My kind

My kinders bly stry – hoe hou ek kop?

 

“Ek moes altyd wedywer vir my ma se tyd en aandag. Sy het my van kleins af ‘die  sterk een’ genoem. Maar hierdie troos het geensins gehelp toe sy vir my suster, Karin,’ n Barbie-pop koop en nie vir my nie. Ook nie toe sy haar later gehelp trek en vir haar kos aangedra het nie. Ek moes alleen trek.”

Op 40 het René Swanepoel (skuilnaam) van Bellville daarmee vrede gemaak dat Karin die een is vir wie haar ma al die jare jammer kry, terwyl sy die suster is wat moet cope, “al kan ek ook verkrummel”.

René het egter besluit om hard aan die verhouding met haar suster te werk. “Hoewel ek ’n ekstrovert is en Karin ’n introvert, is ons lief vir mekaar en kom ons nou baie beter klaar as toe ons klein was. Ons help mekaar. Solank my ma uit die saak bly, want sy maak my net seer.”

Kinders kan reeds vroeg al begin wedywer. Sibling rivalry, word dit in Engels genoem. Maar as jy hierdie wedywering leer verstaan, reg hanteer en selfs die  positiewe daarvan insien (soos dat dit hulle kan voorberei vir goeie verhoudinge in die toekoms), kan jy dit oplos en voorkom dat jou kinders dalk vir die res van hul lewe vassit.

Die wortels van volwasse sibbewedywering lê gewoonlik in die kinderjare, sê Leanne Greeff, opvoedkundige sielkundige van Pretoria. Jou verwagtinge en dus die druk op jou kinders – etikette soos “die slim een”, hul vrees vir mislukking en die feit dat jy dalk ’n gunsteling het – speel alles ’n rol, sê sy.

In SABC2 se reeks Erfsondes (Dinsdae, 19:30) wedywer Chris (Emmanuel Castis) en Samantha Spencer (Catriona Andrew) oor wie hul sterwende pa, Anthony, se onderneming behoort te bestuur.

Henriëtta Gryffenberg, skrywer van dié reeks, sê Anthony het as jong man sy broer uit sy erfporsie verkul én met sy meisie getrou om die familie-onderneming te red. Nou dra Anthony “die sondes van die vaders” aan sy kinders oor. Hy glo boonop nie Samantha kan die maatskappy bestuur nie. Van kleins af glo sy weer Pa het haar nie lief nie. Sy stig haar eie maatskappy om sy guns te wen en om haar broer se maatskappy opdraand te gee.

En dis nie net ’n storieboek-scenario nie. Verhoudinge binne gesinne ís baie emosioneel. Ons leef naby mekaar en konflik is dus normaal. Volgens navorsing (http://en.wikipedia.org/) ding kinders wat naby in ouderdom aan mekaar is, dikwels mee (hulle stry oor dieselfde besittings en vermaak), veral as hulle dieselfde geslag is (www.betterhealthchannel.com.au/). Of as een besonder begaafd is. Dié tussen 10 en 15 wedywer die meeste. Selfs voor jou tweede kind se geboorte kan jou oudste voel die nuwe baba neem jou liefde en aandag weg.

Bou só goeie verhoudinge

  • Stel ’n goeie voorbeeld. Kinders wat voortdurend aan erge ouerlike konflik blootgestel word, neig meer tot angs en aggressie.
  • Leer hulle geweld is nie ’n oplossing nie.
  • Prettige gesinsaktiwiteite skep ’n goeie atmosfeer en gemeensaamheid.
  • Woon as gesin mekaar se aktiwiteite by. Dit bevorder omgee en samehorigheid.
  • Respekteer elke kind se vermoëns en talente.
  • Keer dat jou kinders honger, verveeld of te moeg word. Dan baklei hulle éérs.
  • Leer jou kind dat sy ’n geterg kan ignoreer, dit met humor kan hanteer, met die terggees kan saamstem of kan sê “genoeg is genoeg”. (www. childdevelopmentinfo.com)
  • As jou dogter “seunsdinge” wil doen, soos om saam met haar pa te gaan jag, laat haar toe (en andersom).
  • Leer jou kinders liefdevol teenoor mekaar wees en dat liefde “ten spyte van is, nie vanweë nie”.
  • Leer hulle ’n mens kan vriende kies en verloor, maar gesinsverbintenisse is vir altyd.
  • Moedig respek aan. Sê: “Dit was darem gaaf om jou suster so te help.”
  • Wees konsekwent.
  • Moedig vriendskappe aan. Jou kind hoef nie heeltyd met sy broers of susters te speel nie.
  • As jou kinders iets van mekaar leen, moet dit ongeskonde en binne ’n sekere tyd terugbesorg word.
  • Leer hulle om mekaar geluk te wens met prestasies.
  • Laat jou kinders spesiaal en veilig voel, en voel dat jy hul geselskap geniet.

Dr. Emily Pienaar, opvoedkundige sielkundige van Stellenbosch, sê kleuters wedywer dan omdat hulle reeds emosies soos liefde, vrees, angs, woede, jaloesie en vreugde kan ervaar. Jong kinders sukkel ook nog om sosiale vaardighede, soos die hantering van jaloesie en mededinging, aan te leer.

