in ’n woonstel in Hatfield gaan bly. Hul pa was nog op die plaas. Paul-Hendrik het sy eerste jaar goed deurgekom, maar hy het al hoe vreemder begin optree. Hy het hom sosiaal heeltemal onttrek, nie met meisies uitgegaan nie, en hy was naar en onbeskof met ons. Ek het skuldig gevoel omdat ons huislike omstandighede so sleg was. Ek het gevoel dis alles my skuld.

In sy tweede jaar het ek hom na twee huisdokters geneem en albei het gesê dis depressie, maar ek het geweet iets anders is fout – en dit was besig om te vererger. Hy het byvoorbeeld meer tyd voor die spieël deurgebring as ek en sy suster saam, omdat hy oortuig was hy lyk nie ‘reg’ nie; hy’t gedink sy neus is te groot of sy ore is te klein. Ek het vir hom gesê: ‘Praat met Mamma, wat gaan met jou aan? Wat is dit?’ Een aand het hy teenoor my oopgemaak en my alles vertel. Dit het net uitgeborrel. Hy was oortuig van sy klasmaats praat oor hom, versprei gerugte oor hom en agtervolg hom. Wanneer hy TV gekyk het of radio geluister het, sou hy dink die uitsending gaan oor hom of ons familie, dat die omroeper direk met hom praat. Hy het geglo die staat vervolg hom, die Illuminati hou hom dop, beheer ons lewens . . .

Ek het teruggedink aan my handboek oor psigopatologie, want ek het sielkunde aan Tuks gestudeer, en het besef my kind ly aan vervolgingswaansin. My skoonsuster se woorde destyds toe ek en my man getroud is, het by my opgekom: Sy het vir my gesê ek moenie kinders hê nie, want daar’s geestesongesteldheid in die familie. ’n Familielid is 20 jaar lank in die Weskoppies- psigiatriese hospitaal behandel vir skisofrenie. Die volgende dag het ek vir Paul-Hendrik ’n noodafspraak by ’n psigiater gemaak en die dokter het hom dieselfde dag nog gesien. Hy’s in die Vista- psigiatriese kliniek in Centurion, Pretoria, opgeneem. Ek was ná alles net dankbaar ons kry uiteindelik die regte hulp. Dit was in April 2004. Hy was ses weke lank in Vista en ek was elke dag by hom. Ek het vir hom ’n boek van Koos Kombuis gevat om te lees vir afleiding, toe dink hy dis kodewoorde oor hoe om uit die kliniek te ontsnap. Die psigiater het my en Paul- Hendrik se pa laat kom en vir ons gesê ons seun ly aan paranoïede skisofrenie – dis behandelbaar, maar ongeneeslik. Sy pa het gehuil, maar ek het net daar gesit. Alles binne jou gaan dood. Dis eers later, nadat hy ontslaan is, toe ek besef hierdie kind gaan vir die res van sy lewe antipsigotiese medikasie gebruik, dat ek gehuil het. Ousus voltooi haar honneursgraad, Kleinsus kry vyf onderskeidings in matriek, en Paul-Hendrik kan niks daarvan doen nie.

Nadat hy uit die kliniek ontslaan is, het hy sy studies gestaak, want hy kon glad nie konsentreer of werk nie. Hy het net een keer ’n week gebad, hy was so moeg van die medikasie dat hy net bly lê het. Sy verhouding met die psigiater was nie goed nie en hy het kort-kort opgehou om sy medikasie te gebruik. Dan het hy heeltemal deurmekaar geraak, soos ’n boemelaar in die strate rondgedwaal, duimgegooi. Hy kon homself nie versorg nie, hy het opgehou om sy hare te kam, sy tande te borsel…

Byna ’n jaar nadat hy uit Vista ontslaan is, het ek hom na ’n nuwe psigiater by die Denmar-kliniek in Pretoria geneem. Ek onthou nog ek het op pad soontoe gepraat oor pres. Jacob Zuma, want daar was koerantplakkate oor hom teen die lamppale.Toe ons by die kliniek aankom, het Paul-Hendrik vertroulik vir my gesê: ‘Mamma moenie so hard praat nie, die staat het ’n afluisterapparaat in ons motor geplant.’ Die nuwe psigiater het bevestig Paul-Hendrik het paranoïede skisofrenie. Hy was twee weke lank in die Denmar-kliniek. Hy het toe die nuwe dokter, sy diagnose en sy medikasie aanvaar. Verskillende dosisse en kombinasies van medikasie is probeer en nou is Paul-Hendrik al sowat vier jaar lank stabiel.

