Lewe + Liefdes

‘n Gesonde sin vir avontuur het Wendy Waring na die Ooste geneem.

Ek is 25 jaar oud en woon al amper ‘n jaar in Taiwan. Ek is ‘n kleuterskool-onderwyseres. Voor ek Taiwan toe getrek het, het ek in Korea gewoon, vir 16 maande. Ná universiteit het ek saam met een van my beste vriendinne, Lenore Rix, die Ooste ingevaar vir die ervaring en die avontuur daarvan. Sover is ek nog nie teleurgestel nie!

Dis moeilik om Taiwan in woorde te beskryf. ‘n Mens moet dit eerder self sien en beleef. Vir my is die hele Taiwan, Verre Ooste-ervaring ongelooflik. Ek ry elke oggend en aand tussen die ryslande van ons klein dorpie op my scooter skool toe en terug. Ek sien wanneer hulle die rys plant, ploeg, die lande brand, oorstroom en dan weer plant. Elke dag sien ek hoe vorder die hele proses. Ek sien letterlik hoe die rys groei!

Ek ry verby die locals se huise, ek sien hulle op hul vintage-fietse met hul tradisionele grashoede, op pad om in die ryslande te gaan werk. Alles voel op ‘n manier gestage, amper asof ek myself in die middel van ‘n dokumentêre film bevind. So elke nou en dan tref dit my, hierdie is my realiteit – al is dit net tydelik. Ek probeer om nie aan dit wat ek elke dag sien gewoond te raak nie. Ek is te bang ek hou op om dit te waardeer. 

Die kultuurverskil tussen ‘ons’ en ‘hulle’ is groot. Dit gooi jou heeltemal uit jou gemaksone uit. Maar voor jy jou oë uitvee, is hierdie vreemde land en sy mense wat jou nie verstaan nie, jou gemaksone. Kort voor lank ontwikkel ‘n mens ‘n vrees om terug te gaan na jou eie land toe, amper asof jy nie weer daar sal kan aanpas nie.

Ek mis Suid-Afrika. Ek mis so baie dinge van ons land! Ek mis Afrikaans, en biltong en rugby op die TV en nie oor die internet nie. Ek mis die Afrika-son, ek mis die reuk van die Bosveld en donderstorms, en my kerk. Ek mis Ouma-beskuiten Bovril op toast. Ek mis my familie en vriende die heel meeste. Ek mis my land en sy mense!

Tog raak ek tranerig as ek dink ek moet hierdie vreemde ‘plek’ met sy snaakse gelowe en gewoontes agterlaat. Die ‘plek’ wat my gevorm het tot dit wat ek vandag is – al was ek maar net ‘n druppel Weste in ‘n emmer Ooste.

  • Gideon Joubert

    Man maar die jong dame het darem nou vir jou n mooi stukkie geskryf oor Taiwan. Ek bly self hier en dit was nou lekker om weer herinder te word aan al die verskillende vreemde dinge waarmee mens elke dag te doen kry en wat gemis gaan word. Ek het amper bewoe geraak en n druppel bygedra toe ek by die emmer teen die einde aangekom het. Thanks Wendy Waring en Sarie.

  • Adri Waring

    Dit is voorwaar ‘n vreemde land met vreemde gelowe. Ek dank die Here dat Wendy die geleentheid het om die ervarings te kon deurmaak. Ek dank ook die Here vir haar vriendinne saam met haar.

  • Lion du Plessis

    DIs is wonderlik om te hoor dit gaan so goed met jou Wendy! Die artikel is baie mooi geskryf, so opreg! Sterkte daar, mag jy die Afrika son gou weer voel op jou vel!

  • Lida Mollentze

    Net soos Adri het ek ook in Julie vir my dogter, wat een van Wendy se vriendinne is gaan kuier. Wat ‘n belewenis! Hulle ervaar wonderlike geleenthede en leer ook om met ander kulture saam te leef. Dankie Wends dat jy oor jul dorpie geskryf het. Ek weet sommer Bianca en San-Marie gaan jou en Nollie baie mis as julle weggaan.