sr0905anna02
My kind

Molestering: Anna se verhaal

Een Saterdagoggend soek ek, ‘n ywerige leser, ‘n nuwe boek om te lees. My huismaat stop my een in die hand.

“Ek is nie nou lus om oor verkragting te lees nie,” keer ek. “Léés dit,” kom die antwoord. Ek het Dis ek, Anna dieselfde middag nog deurgelees – die verhaal van ‘n vrou wat as kind deur haar stiefpa gemolesteer is. Lanklaas het ‘n boek my soveel emosies op een slag laat ervaar: ongeloof, hulpeloosheid, skok, hartseer, woede. Hoop.

Twee weke daarna kry ek ‘n oproep van die Bloemfonteinse regisseur Pieter Venter. Hy weet nie of ek die boek al gelees het nie, maar sal ek belangstel om die hoofrol te speel in die verhoogverwerking van Dis ek, Anna vir die Volksblad-kunstefees? Ek het lam geword. Dit was maar harde bene kou as vryskut-aktrise ná my rol as Inge in 7de Laan. Hierdie geleentheid was presies waarvoor ek gewag het. As mens en as kunstenaar – ‘n storie wat ek wéét ‘n verskil sal maak. Die produksie was ‘n reuse-sukses.

Vertonings uitverkoop, staande toejuiging. Ekstra vertonings is gereël. Groot was my teleurstelling toe Anchien Troskie, die skrywer van die boek (onder die skuilnaam Elbie Lötter), nie kon kom kyk nie. Maar Tannie Sally, haar skoonma, wat in Bloemfontein woon, het wél.

Dis vreemd, albei my ouers is professors in sielkunde – my ma het haar doktorsgraad oor seksuele molestering gedoen en getuig dikwels in die hof daaroor. ‘n Mens sou verwag ek moet meer vertroud wees met die onderwerp as baie ander mense. Maar toe ek Tannie Sally sien, het ek vreeslik begin huil – vir die eerste keer sedert ons aan die produksie begin werk het. Dalk weens die trane wat ek nog heeltyd opgekrop het: Van spanning, van die verantwoordelikheid wat op my skouers rus om die ongelooflike oorlewingsverhaal van Anchien Troskie te vertel, om dit met deernis en oortuiging te doen, bang dat ek Anchien sal teleurstel. Maar veral ook weens die werklikheid van Anchien se storie wat my in die maag getref het toe ek haar skoonma sien.

Tannie Sally het my in haar arms geneem en lank vasgehou – sy het Anchien ná die vertoning gebel en vertel hoe treffend en mooi dit was. Sy het al die karakters herken en gesién, want sy kén vir Anchien en haar sussie. En het haar ma, pa en stiefpa geken. Toe huil ek sommer nog meer. Ek het Anchien nog nie ontmoet nie, maar ons het al verskeie kere oor die foon gepraat en lekker saam gegiggel oor ditjies en datjies. Want Anchien Troskie het lag in haar stem . . .

Hoe het jy gevoel toe jy hoor jou boek word ‘n verhoogstuk?
Skryf is ‘n eensame proses. Niemand staan agter jou en klap hande wanneer jy ‘n besonderse woord, sin of gedagte neerpen nie! Die verhoogstuk is vir my erkenning. En natuurlik was ek verras. Die boek verras my gedurig.

Wat dink jy trek mense so aan na die boek en toneelstuk? Hulle kon maklik gesê het dis net nog ‘n stuk oor molestering.
Dalk omdat dit waar is? Dis nie net nog ‘n fiktiewe verhaal met fiktiewe karakters nie. Dis genuine. En omdat so baie vrouens (en mans) hulle met Anna kan vereenselwig. Die verhale van gemolesteerde kinders is tog dieselfde. Ons almal gaan deur dieselfde angs, vernedering en woede.

Sal dit vir jou moeilik wees om na die toneelstuk te gaan kyk?
Byna onmoontlik. Ek het ‘n baie kort stukkie (toevallig) op kykNET se Fiësta (dit was oor die Volksblad-kunstefees) gesien en onmiddellik die bewerasies gekry. Ek sou so graag wou, maar is van nature ‘n bangbroek! Dalk daag ek tog daar op . . .

En vir jou gesin?
My kinders en van hul vriende is KKNK toe om (onder meer) na die toneelstuk te gaan kyk. Ek was nie so seker oor hul besluit nie, maar hulle wou – en dis oukei.

Wat is die sentrale boodskap wat jou verhaal oordra?
Ek sou slegs een sentrale boodskap wou oordra: Watter onreg ons ook al aangedoen word, daar is genesing. Dat ons daaraan moet bly vasklou en daarin moet bly glo.

