Phyllis Green

Phyllis Green

My kind

Wêreld Outisme-dag: SARIE-leser vertel – my seun met outisme het lewe ingrypend verander

‘Met klein treetjies vorentoe’

Corlia Esterhuizen Paulsen van Sutherland het haarself nooit as ’n tuisbly-ma gesien nie.  Maar toe Nicolaas (nou 7) met outisme gediagnoseer word, het hul lewe ingrypend verander.

Nicolaas was aanvanklik nie juis anders as ander babas nie. Ek kan selfs onthou dat ons ‘waar is hy?’, ‘daar’s hy!’ met sy kombersie gespeel het.

Ek is ’n prokureur, het voltyds gewerk en het ook my man, Nicky, met sy destydse sakeonderneming op Worcester gehelp. Ek was dikwels enkelouer as hy op ons skaapplaas naby Sutherland was. Lisa (nou 9) was boonop maar 18 maande toe Nicolaas gebore is. Ek kon dus iets misgekyk het.

Op ’n jaar het ek bekommerd geraak omdat hy nog nie gepraat het nie. Op 18 maande was dit duidelik hy kan nie dieselfde doen as Lisa op daardie ouderdom nie. Hy het nie gereageer as ons met hom praat nie, asof hy ’n gehoorprobleem het. En ook nie op ander maniere kommunikeer nie, soos deur na goed te wys wat hy wou hê nie. Hy het graag op sy eie gesit en speel, veral met stokkies wat hy volgens ’n vaste patroon van sy een handjie na die ander verplaas het. Hy het ook nie oogkontak gemaak nie.

Nicolaas is op 30 Julie 2008, pas ná sy tweede verjaardag, deur ’n pediatriese psigiater as ‘waarskynlik outisties’ gediagnoseer. Ek het nie mooi geweet wat dit is nie. Die groot hartseer het ons eers maande, selfs jare later, getref toe ons met die volle omvang van sy struikelblokke gekonfronteer is.

Ek onthou ek het een nag wakker geword en hartverskeurend oor my kind gehuil. En toe aangegaan. Jy móét aangaan, anders doen jy jou kinders ’n onreg aan.

OutismeOns het besef ons leefstyl sou ingrypend moes verander

Ná ’n besoek aan SNAP in Durbanville, kenners in die onderrig van outistiese kinders, het ons ’n beter idee gehad wat dit is. Ons het besef ons leefstyl sou ingrypend moes verander as ons Nicolaas wou help.

My beroep, my rol as enkelouer in die week, die heen en weer pendel tussen die plaas en Worcester en die konstante verandering wat daarmee gepaard gaan, moes verander. Ek het ophou werk om SNAP se afstandsonderrig-program met Nicolaas te volg. Hy was ’n hand vol, besig, soms kwaai. Ons het geweet niks gaan vanself kom nie, ons gaan hard aan elke mylpaal moet werk.

Ons moes onsself ook met kennis bewapen. Ons moeite was nie verniet nie, en soos ons doelwitte telkens vorentoe geskuif het, soms met klein treetjies, soms groter spronge, het ons hoop ook gegroei.

Verlede jaar het ek en die kinders tydelik Kaapstad toe getrek sodat Nicolaas intensiewer onderrig kon kry. Hy is by SNAP en die Broad Horizons Academy onder meer blootgestel aan alternatiewe kommunikasie-tegnieke en aangepaste kommunikasie-programme op die iPad. ’n Nuwe wêreld het vir hom oopgegaan.

Deur middel van ‘ja’- en ‘nee’- kaartjies kon hy byvoorbeeld eendag vir my wys sy magie is seer. Voorheen moes ons sulke dinge maar raai.

Sy selfvertroue het ’n reuse-hupstoot gekry. Soos wat sy kommunikasie uitgebrei het, het ons besef hy weet en verstaan presies wat om hom aangaan. Ons het selfs uitgevind hy kan lees, al het niemand hom geleer nie. Hy let fyn detail op en het ’n goeie geheue.

Ek is altyd tydens sy onderrigsessies by omdat ek die gedragsveranderende terapie tuis moet versterk.

Vanjaar gaan hy ‘groot skool’ (graad 1) toe by die SNAP Academy. Ons hoop om hom vir ’n hoofstroomskool voor te berei. Hy is ooglopend opgewonde. Vra jy of hy skool toe wil gaan, sê hy oortuigend: ‘Uh!’ – deesdae sy manier van ‘ja’ sê. (Ook ’n nuutjie.) Jy kry die idee hy wil soms ’n woord sê, maar kry nie al die klanke bymekaar nie.

Die opofferinge wat ons as gesin moes maak, maak beslis ’n reuseverskil in Nicolaas se lewe. Soos wat sy outistiese ‘skerp kante’ platter gevyl word, kan ons as gesin ook stelselmatig meer goed saamdoen, soos op uitstappies gaan (Tafelberg en die akwarium was groot mylpale), uiteet, fliek, dinge wat ons lank vermy het.”

Nadia Valvekens April 2014 voorblad

 

 

*Lees meer oor outisme en ook wat die kenners daaroor sê in die April-uitgawe van SARIE.