Navorsers aan die Universiteit van Michigan het vasgestel sibbe kompeteer om hul individualiteit binne die gesin te definieer, aldus Wikipedia.

“Jy is boonop jou kinders se primêre bron van liefde en aandag en hulle wedywer daarvoor,” sê Emily.

Jou kinders soek ook jou aandag deur te baklei. Jong kinders kan nie tussen positiewe en negatiewe aandag onderskei nie.

Eloise Wieman van Kaapstad beaam dit. “My ma sê my kinders (11 en 14) is bedags stroopsoet, maar sodra ek ná werk tuiskom, baklei hulle om my aandag te kry.”

Sibbe vergelyk hulself ook graag met mekaar. “Die presteerder kan die ander  onderdruk of op hulle neersien,” sê Emily. Daarby toets hulle die grense deur mekaar te terg.

Daar’s nóg ’n paar faktore wat ’n rol speel: Kinders van verskillende ouderdomme het verskillende behoeftes en vaardighede.

Kleuters laat graag hul wil seëvier. Hulle beskerm bv. hul speelgoed, sê Leanne. Selfs met aggressie.

Laerskoolkinders het weer ’n sterk aanvoeling vir regverdigheid en verstaan nie al die aandag wat ’n jonger een moet kry nie.

Tieners daarenteen is meer onafhanklik, wil individue wees en meer privaatheid hê. Hulle wil ook nie meer vir kleinsus oppas nie. Daar’s boonop groepsdruk en hormoonveranderings.

Leer hulle só sosiale vaardighede


Sodra jou kinders kan verstaan, span sibbe-wedywering in om hulle sosiale vaardighede aan te leer:

  • Moedig positiewe kommunikasie aan. Eet almal saam. Fokus daarop om primêre gevoelens te deel. ’n Kind moet bv. seerkry-gevoelens bespreek, eerder as sê “boetie het my pop gebreek”. Jou kinders kan dan ook ervaar hoe julle as ouers behoeftes en verskille hanteer.
  • Leer jou tieners om eerder selfgeldend as aggressief te wees.
  • Lê vroeg reeds reëlsneer: ’n Gevloek, lelike name, ’n geskree of geweld is ontoelaatbaar.
  • Beloon goeie gedrag.En prys hulle wanneer hulle konflik reg ontlont het.
  • Leer jou kinders om kritiek met ’n positiewe stellingop te volg. Dit help om die fokus van fout vind te verander na ook erkenning gee.
  • Leer almal vaardighede om streste hanteer. Ontspanne gesinslede baklei minder.
  • Leer jou kind om diep asem te haalwanneer sy haar vervies. Sy moet haarself vra: Is ek kwaad vir my broer of net gefrustreerd met die situasie? En práát oor haar gevoelens.
  • Leer hom om vir iets te vra,eerder as te gryp.
  • Leer jou kinders dat ’n mens soms kan ooreenkom om met mekaar te verskil. Dit vestig respek vir verskillende standpunte.

Doné de Vries (skuilnaam) sê haar drie kinders (van laerskool tot kollege) baklei só dat dit soos oorlog klink.

“Dis emosioneel uitputtend. Dit stel my baie teleur, dis asof ek misluk het. Ek vlug dan liewer uit die huis. Tog troos ek myself dat dit normaal is; ek en my broer het tog ook baklei,” sê sy.

En jy wonder dalk: My kinders was verlede jaar nog pêlle, maar nou is hulle soos kat en hond. Hoekom?

“Soos hulle ouer word, verander hul gevoel van veiligheid,” sê Emily.

Eers is die gesin die basis van hul gevoel van veiligheid, dan hul maats. Sibbe word nou uitgeskuif. Jou kinders beweeg dan in verskillende groepe, en hul idees en waarde-oordele verander.

“Soms is hulle lief vir mekaar, dan verafsku hulle mekaar weer,” sê sy.

As dit klink of rusies vererger, skep moed. Jou ouer kinders is dalk net “beter”  toegerus om verbaal, fisiek en emosioneel te wond.

Kinders met uiteenlopende persoonlikhede of dié met soortgelykes bots ook. Twee ekstroverte kan bv. meeding oor wie met die skerpste sêgoed vorendag kom.

Temperamente kan ook verskil. Een kind is sorgvry, die ander gedrewe. Jou klouerige, emosioneel-sensitiewe kind word dalk deur die ander verwerp oor al die aandag wat hy kry, sê Leanne.

Maar jy moet jou kinders se unieke behoeftes in ag neem. Een is dalk sieklik, het ’n emosionele of leerprobleem, of is begaafd en het dus meer kontak met jou nodig. So ook ’n kind wat ’n trauma beleef het. Leer jou kinders dat jy billik is, maar dat een soms meer aandag nodig het.

Kinders van dieselfde geslag kan óf goed klaarkom óf wedywer, sê Leanne.

