My kind

My kind word student – hoe nou?

Hoe kan sy pligsgetrou wees, maar steeds die studentelewe geniet sonder om te swig voor al die vryheid? Hoe gemaak met geldsake en die tipiese eerstejaarsindroom van vet word?

Ria de Villiers voorligtingsielkundige van Stellenbosch, se raad aan ouers

Dis normaal om met ’n klomp gevoelens te worstel. Jy is opgewonde, maar ook angstig oor of jou kind goed genoeg toegerus is. Onthou, aanpassingsprobleme is normaal – veral die eerste kwartaal is soms moeilik.

As sy ongelukkig is, moenie oorreageer, dadelik die koshuismoeder bel of haar summier gaan haal nie. Gee kans. Moedig eerder selfstandigheid aan, want kinders hét meestal die vermoë en vaardighede om die uitdagings te hanteer.

Gesels vooraf met haar oor haar persoonlike doelwitte (kort- en langtermyn) en help haar om maniere te kry om dit te bereik. Bv. “Ek wil my kursus in drie jaar voltooi, daarom gaan ek sorg dat ek onder meer elke dag my notas op datum hou.”

Goeie loopbaanvoorligting is noodsaaklik. Dit skep groot probleme as ’n kind nie die regte kursus volg nie. (Sy stel dalk nie belang nie of is nie opgewasse nie, en dan begin sy klasse mis of kuier, of sy wil opskop.) Laat sy met ’n loopbaanbeplanner of ander studente gesels oor wat ’n kursus behels sodat sy doelgerig kan studeer. Moedig haar aan om kampushulpbronne soos studiehulp of leeskursusse te gebruik. En stel belang – stuur byvoorbeeld ’n SMS as sy ’n toets gaan skryf, want dis ondersteunend en gerusstellend.

Die ideaal is dat jy van kleintyd ’n vertrouensverhouding opbou en ’n oop kommunikasiekanaal het. Dis dan makliker om nou te gesels oor hoe belangrik klasbywoning, goeie tydsbestuur, slaaproetines en deelname is. Gee inligting en goeie leesstof oor onderwerpe soos alkoholisme of dwelms. Ons dink altyd kinders weet so baie, maar hulle ken nie altyd die feite nie.

Te veel sakgeld kan net so sleg wees as te min. Maak saam ’n lys van beraamde kostes. Laat sy net vir die eerste paar maande boekhou van uitgawes – dis ’n goeie riglyn om ’n sinvolle bedrag te bepaal.

Op die meeste kampusse is daar eetplekke waar jy vooraf ete-koepons kan koop. Dis ook ’n nuttige manier om te sorg dat jou kind (verkieslik) drie gebalanseerde maaltye per dag eet – en nie heeldag ongesond peusel nie. Vrouestudente is geneig om in hul eerste jaar gewig aan te sit weens emosionele redes, maar ook as gevolg van informele sosiale kuiers en die aanpassing by die koshuispatroon. Moedig haar aan om gesond te eet en te oefen; dis sommer ook ’n lekker uitlaatklep vir stres.

Prof. Liesel Ebersöhn van die departement opvoedkundige sielkunde aan die Universiteit van Pretoria, se raad aan ouers

Jou kind is nou uit die nes en jy kan nie meer oor haar skouer loer en dophou wat sy doen nie. Dis ’n senutergende tyd vir enige ouer, maar dit moet nou tot jou deurdring dat sy met haar “nuwe” lewe begin en jy effe terug sal moet tree. Dis dalk vir haar lekker om uit te sien na soveel ekstra tyd en soveel minder toesig, maar nie vir jou nie. Dis normaal om bekommerd te voel. Jou kind moet weet dat jy haar ten volle vertrou om goeie keuses te maak. Gee haar daardie vryheid. Wees daar om “goeie” besluite te bewonder en aan te moedig, en ook daar met liefde, aanvaarding en ondersteuning wanneer “slegte” besluite haar kniehalter.

Verseker haar dat jy waardering het vir hoe sy keuses maak, en ook vir die manier waarop sy die gevolge hanteer. Wanneer sy (volgens jou) “swak” keuses maak, gee kans dat sy die gevolge ervaar. In plaas van veroordeling, trane, woedebuie en bekommernis, gee haar die geleentheid om self planne te maak om die gevolge (bv. swak uitslae, werkverlies, “verkeerde” vriende) te hanteer. Wanneer sy na jou kom met ’n struikelblok, gee haar die kans (soos wat jy met ’n vriendin sal doen) om te verduidelik waarom sy iets gedoen het en wat gebeur het. As sy raad vra, maak dan saam planne om ’n probleem op te los.

Jy kan gerus terugstaan met die wete dat dit wat jy van geboorte af in haar belê het, nou vrugte gaan afwerp. Maak seker dat sy weet jy is trots op wat sy reeds bereik het om toelating te kry vir verdere studie.

