My kind

Wees die beste ma wat jy kán wees

‘n Slank, blonde ma in stywe jeans en ’n T-hemp, hand op die heup. Aan haar ontblote bors is haar driejarige seuntjie wat op ’n stoel moet staan om by te kom.

Die nuustydskrif Time het onlangs met dié omstrede voorblad die kollig op attachment parenting laat val. Oftewel: Ouerskap wat deur verknogtheid gekenmerk word. Die term is twintig jaar gelede die eerste keer deur dr. Bill Sears en sy vrou, Martha, in die blitsverkoper The Baby Book (Little, Brown, 1993) gebruik. Hulle verkondig dat jy jou baba so na as moontlik aan jou lyf moet hou – byna altyd. Jy dra hom in ’n draagdoek, stootwaentjies is uit. Jy borsvoed hom, soms deur kleuterskool. Hy slaap in dieselfde kamer as julle. (Lees meer: www.attachmentparenting.org)

Daarteenoor het Amy Chua, ’n Amerikaanse skrywer en akademikus, verlede jaar met haar boek Battle Hymn of the Tiger Mother (Penguin, 2011) die wêreld laat regop sit met haar onverbiddelike opvoedingsmetodes. Dis ’n rigiede ouerskapstyl wat van kinders vereis om veral akademies uitstekend te presteer.

Die boek begin met ’n lys van dinge waaraan haar twee dogters nooit durf deelgeneem het nie – soos televisie kyk en rekenaarspeletjies, om by ’n maatjie oor te slaap en in ’n skoolopvoering op te tree.

In die verlede is kinders gesien en nie gehoor nie. Maar kinderopvoeding het ’n wetenskap geword en daar is deesdae talle formules om ’n A-klas-ma en -pa te wees. Sommige is ten gunste daarvan dat kinders behandel word soos klein grootmensies, met wie jy moet onderhandel. Ander beklemtoon dissipline om eiewyse telge te sosialiseer.

Twee uiterstes dus. Aan die een kant die oormatig toegeeflike ouer, waarnatoe attachment parenting neig. Aan die ander kant die streng, outoritêre ouer, soos die sogenaamde tierma. Met talle variasies tussenin.

En eintlik wil jy maar net ’n goeie ouer wees, maar hoe?

Volgens Amy Chua het haar boek so ’n storm ontketen omdat dit ouers se diepste vrees – om swak ouers te wees – aangewakker het.

SOVEEL MANIERE OM MA TE WEES . . .

Een van die bekendste teorieë van ouerskapstyle is in die
jare sestig deur die Amerikaanse sielkundige Diana Baumrind ontwikkel.

Volgens haar volg ouers een van drie ouerskapstyle:

Outoritêr – ’n ek-weet-wat-die-beste-is-benadering met die klem op gehoorsaamheid. Jou kind het geen sê nie en jy koester hoë verwagtinge van hom.

Toegeeflik – jou kind doen net wat hy wil. Daar is min eise, reëls of beheer.

Gesaghebbend – jy verskaf reëls en leiding sonder om jou kind te oorheers. Wanneer hy nie aan verwagtinge voldoen nie, is jy vergewensgesind, eerder as wat jy hom straf.

Later het ’n vierde groep bygekom: die onbetrokke ouer. Jy voorsien in jou kind se basiese behoeftes, maar is verwyderd van sy lewe en fokus op ander belangstellings.

Daar is deesdae ook sprake van ’n vyfde groep, die “helikopter-ouers”, wat baie fyn op hul kinders se doen en late let en probeer om al die klippe uit hul pad te rol, veral by opvoedkundige instellings.

Baie navorsing is intussen gedoen oor die uitwerking van hierdie onderskeie style:

Outoritêr: Jou kind is gehoorsaam en bekwaam, maar minder gelukkig en sosiaal bedrewe en het ’n laer selfbeeld.
 

Toegeeflik: Hy is minder gelukkig, meer geneig om probleme met gesag te hê en vaar swakker op skool.

Gesaghebbend: Hy is gelukkig, bekwaam en suksesvol.

Onbetrokke: Hy vaar die swakste op alle lewensterreine. Hy sukkel met selfbeheersing, het ’n laer selfbeeld en is minder bekwaam as sy maats. (Bron: psychology.about.com)

Helikopter-ouers: Jou kind is nie selfstandig nie, kan neuroties wees en sukkel om konflik op te los, en is meer geneig om pille vir angs en depressie te gebruik.

Elke ouer wil die beste vir hul kind hê, sê Monique Bezuidenhout van die sielkunde-departement aan die Universiteit van Pretoria. Dit beteken ’n onafhanklike, emosioneel volwasse mens met ’n vol, gelukkige lewe. Volgens haar is die gesaghebbende ouerskapstyl die ideaal. Jy stel duidelike standaarde en grense, en laat jou kind toe om selfstandig te word. Jy verwag onafhanklike gedrag wat by sy ouderdomsgroep pas. Straf is konsekwent, nooit gewelddadig nie en jy verduidelik altyd waarom dit nodig is. Jy sien sy behoeftes en vrese raak, en as hy iets verkeerd doen, vergewe en vergeet jy maklik.

