FOTO: Phyllis Green

My troeteldiere

Troeteldiere kan help met hierdie siektes PLUS dié menskos kan jou hond doodmaak

Daar is geen twyfel dat die meeste troeteldiere ’n mens gelukkig maak nie. Maar het jy geweet dat hierdie vriendelike huismaats kan help met die behandeling van sekere siektes?

Katte en beroertes

Navorsers weet nie mooi hoekom nie, maar jou kanse om ’n beroerte te kry verminder as jy ’n kat het. Dis deels vanweë die positiewe effek wat ’n troeteldier op jou bloeddruk kan hê. Maar die slimmes spekuleer katte het dalk ’n meer kalmerende uitwerking op jou as ander troeteldiere. Dit het dalk ook iets te doen met die persoonlikheid van “kat-mense”. Dan word katte dikwels die fokus van jou belangstelling, wat jou aandag van jou bekommernisse aftrek. Bron: www.medicinenet.com

*Geneem uit die April 2014-uitgawe van SARIE

Katte en Alzheimer’s

Navorsing toon mense met Alzheimer se siekte is minder angstig in die teenwoordigheid van ’n troeteldier. Terselfdertyd voel hul versorgers minder belas, veral as die dier ’n kat is. (Dalk omdat katte minder aandag nodig het.) Mense met dié siekte eet ook dikwels nie gesond nie. Wanneer daar ’n akwarium is, sit die rusteloses langer stil, terwyl die wat lusteloos optree, skielik meer in hul omgewing belangstel. In albei gevalle help dit dat hulle beter eet. Bron: Dr. Oz op Oprah.com

*Geneem uit die Junie 2014-uitgawe van SARIE

Troeteldiere en depressie

Volgens navorsing gedoen om Web MD, ’n aanlyn gesondheidsblad, kan diere spanning verminder en hul eienaar opbeur. ’n Troeteldier kan help om iemand met matige depressie beter te laat voel, veral indien die persoon ook behandeling ontvang. Een van die redes hiervoor is dat ’n bietjie verantwoordelikheid, die ektra aktiwiteit en die roetine wat ’n troeteldier verwag, die mens ook laat beter voel. Lees die volle artikel hier.

Honde en Dementia en Alzheimer’s

Honde word alreeds in Skotland en Israel opgelei om mense met Dementia en Alzheimer’s te help met hul daaglikse lewe, berig Psychology Today. Lees die volle artikel hier. Hierdie honde word geleer waar “huis” is sodat hulle hul eienaar ná ’n uitstappie huistoe kan lei. Daar is ook ’n GPS in sy halsband sodat familie en vriende altyd kan weet waar die paartjie rondbeweeg. Indien die familie bekommerd raak, kan hulle ’n sein na die halsband stuur en die hond sal weet om sy eienaar huistoe te lei. Indien die eienaar vir een of ander rede nie kan beweeg nie, sal die hond aandag trek deur te blaf terwyl hy heeltyd by sy eienaar bly.

Hierdie menskos kan jou hond se dood veroorsaak

Volgens Huffington Post kan die volgende menskos, wat jy dalk dink onskadelik vir jou hond is, eintlik jou beste vriend se dood veroorsaak. Lees die volle artikel hier.

Druiwe

Te veel hiervan kan vinnige nierversaking veroorsaak. Die effek verskil van hond tot hond, maar dehidrasie en diarree is ook moontlike gevolge van te veel druiwe.

Uie

Uie kan jou hond se rooibloedselle beskadig, wat maak dat jou hond swakker word en minder rondbeweeg. Te veel uie kan beteken dat jou hond vir ’n bloedoortapping moet gaan.

Avokados

Afhangende van die tipe avokado, kan dit ’n vergiftende uitwerking op jou hond hê. Dit veroorsaak ’n omgekrapte maag, moeilikheid om asem te haal en vogtigheid op die bors. Die pit is die gevaarlikste deel, omdat dit glad is en maklik in jou hond se keel kan afgly en vassit.

KLIK HIER om te sien watter ander menskos jy van jou hond af moet weghou 

Bronne: Huffington Post, Psychology Today, Web MD