FOTO: Phyllis Green

My kind

Twee Egoli-akteurs nou in ’n kitsgesin

Aktrise Mary-Anne Barlow* (Coreen Edwards in Egoli) het ’n seun ryker geword danksy haar verhouding met haar lewensmaat, Darren Kelfkens (Egoli se Joe Smith). Sy vertel hoe hulle kitsgesin werk.

“Ek wou sedert ek bloedjonk was, vyf kinders hê. Dit is ironies dat ek op veertig nog nie self die lewe geskenk het aan ’n baba nie. Ek hoop dit verander nog …

Danksy my lewensmaat, Darren Kelfkens [vryskut-akteur, tot onlangs in 7de Laan te sien], is sy seun, Oliver, al deel van my lewe sedert hy maar net tien dae oud was. Vanjaar is hy ’n graad 6-leerling aan Crawford College in Johannesburg, waar sy ma, Marion Hind, ’n onderwyseres is.

Darren en sy eksvrou het altyd ’n baie gemaklike verhouding gehad en besoektye vir Oliver bepaal volgens sý wense. Hy bly drie nagte per week by ons en kom kuier elke tweede naweek. Toe hy baie klein was, het hy elke naweek by ons gebly omdat sy ma ook ’n sangeres is en naweke opgetree het.

Toe Oliver ’n kleuter was, moes ek myself daaraan herinner dat ek nié sy ma is nie. Die grense tussen stiefma en biologiese ouer kan soms ’n bietjie vervaag. Gelukkig het sy ma my nie uitgesluit nie, maar eerder saam met my gewerk om die beste omstandighede vir hom te skep. Dit het gewerk. Oliver is ’n gelukkige, goed aangepaste seun.

FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Ek sukkel glad nie met hom nie, maar die min kere wat iets voorval, sal ek dit met Darren bespreek. Oliver het my nooit as ’n bedreiging beskou nie. Toe hy so vyf jaar oud was, wou hy my selfs ‘mamma’ noem. Ek het gesê hy het reeds ’n spesiale ma wat dié titel verdien. Sedertdien is Mab sy spesiale naam vir my. Hy glo hy is gelukkig om twee ma’s en een pa te hê.

Ons vertrou mekaar. In die winter lees ons saam onder die elektriese kombers. Ons het albei Harry Potter verslind. Oliver help my graag bak en ons kyk getrou MasterChef op televisie. Hy geniet dit ook om saam met my ander ‘seun’, Nathan, my hond, te gaan stap. Ek glo Oliver is op my pad gebring om ’n rede. Hy is ’n ‘ou siel’ en straal warm en wyse energie uit.

As jy lief is vir ’n man wat kinders het, kan jy die verhouding slegs laat werk as jy hom nooit dwing om te kies tussen jou en sy kinders nie. Almal moet mekaar respekteer. Maak tyd om pret as gesin te hê en mooi herinneringe te skep.”

*Mary-Anne is van middel Januarie vir twee weke te sien as dr. Vivienne Armandt in Binneland op kykNET. Sy was 6 jaar die superfeeks Coreen Edwards in Egoli.

Nina Swart op ons Februarie 2014- voorblad

 

 

Lees nog 3 vroue se verhale van hulle kitsgesinne in die Februarie-uitgawe van SARIE. Lees ook SARIE-leser Selma Albasini se verhaal HIER.