Mense het jou al gekontak om hul eie verhale te vertel. Kan jy ‘n paar met ons deel?
Nee, dit sal onregverdig wees. Maar dít kan ek wel sê: Dis nie net vrouens wat skryf nie. En dis veral middeljarige mense wat nou eers die moed het om te erken dit het ook met hulle gebeur. En van die verhale is grusaam . . . baie erger as Anna s’n. Wat my veral opval, is dat die meeste van hierdie mense doodnormale lewens lei. Hulle is getroud, het kinders. Wat net weer bewys: Ons is sterk – baie sterker as wat ons dink.

‘n Hele paar mense wat by die toneelstuk betrokke was, is self as kind gemolesteer. Vir sommige was die produksie ‘n helingsproses, vir ander het dit ou wonde oopgekrap. Toe ek op die verhoog was, kon ek soms hoor hoe mense in die gehoor hartverskeurend huil. Dit het my oë laat oopgaan vir die werklikheid van die situasie. Dink jy molestering is meer algemeen as wat vermoed word?
Ek dink dis baie algemeen. En dit laat ‘n mens so wanhopig voel. Hoe keer jy dat ‘n kleine kindjie gemolesteer word? Hoe verduidelik jy aan jong kinders dat dit hul reg is om “nee” te sê?

Ek het sterk oorweeg om my hare vir die rol af te skeer om my vroulikheid te verberg. Weldra het ek besef dat deur manlik te lyk, ek die gehoor kon vervreem en sodoende die boodskap van hoop en aanvaarding in die wiele ry. Nie alle vroue wat molestering deurgemaak het, kan egter hul vroulikheid (letterlik en figuurlik) vir hulself terug-
neem of afsluiting kry nie. Wat is jou raad aan hulle?

Maskers is ellendige goed. Hoe langer jy agter ‘n masker wegkruip, hoe moeiliker is dit om jouself weer te vind, en hoe moeiliker kom genesing. Deur jouself as hierdie androgene wese voor te doen, benadeel jy net jouself. Ons het almal maar agterna byna ‘n afsku aan ons lywe, aan ons seksualiteit. Maar die geheim is om te onthou: Destyds kon jy niks doen nie, destyds het jou “nee” geen geluid gemaak nie. Maar ons lewe nie in die verlede nie, ons lewe nou. En nou kan jy iets doen, nou kan jou “nee” hard en duidelik gehoor word. Molesteerders ontneem ons van ons jeug, ons kindwees, hoekom sal ons toelaat dat hulle ons ook van ons selfbeeld, ons eiewaarde ontneem? Deur agter ‘n masker te lewe, laat jy hom wen. Nee wat, ons is beter as dit, ons is wenners – ons trek ons mooiste klere aan, sit ons vrolike gesig op en kyk die wêreld vierkantig in die oë. Want ons is nie meer slagoffers nie. Ons is oorwinnaars! (En: dankie tog, Antoinette, dat jy nie daardie lieflike bos hare laat waai het nie!)

Een van die ergste oomblikke vir my (op die verhoog en in die boek) is Anna se ma wat haar nie wil glo nie en haar dan verstoot en verwerp . . . Jy het vandag ‘n wonderlike en oop verhouding met jou kinders, Chris (19) en Joice (18). Waarom dink jy is daar ma’s wat hulle blind hou vir wat met hul kinders gebeur, of nie hul kinders wil glo nie?
Dis ‘n vraag waarop ek wraggies nie antwoorde het nie. Ek weet nie . . . dalk omdat die ouer(s) die molesteerder gewoonlik goed ken – ek bedoel, wie sal wil glo daar skuil ‘n monster in iemand vir wie jy lief is? Ja, ek en my kinders het ‘n oop verhouding. Van ‘n vroeë ouderdom het ek regte en verkeerde seks aan hulle verduidelik. En nie net omdat ek gevaar oral sien loer het nie, maar ook omdat ek glo dis my plig as ouer. Jou kinders behoort nie hul seksopvoeding by vriende te kry nie.

Hulle sê molesteerders is gewoonlik self as kinders gemolesteer. Wat is jou gevoel hieroor?
Dis een van die baie dinge wat ek nie verstaan nie. Hoekom sou iemand wat deur so ‘n hel is dit aan iemand anders wou doen? Dalk is dit net ‘n verskoning. Dalk is die pyn vir sommige só diep gewortel dat hulle nie anders kán nie. Wat die rede ook al is, dit bly vir my onverstaanbaar dat ‘n kind vir enigeen ‘n seksuele aantrekkingskrag kan hê.

Die boek se sukses het jou verbaas. Is dit dieselfde met die toneelstuk?
Die sukses van die verhoogstuk kom almal toe wat daarby betrokke is. En nee, ek is nie regtig verbaas nie, met sulke talent op en agter die verhoog kan dit tog nie anders nie!

