My troeteldiere

Annelie de Wet en Gina – Canine Cuisine

SARIE en CANINE CUISINE gee jou die kans om groot te WEN vir ‘n dieresorg-vereniging.

Wanneer is Gina gered?
’n Engel genaamd Teddy Sambu het Gina met behulp van Mdzananda Animal Clinic uit haglike omstandighede in Khayelitsha gered. Dit was 18 Julie 2014.

Hoe oud is Gina?
Tussen 10 en 13 jaar.

Gina

GIna saam met model Bernice Dodd (FOTO: Johan Wilke)

Wat doen Gina graag?
Sy is mal daaroor om naby my te staan en diepe gevoelens van universele liefde aan te wakker terwyl ’n mens haar streel. Met dié mompel sy hartswoorde van eindelose wysheid, welsyn en heling vir alles wat gebroke is op hierdie planeet – en beslis vir die persoon wat besig is om haar te streel.

Waarvan hou sy?
Sy hou van ordentlike kos met bestanddele wat haar krag gee, soos proteïenryke henneppoeier en hoëgraad Indica-kannabisolie met sy lae dosis THC vandat sy met ’n breingewas gediagnoseer is. Sy is ook mal daaroor om op die strand te hardloop, waar sy woerts-warts rondspring soos ’n jong springbokkie in plaas van die ou siel wat sy is. Sy is definitief lief vir die lewe en sy word by die dag sterker en jonger van gees.

Waarvan hou sy nie?
Mense wat nie opreg is nie. Sy kyk hulle met skrefiesoë en dun lippe aan.

IMG_7009

Gina en haar eienaar, Annelie de Wet

Streke?
Wanneer ek by die huis kom, lag sy oopmond vir my soos ’n stokou monnik wat pas met nuwe lewenswysheid bergaf kom. Dit laat ’n mens ook dink aan daardie dinosourusse in outydse swart-en-wit flieks. Dis die manier waarop sy haar kop op en af beweeg en haar tandtjies ten toon stel. Ander kere hou sy haar lyf Moeder Teresa wanneer sy in die middernagtelike ure in die gang verskyn met ’n kombers oor die kop. En soms is sy die vriendelikste klein skaduwee, wat dit partykeer moeilik kan maak om jou veters vas te maak.

_MG_6843

GIna saam met model Bernice Dodd (FOTO: Johan Wilke)

*’n Paar dae voordat SARIE drukkers toe is, is Gina ongelukkig oorlede. Haar eienaar, Annelie de Wet, was lief vir haar en het haar mooi versorg.

CC Sarie comp image

_MG_6830