0904niealleen01
My kind

My tiener ruk hand uit

 

Sy maats is alles en ek weet nie of hulle ’n goeie invloed op hom het nie. Ek vermoed hy rook. Hy wil nie skool toe gaan nie, en as ek met hom daaroor praat, word hy woedend. Ek het gedink ons het ’n goeie verhouding, maar nie meer nie. Wat gaan nou aan?

Anne Cawood, Kaapstadse maatskaplike werker met ’n private praktyk, antwoord:

Adolessensie is die tyd wanneer jou kind sy/haar eie identiteit ontwikkel. Hy moet nou besluit wie hy wil wees. Daarom probeer hy jou reëls en grense toets en verskuif. Sy hormone werk oortyd en dít kan hom nog meer buierig en selfgesentreerd maak.

Sy liggaamlike veranderinge kan hom ook dikwels verward en onseker laat voel. Selfs al het jou kind kleintyd hope selfvertroue gehad, sukkel hy nou met sy selfbeeld en voel geweldig onseker. Sy portuurgroep het nou die grootste invloed op hom. Hy’s bang om “anders” te wees en dat sy vriende hom nie sal aanvaar nie.

Maar dit beteken nie hy kan maak wat hy wil nie. Só baie hang van jul verhouding af. Doeltreffende dissipline word bepaal deur die manier waarop jy dit oordra. Jy moet altyd jou kind met respek benader. Jy kan kwaad wees sonder om afbrekend te wees. En selfs al is hy beledigend, kan jy nie tot op daardie vlak daal nie.

Probeer altyd om eerder oor dinge te onderhandel. Die wegspringplek is dus nie om jou kind swaarder te straf of aanmekaar te neul nie, maar om met hom te gesels en agter te kom wat sy vrese is.

Jy moet bekommerd raak as julle glad nie meer met mekaar kan praat nie. As daar feitlik geen interaksie meer is nie – behalwe vyandigheid en bitterheid. Ook as sy gedrag baie verander. Hy is nie net buierig en selfgesentreerd nie: die dinge wat normaalweg vir hom lekker was, laat hom nou koud. Hy bestee al sy vrye tyd agter geslote deure, sy skoolprestasie verswak drasties en/of hy maak vriende wat jy voel ’n slegte invloed op hom het. As jy regtig bekommerd is, soek professionele hulp vir jouself. Só kan jy leiding kry oor wat jy moet doen. Soms moet jy jou kind ook maar net laat begaan.

Dis belangrik om ’n balans te vind: Jy moet hom toelaat om binne perke sy eie keuses te maak en uit die gevolge te leer – al maak hy foute. Moenie jou oor klein dingetjies opwerk nie. En moenie ’n beheervraat wees nie. Gee hom ruimte met bv. sy keuse van klere en vriende en sy deurmekaar kamer. Vergroot die grense geleidelik soos hy ouer word. Hy moet sy vryheid stadig verdien, dit gaan saam met ’n verantwoordelikheidsbesef.

Daar moet egter ononderhandelbare reëls wees. Jy kan hom dalk nie keer om te rook nie, maar jy het die reg om dit in jou huis te verbied. Hy moet weet wat die gevolge gaan wees as hy die reëls verbreek. Gun hom sy privaatheid, maar binne perke. Probeer om altyd kalm en in beheer van emosies te bly.

Dis belangrik dat jy grense stel. Soos geen dwelms nie, geen alkohol as hy onder 18 is nie. Hy moet verkieslik ook nie rook nie. Geen gevloek en fisieke geweld nie. Hy moet sy plig op skool doen. As jy egter nie kleintyd grense gestel het nie, is dit baie moeilik om dit nou te doen. Jy sal dan beslis met hom moet onderhandel en nuwe reëls maak.

Maar onthou:

As jy kwaai en berispend is, gaan dit net tot ’n magstryd en selfs nog meer rebelsheid lei. Die kruks: Stel die grense duidelik en laat hom binne perke die gevolge van sy keuses dra. As niks anders werk nie, moet jy hom dalk toelaat om uit die ongelukkige gevolge van sy onaanvaarbare optrede te leer. (Soos met dwelms, steel en gewelddadige gedrag.) Maar staan by hom en verseker hom altyd van jou liefde. Probeer om dinge deur sy oë te sien, luister na hom en wys empatie. Wees versigtig om nie veroordelend te wees nie. Vermy negatiewe etikette, dit word selfvervullende profesieë.

Verskuif die grense stadig soos wat sy verantwoordelikheidsin ontwikkel. En onthou: Daar is lewe ná jou kind se adolessensie!

*Anne is die skrywer van Tieners moet grense hê: Doeltreffende dissipline sonder straf (Metz Press, 2008). Kontak haar by acawood@herschel.org.za of 083 480 0822.