sr0902myselfdinge_04_
My kind

Moet die kinders weet van die affair?

Elmari Mulder Craig verhoudingskenner, seksuoloog en sielkundige van Pretoria sê:

Hierdie is een van die moeilikste situasies om te hanteer. Die eerste stap is dat jy self eers deur die verlies en trauma moet werk. Omdat dit so moeilik is, is dit beter om professionele raad en terapie te kry.

Besluit eers of jy bereid is om jou man te vergewe en of daar ’n moontlikheid is dat julle hierdeur kan werk en jul huwelik kan red. As egskeiding die enigste opsie is, sorg dat jy ’n goeie ondersteuningstelsel het.

Dis belangrik dat jy besef die pad na herstel is ’n proses. Dit kan ’n geruime tyd duur vir die praktiese dinge om uitgepluis te word en vir almal se emosies om te stabiliseer.

As jou kinders kleuters is en die kanse skraal is dat hulle elders van jou man se ontrouheid sal uitvind, hoef jy hulle nie daarvan te vertel nie. Dit sal ook vir hul moeilik wees om die probleem te verstaan en hul gevoelens hieroor uit te druk. Ouer kinders het ’n beter begrip en sal waarskynlik ook ’n bietjie meer besonderhede wil weet.

Maar dit bly ’n moeilike saak wat jy en jou man so sensitief moontlik in hul teenwoordigheid moet hanteer.

Albei van julle sal dit positief en met integriteit moet benader om so die trauma vir jul kinders te beperk. Moenie jou man voor hulle veroordeel nie. Hy bly hul pa. Hoe minder jou kinders en ander in elk geval weet van die presiese besonderhede van sy ontrouheid, hoe beter. Die beste is dat jy en jou man saam met hulle hieroor gesels, en dis nog beter as dit in die teenwoordigheid van ’n berader kan gebeur.

Die kinders gaan jou en jou man se liefde, begrip en ondersteuning nodig hê. Al is jy hoe kwaad en teleurgesteld, is dit vir jul kinders steeds belangrik om ’n goeie verhouding met hul pa te hê. Hulle het ook nou meer sekuriteit as ooit tevore nodig. Laat hulle besef dat die verbrokkeling van jul huwelik nie hulle skuld is nie en dat julle albei lief bly vir hulle. Praat in die algemeen, in “groot prente”. Sê bv. dit gebeur soms dat volwassenes van mekaar wegdryf en nie meer vir mekaar lief is
as man of vrou nie. Verduidelik dat dit in so ’n geval beter is vir die ma en pa om in aparte huise te bly.

Antwoord jul kinders se praktiese vrae oor egskeiding so duidelik moontlik. Vertel hulle waar hul pa gaan bly, hoe gereeld hulle hom gaan sien en of hulle hul eie kamers sal hê. Skep vir  hulle soveel moontlik struktuur.

Jul kinders gaan tyd nodig hê om hul emosies te verwerk en aan te pas by die nuwe bedeling. Dis sinvol om hulle met die hulp van ’n terapeut te help om hul gevoelens en veral onsekerhede te verwerk. As hul pa se verhouding ernstig is, kan die kinders mettertyd aan die ander vrou bekend gestel word. Hanteer dit met sensitiwiteit. Jou kinders moet weet hul gevoelens word in ag geneem.

Kinders in so ’n situasie sal baie weerstand bied. Maar as julle dit reg hanteer, sal hulle mettertyd leer om die situasie ook te hanteer.

Onthou dat hul verhouding met hul pa los staan van julle twee se mislukte huwelik of die redes hoekom jul huwelik verbrokkel het. Doen alles in jul vermoë om te keer dat hulle voel hulle moet hul pa wantrou of dat hulle nodig het om hom te vergewe. Moet dus onder geen omstandighede jou eie
woede en hartseer aan hulle oordra nie, al is die versoeking groot.