Hy hallusineer nie meer nie, hy het nie meer waangedagtes oor vervolging nie, hy’s nie meer paranoïes nie en hy versorg homself, hy bad elke dag, hy skeer, hy versorg sy hondjie. Maar dis al wat hy kan doen, hy kan glad nie werk nie. Nou die aand het ek en hy in die kamer gelê en gesels en hy wou huil, want dis September sy matriekreünie en hy voel hy het nog niks bereik nie. Hy werk nie, hy bly by sy ma in die huis, hy’t nie meer vriende nie. Die psigiater het vir my gesê hy het al die behoeftes wat ’n gesonde jong man het. Hy wil drankies drink, hy wil uitgaan, hy wil social en ek moet vir hom op ’n manier sê ’n gesonde meisie gaan nie in hom belangstel nie. Hy aanvaar dit, maar die matriekreünie het hom weer omgekrap, want hy was vroeër een van die topleerlinge.

Ek het in September verlede jaar my werk as finansiële adviseur bedank, omdat ek my kind heeltyds wil versorg. Ek het net besluit ek sal my lewe daaraan wy – nie net aan my kind nie, maar ook aan ander skisofrenie-lyers. My droom is om ons woonhuis in ’n tehuis vir skisofrenie-lyers te omskep. Paul-Hendrik is nou so gelukkig en stabiel as wat hy kan wees. Hy spaar geld, hy het vir hom’n trampoline gekoop waarop hy oefen, ’n kamera waarmee hy foto’s neem, hy gesels met sy niggies op Facebook. En hy lees alles na oor paranoïede skisofrenie, hy’t baie insig daarin.

Dit wás vir my baie eensaam die afgelope agt jaar. Dis nie net ander wat jou uitsluit nie, jy sonder jouself ook af. Maar ek is nou weer gereed om mense in my lewe toe te laat. Skisofrenie is ’n verskriklike siekte. Dit het ons gesin aanvanklik uitmekaar geskeur. Daar was verwyte, want ek was heeldag met boetie besig, maar nou bring dit ons bymekaar. Vir die eerste keer in baie jare voel ek nou asof ons weer in beheer is, asof ons kan aangaan. En ons lag ook vir onsself. Ons maak grappies soos: ‘Kom ons speel who’s who in the Zietsman zoo’. Ek het nooit gedink my lewe sou so verloop nie. Ek was in ’n stadium baie suksesvol in my beroep, ek was op universiteit in die huiskomitee, die studenteraad, ek was joolprinses. Alles was wonderlik en toe trou ek boonop met hierdie aantreklike man. Nooit in my wildste drome sou ek gedink het ek gaan hier land nie. Maar jy kan nie altyd hierdie dinge kies nie. Jy kry jou pakkie en jy moet daarmee deal. Ek het en ek kan nou eerlik sê die lewe is weer vir my lekker.

Wat is skisofrenie?

Dié siekte slaan gewoonlik tussen die ouderdom van 15 en 35 jaar toe. Dit kan met mans en vroue van alle kulture, rasse en agtergronde gebeur. Biologiese, genetiese en sielkundige faktore speel ’n rol in die ontwikkeling van skisofrenie, maar die presiese oorsaak is nog onduidelik. Die meeste lyers ondervind hul eerste erge simptome voor die ouderdom van 25. Simptome sluit in hallusinasies soos stemme of ander sintuiglike waarnemings wat ander mense nie beleef nie, asook delusies soos die oortuiging dat iets of iemand anders jou gedagtes of gedrag of gebeure beheer. Hierdie waanbeelde is dikwels bisar, paranoïes en kan byvoorbeeld as vervolgingswaan of grootheidswaan manifesteer. Nog simptome is onsamehangende gedagtes, spraak en gedrag, ’n gebrek aan emosionele uitdrukking en swak selfversorging. Lyers beleef ’n verwronge beeld van die wêreld en kan nie tussen werklikheid en fantasie onderskei nie. Die siekte is ongeneeslik, maar kan met medikasie soos antipsigotiese middels behandel word.

VIR HULP

SABDA, steungroep vir skisofrenie en bipolêre gemoedsteurnis:

011 326 0661, www.supportsabda.co.za