FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

My kind

Pa’s wat in die huis help se dogters het meer ambisie + Help jou kind om ’n beroep te kies

Help jou man jou met skottelgoed was, wasgoed vou en kosmaak? Dit is dalk ’n goeie idee om hom aan te moedig, want volgens ’n nuwe studie het hulpvaardige mans se dogters meer ambisie as dié wie se vroue of huishulpe al die huiswerk doen.

In ’n onlangse studie wat in die joernaal Psychological Science gepubliseer is, is bevind dat dogters wie se pa’s met huishoudelike take help, meer geneig is om te streef na ’n minder tradisionele beroep wat meer betaal. Hoe gelyker die take opgedeel word tussen ma en pa in die huis, hoe breër word die dogter se beroepsdoelwitte. Lees die volledige studie hier.

Volgens Alyssa Croft, wat besig is met haar doktorsgraad in sielkunde aan die Universiteit van Brits-Columbië, verander meisies se siening oor tradisionele geslagsrolle indien hul pa in die huis help – veral die soort huistake wat in die verlede slegs van vroue verwag is.

Meisies wie se pa’s nié deelneem aan hierdie take nie, streef meer waarskynlik daarna om verpleegsters, onderwysersse of tuisbly-ma’s te word – “tradisionele” beroepe vir vroue.

Volgens Croft wys die studie dat die toekomsplanne van meisies wie se pa’s help in die huis, meer neig na ’n beroep waar mans tradisioneel domineer, soos die finansiële wêreld, die regte of medies.

Help jou kind só om ‘n beroep te kies

Dit is so maklik om onbewustelik jou eie vooropgestelde idees oor beroepe op jou kinders af te dwing. Die organisasie Take Stock in Children gee die volgende wenke om jou kind te inspireer om self te besluit. Kry die volledige dokument hier.

1. Leer jou kind om te droom

Moedig jou kind aan om te droom oor enige beroep daar buite. Dit kan ’n brandweerman, ’n ruimtevaarder of selfs ’n speurder wees. Moet nooit vir hulle sê dat hulle nie iets kan wees nie – hoe groter die droom, hoe beter.

2. Wakker jou kind se belangstellings aan

Moet nooit vir jou kind vertel dat hulle slegs tevrede gaan wees in hul beroep indien hulle baie geld verdien nie. Sê eerder dat hulle iets moet doen waarvan hulle hou. Let op na jou kind se belangstellings en help hom of haar om dit te verbind met ’n beroep. Oorweeg selfs ’n persoonlikheidstoets of aanlegtoets by ’n psigometris.

3. Ondersoek ’n wye verskeidenheid beroepe

Dit is jou verantwoordelikheid om jou kind te help hiermee. Soek wyd en doen deeglik navorsing oor die betaling, verpligtinge en vereistes vir verskillende beroepe. Kyk watter soort beroepe geadverteer word en wat die neigings is. Help hulle verstaan presies hoe die pad na elke beroep lyk: waar hulle moet studeer, hoe lank hulle gaan studeer, hoe maklik hulle gaan werk kry en of dié soort werk in ’n stad of iewers op die platteland gaan wees.

Klik hier vir nóg wenke om jou kinders te help met hul beroepsbesluite

Nóg in die ‘My Kind’-afdeling op SARIE.com