Hou ook in gedagte dat ’n dogter (tot 18) gewoonlik emosioneel verder ontwikkel het as ’n seun van min of meer dieselfde ouderdom. Of een kind se vaardighede het verder ontwikkel en dit laat die ander bedreig voel.

Dalk behandel jy boonop jou kinders verskillend, sê Emily.

“Jou seun leer bv. hy is meer ‘waardevol’, of jy maak hom rower groot. Hy is gewoonlik meer aggressief en baklei fisiek. Jou dogter is dikwels meer verbaal en wond met woorde.”

Eloise se kinders verskil. Haar dogter druk graag haar jonger boetie in die ribbes of stamp aan hom. “Omdat sy ook dink hy’s opvreetbaar, gee sy hom graag drukkies. Hy haat dit en wikkel hom met geweld los,” vertel sy.

Namate jou kinders sosiale vaardighede bemeester, leer hulle egter emosies hanteer. Dan beweeg hulle weer nader aan mekaar.

Kry sielkundige hulp as …


  • jou kind die funksionering van die gesin ontwrig;
  • sy optrede ’n emosionele of sielkundige effek op enige ander gesinslid het;
  • sy gedrag tot huweliksprobleme lei;
  • hy jou ander kinders fisiek seermaak of hul selfbeeld aantas; of
  • as jy vermoed hy ly aan depressie of ’n lae selfbeeld.

Bron: www.kidshealth.org

Emily se boodskap is: “Probeer om die wedywering as positief te beskou. Dit leer kinders om saam te speel, te deel, selfgeldend te wees, emosies te beheer, en interpersoonlike probleme op te los.

“Wanneer hulle wedywer, probeer hulle ook harder en verbeter so sekere vaardighede,” sê Leanne.

Solank dit net nie met aggressie en ’n voortdurende bakleiery gepaard gaan nie. Jy kan help deur dit self reg te hanteer. Begin sommer met ’n nuwe geboorte. Betrek al jou kinders by die voorbereiding. Wys hulle hul kleintydfoto’s en sonarprentjies en staan alleentyd aan elkeen af. Moenie jou oudste ook nog van haar wiegie ontneem, haar speen of van die doek afhaal nie.

Die aanpassing is groot genoeg.

“Raak verkieslik net betrokke by jou kinders se bakleiery as daar geweld of pyn is. Moet ook nie kant kies nie,” sê Leanne. Laat hulle kalmeer en self geskille uitpraat. Of julle kan later almal saam ’n oplossing vind.

Moet ook nie hul beskuldiging – “dis unfair!” – te ernstig opneem nie. Jou jonger kind móét bv. vroeër gaan slaap. Sy het dit meer nodig, terwyl jou oudste meer sakgeld nodig het. Verduidelik dit net. Só leer hulle ook grootword het voorregte en verantwoordelikhede.

“Leer hulle om te deel, maar nie alles nie. Elke kind is geregtig op sy eie goed. Laat hulle wel beurte maak om bv. videospeletjies te speel. As hulle steeds stry, staak die spel. Of verwyder dit waaroor hulle baklei en stel ’n ander speletjie voor.”

Bring alleentyd met elke kind deur en moenie een voortrek of jou kinders vergelyk nie, sê Emily. Dis ook onregverdig om ’n ouer kind verantwoordelik te hou vir ’n jonger een. As iets ontstellends gebeur, sal die ouer kind skuldgevoelens hê. Moet ook nie toegee aan die eise van jou jongste “omdat hy nie van beter weet nie”. En gee jou tiener baie liefde en aandag, al “gril” hy vir aanraking.

Kinders baklei graag in die motor.

Verduidelik van kleins af aan hulle dat jy só ’n ongeluk kan maak. Hulle moet leer hulle mag nooit in ’n motor baklei nie. Ook nie wanneer hulle groot is nie. Jou kind moet saggies in die motor praat.

Speel sagte musiek, sorg vir ’n speelding vir elkeen. Of iets soos ’n elektroniese speletjie vir ’n ouer kind. Maak motorreëls. Laat ouer kinders beurte maak om voor by jou te sit. As hulle amok maak, verbeur hulle tydelik dié voorreg. Moenie stilhou nie. Jou kinders moet weet dis onveilig, sê Emily.

Jy kan ook voorregte wegneem, soos dat hulle nie vanaand 7de Laan mag kyk nie. “Hou net daarby,” sê Leanne.

As jou kinders volwasse is, respekteer steeds hul individualiteit. Gee hulle steeds ruimte om te groei. Werk almal saam om alle misverstande tussen gesinslede spoedig op te klaar.

Wees simpatiek waar nodig en moedig hulle aan om vir mekaar “jammer” te sê. As een raad vra, lewer opbouende kommentaar. Moenie een blameer nie en moenie van een teenoor ’n ander skinder nie. Moet ook nie jou kinders se eggenotes of geldsake vergelyk nie.

Inisieer gerus ’n blog of e-posse waarmee hulle kan kommunikeer. As probleme voortduur, besoek almal saam ’n sielkundige. “Onopgeloste kwessies kry só aandag en julle kán vrede vind,” sê Leanne.

Wikipedia sê juis sowat 80% van sibbe oor 60 is na aan mekaar!