AS DIT MET JÓÚ KIND GEBEUR
Antoinette se ma, prof. Anet Louw van die departement sielkunde aan die Vrystaatse Universiteit, gee die feite. Sy het haar doktorsgraad oor seksuele molestering gedoen.

1. ’n Ma se rol
Die ma se ondersteuning is die grootste voorspeller van hoe ’n gemolesteerde kind in die toekoms sielkundig gaan funksioneer. Méér nog as die soort molestering (bv. betasting of penetrasie), hoe lank dit duur of die kind se verhouding met die molesteerder. Gemolesteerde kinders wat deur hul ma’s ondersteun word, se kanse is groter om die trauma te oorkom. Navorsing wys ook kinders wat nie ondersteuning van hul ma’s kry nie is geneig om hul aantygings van molestering terug te trek, dit glad nie te rapporteer nie of dit te ontken, al is daar duidelike bewyse dat dit wel gebeur het.

2. Waarom kan party ma’s nie ondersteuning gee nie?
Anders as wat algemeen aanvaar word, glo die meeste ouers wél hul kinders en hulle is bereid om stappe te doen. Maar nie alle ma’s ondersteun hul gemolesteerde kinders konsekwent nie. Van die redes:
* Die oorweldigende emosionele ontwrigting wat die meeste ouers ná so ’n onthulling ervaar.
* As die pa die molesteerder is, kan die ma intense konflik oor haar rolle ervaar, haar verantwoordelikheid en getrouheid as ’n ouer teenoor haar verantwoordelikheid en getrouheid as eggenoot.
* As die molesteerder die ma se nuwe man of kêrel is, kan sy so ’n onthulling as ’n bedreiging vir haar emosionele en finansiële sekuriteit beskou.

3. Die effek van molestering
’n Mens kan nie veralgemeen oor mense wat gemolesteer is nie. Dit hang af van die konteks waarin dit gebeur het, die soort molestering, hoe lank dit aangehou het en die verwantskap van die kind met die molesteerder. Heelwat hang ook af van so iemand se persoonlikheid en hoe probleme hanteer word. Sommige rig hul gevoelens na binne (bv. depressie, angs, vermyding), ander na buite (met gedrag soos aggressie en promiskuïteit). Sommige mense toon geen gedragsimptome nie.

4. Geslagsverskille
Sommige studies wys seuns wat gemolesteer is, is meer geneig om hul gevoelens na buite te rig en meisies na binne. ’n Mens kan egter nie klinkklare afleidings maak nie, omdat die molestering van seuns minder gerapporteer word en net dié met erge simptome gewoonlik na ’n sielkundige verwys word.

5. Wat maak dit vir kinders makliker om te sê as hulle gemolesteer word? 
Al is die samelewing deesdae meer bewus van seksuele molestering, hang dit steeds in ’n groot mate af van die verhouding wat ’n kind met sy of haar ouer(s) het. Kinders wat met gemak met hul ouers oor enige onderwerp kan gesels, sal uiteraard meer vrymoedigheid hê. Kinders bly maar bang vir die reaksie wat so ’n onthulling sal uitlok.

6. Ouers se reaksie
Ouers is uiteraard geskok ná so ’n onthulling. Hul reaksie is egter van kardinale belang, nie net om dit makliker te maak vir die kind om te praat nie, maar ook vir die daaropvolgende ondersoek, asook die kind se herstelproses. Ouers hanteer die proses dikwels verkeerd, met heftige reaksies en die verkeerde vrae. Laat die kind toe om te vertel wat gebeur het – nes met enige ander gebeurtenis. Maar moenie te veel vrae vra of heftig reageer voor die kind nie. Dit maak hulle net meer angstig. Hulle dink dikwels hulle het ’n fout gemaak, of is ontsteld oor die ouer se reaksie. Vind daarna by ’n sielkundige of maatskaplike werker uit wat jou te doen staan. Waarskynlik sal hulle jou verwys na iemand wat ’n kundige op die gebied is.

7. Hoe algemeen is seksuele molestering?
Soos met alle misdade: Dit neem toe. Die groter sosiale bewustheid maak egter dat meer gevalle gerapporteer word. Maar die gebrek aan ’n sentrale register en ’n gekoördineerde dokumentasiestelsel maak dit moeilik om te bepaal presies wat die omvang in SA is.

8. Is seksuele molesteer-ders self as kind gemolesteer?
Daar word algemeen aanvaar dat dit so is, maar dis nie ’n wetenskaplike feit nie. Die meeste ouers wat as kind gemolesteer is, probeer hul kinders daarteen beskerm.



Vir navrae oor die toneelstuk, bel dr. Pieter Venter by die UOVS, 051 401 2160.