img_5173
Lewe + Liefdes

Ons kuier op die stel van ‘Getroud met rugby’

Dié nuwe seisoen van Getroud met rugby, geskryf deur Deon Opperman, word van 17 Julie op kykNet uitgesaai. Al die ou, gewilde karakters is weer daar, met ‘n paar nuwe gesigte wat bykom.

Dis koud vroegoggend op die oop rugbyveld in Johannesburg, waar ‘n paar van die bekende gesigte in die reeks regmaak vir ‘n toneel. ‘n Paar manne in rugbytruie skrum op die veld, terwyl ‘n skraal, swartkop man, Jozua Malherbe, sy hande voor sy oë hou in die vorm van ‘n raam, soos ‘n regte Hollywood-reggiseur. Malherbe is ook die regisseur van die nuwe fliek Wolwedans in die skemer, wat later vanjaar vrygestel word.

Izak Davel kry raad van die regisseur.

Die span groet met vriendelike gesigte, wat glad nie weerspieël dat hulle al van vyfuur vanoggend in die koue bedrywig is nie. Altus Theart (Fafa) groet eerste, met ‘n druk asof ons lang verlore vriende is, terwyl Marlon Roelofse (Brendan) ‘n grappie vertel om ons te verwelkom. Cobus Cooper Gomes (Splinterboud) draf nader en skud hand om seker te maak hy kry ook ‘n kans om die SARIE-span te groet. Marlon vertel hy is van Port Elizabeth, en ek, wat van Grahamstad kom, voel skielik meer tuis. Voordat ons die ander karakters kan ontmoet, onderbreek Malherbe en die assistent-regisseur die gesprek en roep die manne nader om met die volgende toneel te begin. 

Blikkies, die een afrigter.

In die kleedkamer sit drie aktrises en klets met die grimeerkunstenaar en haarstileerder.  Hanna Grobler (Kiki) lag en gesels met Je-ani Swiegelaar (sy speel Splinterboud se meisie, Marietjie), Marijke Maree (pompon-meisie) en Carla Else as Jet. Dan kom nog meer meisies in om reg te maak. Leandie du Randt (Mieke) en die ander pompon-meisies daag ook later op sodat hulle kan voorberei vir die middag se verfilming.  

Elke toneel word herhaal totdat dit perfek is vir die skerm. Dis byna absurd om te dink ‘n toneel wat ‘n paar sekondes op televisie duur, neem ongeveer twee uur om te verfilm. So was een toneel, wat ons gedink het sou net ‘n uur of twee neem, op die ou einde ‘n sewe uur lange dag op ‘n rugbyveld. Dit het ons getref dat die werk van akteurs en filmspanne glad nie so glansryk is soos wat mense verwag nie. Dit begin dikwels in die vroeë, koue oggendure en eindig ná ‘n uitputtende dag eers laat in die aand. Gelukkig kon ons die pad vat nadat SARIE se fotograaf al haar foto’s geneem het, maar die verfilming was ver van klaar teen vieruur die middag. Voordat ons vertrek, kyk ons vir oulaas terug na die stel.

Die rasiemeisies!

Dis twee repetisies, dan ‘n kamera-deurloop saam met die regisseur en dan eers rol die kameras . . . Almal is skielik in karakter. Schalk (Johan Scholtz) en Blackie (Jacques Gombault) staan eenkant en praat oor die span se vordering. Skielik skreeu Blackie op Reghardt (Izak Davel), wat soos gewoonlik, by die paviljoene staan en op sy selfoon praat.

“En sny!” roep Malherbe, die regisseur.

Izak Davel maak gereed vir 'n toneel.

'n Toneel word gerepeteer.

  • Mrs Smith

    Wens ek was daar. Johan Scholtz is my held.