Ria de Villiers voorligtingsielkundige van Stellenbosch, se raad aan studente

Doen deeglike loopbaanbeplanning. Maak seker jy kies ’n kursus wat jy wíl doen en waarvoor jy ’n aanleg het. As jy regtig belang stel, sal jy vasbyt. Stel doelwitte en besluit hoe jy dit gaan aanpak.

Wees voorbereid op ’n akademiese omgewing wat radikaal verskil van skool. Die klasse is baie groter en lesings is langer. Die werklading is baie meer en dis jou verantwoordelikheid om lesings by te woon en by te hou. Jy het ’n baie meer buigsame skedule en baie meer vryheid.

Besluit wat is jou waardes en wees selfhandhawend. Jy hoef nie altyd saam te kuier om deel van die groep te wees nie. As jy ferm volgens jou waardes optree, sal mense meer respek hê vir jou.

Bestuur jou tyd goed, dis uiters belangrik. Kry van die begin af ’n balans tussen sosiale aktiwiteite, akademie en oefening of ’n kreatiewe uitlaatklep wat jou help om spanning te ontlaai.

Jou eerste jaar gaan deur verskillende fases. Dit begin met oriëntering. Neem deel daaraan en leer ken soveel moontlik studente, ook as jy in ’n private wyk is. Dis ’n tyd van min slaap en baie emosies, en alles kan soms oorweldigend lyk. Daarna begin die akademiese jaar en jy word met nuwe akademiese eise gekonfronteer. Dis normaal om onseker te voel en dalk heimweë te hê na jou bekende omgewing.

Nou volg werkstukke, projekte en toetse. Bly op datum. Dis ’n uitdaging om jou plek op kampus te vind – sosiaal en akademies. Leer ken mense wat saam met jou klas loop. Sluit by ’n studiegroep aan, jy voel baie meer gekoester as jy saam met ander in die ding is. Jou eerste toetspunte is belangrik om jou selfvertroue te bou. As jy swak vaar, vind uit hoekom en stel dit so gou moontlik reg. Moenie moed verloor nie. Hou altyd jou langtermyndoelstelling in ag.

As jy nie met jou kamermaat oor die weg kom nie of sy wil nie studeer nie, is daar gewoonlik aparte studiekamers – maar moenie dadelik vra vir ’n ander kamermaat nie. Hou ’n bietjie uit. Dis ook deel van die emosionele groeiproses om aan te pas by verskillende mense.

Dis normaal as al dié veranderinge by tye stresvol en oorweldigend voel. Volgende jaar is jy tweedejaar en alles is baie meer bekend!

Slim Wenk

Leer ken mense wat saam met jou klas loop. Sluit by ’n studiegroep aan, want jy voel baie meer gekoester as jy saam met ander in die ding is.

 

Elmarie Claassens kliniese sielkundige van Westdene en Kempton Park, se raad aan studente

Jy kan jou studentelewe geniet sonder om oorboord te gaan. Jy is heeltemal oud genoeg om nou jou eie besluite te neem, en om met die gevolge daarvan saam te leef.

Sê “nee” wanneer jy wil “nee” sê en “ja” wanneer jy wil. Niemand kan jou dwing om enigiets te doen of te sê nie – jy is die een wat toestemming gee en jou eie aksies kies.

Jy is deur matriek. Dit beteken jy weet jy moet soms studeer en soms ontspan. Daar gaan dalk net baie meer doendinge beskikbaar wees. Ondersoek hierdie oester deeglik en raak betrokke by dinge wat jy geniet en wat ook nuwe uitdagings vir jou bring. Dit is sekerlik moontlik dat jy jouself kan oorlaai, maar hou by ’n skedule en onthou dat alles nie vandag hoef te gebeur nie (behalwe wanneer jy toets skryf). Sorg dus dat jy presies weet wanneer jou spertye vir projekte is en hou daarby, of dra die gevolge.

Sorg dat jy ’n openlike, realistiese gesprek met jou ouers het oor sakgeld en wat jou behoeftes is. Wat jy nie het nie, kan jy nie spandeer nie – hou daarby. As jy meer wil hê, kry ’n werkie. As jy baie op jou ouers gesteun het vir besluite en reëls, kan jy dalk nou oorweldig en selfs bang voel. Dis normaal om onseker te voel en om vrae te vra. Net die student wat nooit vra nie, bly onseker en angstig. As jy voel jy kan glad nie cope nie, doen navraag oor sielkundige dienste (die meeste tersiêre instellings het spesiale dienste) en gaan spreek iemand wat jou kan help.

VIR HULP

* Ria: 021 8839847
*Elmarie: pinkshrink@ vodamail.co.za
*Liesel: liesel.ebersohn@up.ac.za