Dít kan jou 
ouerskapstyl beïnvloed

Hoekom volg alle ouers nie die goue middeweg wat die kans op ’n gebalanseerde kind verbeter nie? Die redes sluit onder meer in kultuur, gesinsgrootte, ouers se agtergrond, sosio-ekonomiese status en die vlak van geleerdheid en godsdiens, sê dr. Lizebelle van Schalkwyk, opvoedkundige sielkundige van Centurion.

* Jou eie opvoeding: Jy kan dieselfde styl as jou ouers volg
– oorbeskermend óf outoritêr. Of jy kan in reaksie op jou ouers se manier na die teenoorgestelde kant toe oorhel.

* Jou kultuur en waardes, hoe jy die wêreld beskou, dit wat vir jou belangrik is. Wat wil jy by jou kind tuisbring? Onthou, met kind grootmaak, is dinge nie altyd swart/wit, reg/verkeerd nie. Jy hou bv. van struktuur en is baie rigied.

Dit werk vir jou en jy dra dit aan jou kind oor. En dis reg so.

* Kinders se persoonlikhede en temperamente verskil. Jy kan hulle nie oor dieselfde kam skeer nie. Die een gaan alle grense toets. Jy moet dinge honderd keer vir hom sê en hom dalk straf. Die ander een doen sy huiswerk en hou sy kamer skoon sonder veel gesukkel van jou kant af.

Jou kind moet voel dat jy hom werklik ken en in sy lewe belangstel. Wees betrokke en praat met hom – op ’n gebalanseerde manier. Só sorg jy vir die ontwikkeling van 
’n goeie eiewaarde by jou kind, wat lei tot selfvertroue en 
dus ’n goeie selfbeeld en beter sosiale verhoudinge tot ge
volg het, sê Monique.  

[box:full:grey:both]

NEEM DIE POSITIEWE UIT AL DIE STYLE & MAAK DIT JOUNE

[/box]

* Wees konsekwent.

Reëls moet duidelik – in ’n taal wat vir hom verstaanbaar is – neergelê word. Kinders is dan minder geneig tot ongehoorsaamheid of uitdagendheid. Moenie (veral onrealistiese) dreigemente maak nie. Soos: “As jy nie nou ophou nie, gaan ek jou vingers afsny”. Kinders is nie dom nie en weet jy sal dit nooit doen nie, sê sielkunde-dosent Monique Bezuidenhout.

* Ken jou kind, sy persoonlikheid en temperament.

* Ouers moet uit dieselfde mond praat. As die een outoritêr en die ander toegeeflik is, kan dit die kind verwar en tot konflik in die huwelik lei. Vind ’n middeweg wat vir albei werk.

* Hy moet leer om self probleme op te los. As hy sukkel om bv. ’n legkaart te bou, moenie dit vir hom doen nie. Sit en redeneer dit saam met hom uit, dat hy kan sien hoe hy moet dink as hy dit aanpak, sê Lizebelle.

* Dink mooi: Val jy jou kind dikwels in die rede, skryf jy voor wat hy behoort te dink, onderdruk jy enige  inisiatief, of korrigeer jy enige nuwe idees? Staan ’n bietjie terug en luister eers net na hom, skryf Suzette Truter in Hoe gemaak met my dikmond kind? En nog 99 vrae wat ouers pla (Tafelberg, 2012)

* Hou jou verwagtinge realisties. Verwag jy te veel, kan dit lei tot vele probleme soos angstigheid en ’n lae selfbeeld?  

* Hy moet leer om self besluite te neem. Verduidelik aan hom dat keuses meestal gevolge het. Hy moet dus nie net impulsief op gevoelens reageer nie, maar dink oor wat hy kies en waarom. Laat hom dan ook die gevolge van sy keuses dra eerder as om hom altyd te probeer “red”. As hy byvoorbeeld aanmekaar sy kosblik tuis vergeet, moenie keer op keer skool toe ry om dit vir hom te vat nie, aldus Suzette.

* Handhaaf ’n balans tussen reëls en toegeeflikheid. Reëls gee jou kind struktuur en ’n gevoel van veiligheid en sekuriteit. Dit leer hom respek vir homself en ander. Toegeeflikheid gaan hand aan hand met ’n verantwoordelikheidsin. Jou kind moet stelselmatig en onder jou wakende oog die vryheid gegee word om uit sy foute te leer, sê Monique.

* Dis menslik om jou kind te wil help, maar moenie te gou inspring en help met dinge wat hy nie kan doen nie of vrae namens hom beantwoord nie. Laat hy eers self dink en probeer. As hy wel met ’n plan vorendag kom, moenie dit altyd probeer verbeter nie.

* As hy misluk, probeer fokus op positiewe aspekte wat hy daaruit kan leer, of hoe hy dit kan regstel. Laat jou kind sien jy maak ook foute. Praat oor jou eie foute en die lesse wat jy daaruit geleer het, sê Suzette