Lewe + Liefdes

‘n Jaar in Bologna, Italië, het die Steinbachs geleer hoe belangrik gesinstyd is.

Sy vertel meer oor hulle ervarings:

Die beste les wat ons hier geleer het, is hoe belangrik verhoudings en gesinstyd is. Die Italianers maak ‘n punt daarvan om saam te eet, saam te kuier en van alles ‘n spesiale okkasie te maak.

Ons bly van begin September verlede jaar tot 31 Julie vanjaar in Bologna. Rudi is al ‘n ruk besig met sy Ph.D.-studies en het verlede jaar aansoek gedoen vir ‘n uitruilprogram om voltyds daaraan te kan werk, en hopelik klaar te maak. Sy werk het die groen lig gegee en dis hoe ons Bologna toe gekom het. Ek is voltyds by die huis met ons seuns, Reuben (4) en Waldo (2).  

Bologna is ‘n pragtige ou stad vol geskiedenis, ook bekend as la rossa en la grossa en la dotta. La rossa omdat al die teëldakke van klei in die ou stad rooierig van kleur is. La grossa (the fat) omdat die Bolognese so ernstig is oor hul kos. La Dotta omdat die universiteit en geleerdheid so ’n groot rol speel hier. Baie geregte wat ons in SA eet, kom oorspronklik uit dié omgewing. Soos ragù-sous, wat mense verkeerdelik bolognese-sous noem. Die stad het ook die meeste ‘porticos’ (dakke oor die sypaadjies) in die wêreld. Jy kan altesaam 36 km onderdak loop en inkopies doen. Dis fantasties, ons is altyd beskut teen sneeu, reën of die warm son. Die wêreld se Lamborghini’s en Ducati’s word net buite Bologna gemaak, en Ferrari en Maserati se fabrieke is so 50 km hiervandaan, net buite Modena.

Die taal was ‘n groot aanpassing, want bitter min mense praat Engels. Gelukkig benodig speel geen taal nie. Die seuns speel heerlik met die Italiaanse kinders in die parke en leer so ‘n klomp Italiaanse woorde. Ek sukkel nog, maar kan myself darem help in die winkels of markte.

Die Italianers is passievolle mense wat met baie handgebare en soms heel luid kan praat. Hulle kom soms bot voor, maar as jy hulle eers leer ken, is hulle van die hartlikste mense wat daar is.  

Ons probeer so tussen Rudi se studies deur darem Italië sien en het al ‘n klomp plekke besoek.

Die laaaaang yskoue winter, wat nooit warmer as 3° C was nie, was ‘n groot uitdaging met twee klein seuntjies. Dis veral moeilik om met ‘n stootwaentjie deur die sneeu te sukkel! Maar dis tot dusver voorwaar een van die beste jare van ons lewe.

In die sneeu voor ons woonstelgebou.

23 Februarie 2013 het dit vreeslik hard gesneeu. Hier staan ek en Waldo in die vallende sneeu in ‘n parkie oorkant ons woonstelblok.

Kyk hoe diep was die sneeu. By 'n ski-oord sowat 3 ure buite Bologna. Waldo en Reuben se heel eerste sneeuman.
Hier staan ek in 50 cm dik sneeu. Dit het net so 7 of  8 keer gesneeu in Bologna en dié was die dikste sneeu wat ons beleef het.  Ek en die seuns by ‘n ski-oord so ’n uur buite Bologna. Dit was heeldag -11°C en het nog kouer gevoel. Ek het nog nooit  in my lewe so koud gekry nie.  

Waldo en Reuben by die eerste sneeuman wat ons gebou het.

In Giardini Margherita, 'n groot park.

Hier stoot ek die seuns in hul waentjie in Giardini Margherita, ‘n groot openbare park waar ons gaan om te speel. Dit was die begin van herfs.

Ek en Rudi voor Palazzo Re Enzo. Die fontein van Neptunus. Voor die Porta Saragozza.

Ek en Rudi voor die Palazzo Re Enzo. Koning Enzo van Sardinië is hier vir 23 jaar onder huisarres aangehou, tot met sy dood in 1279.

Die fontein van Neptunus wat in 1566 gebou is op die Piazza Maggiore.

Voor Porta Saragozza. Die ou stad was omring met ‘n muur en het ‘n klomp ingange (portas) gehad. Al die poorte het behoue gebly en plek-plek staan daar nog dele van die ou muur.

Dis of stap of bus ry.

Per bus of te voet is hoe ons kom waar ons wil wees.

Lekker gelato!

Ek en die seuns eet gelato! Van al die plekke waar ons al in Italië was, is die roomys in Bologna die heel lekkerste. Dit proe soos niks wat ons in Suid-Afrika kry nie.

Mark vir vars produkte. Tipiese slaghuis.

‘n Tipiese mark waar ons die meeste van ons vars voorraad koop.

So lyk ‘n Italiaanse slaghuis met baie hamme, salami’s en kase. Dis soms moeilik om te kies wat jy wil koop!

Pizza! Tagliatelle con Ragù.
‘n Regte egte heerlike Italiaanse pizza!

Tagliatelle con Ragù. Die pasta word met die hand gemaak en dan voorgesit met die tipiese ragù-sous eie aan Bologna. Dis in die wêreld algemeen bekend as bolognese-sous.

 Waldo en Reuben voor die Twee Torings. Reuben (regs) en Waldo spring voor die Due Torri (twee torings). Regs is Asinelli. Links is die korter Torre Garisenda, wat skewer is as die toring van Pisa! Die Garisenda-familie het in skaamte uit Bologna gevlug omdat hulle die toring moes korter maak om te keer dat dit omval.

Uitsig vanuit Torre Asinelli.

Uitsig van bo uit die Asinelli-toring, die stad se hoogste oorblywende toring. Die toring is 97,2 m hoog. Klaarblyklik het al die rykes en adellikes tydens die Middeleeue vir hulself torings gebou om in te woon, en ook as beskerming teen vyandelike families. Bologna was vol torings en die een wou hoër wees as die ander.

Ek het dit gemaak tot bo!

Ek het dit sowaar gemaak tot bo! Daar is geen hysbak in die Asinelli-toring nie en jy moet met deurgetrapte houttrappies wat teen die kante opkronkel, opklim.

Voor die San Luca-kerk. Waldo en Reuben (regs) voor die San Luca-kerk, wat op ‘n heuwel aan die buitewyke van die ou stad is. Wat dit so uniek maak, is dat jy onder ‘n 3,6 km lange portico daarnatoe stap! Dis so gebou om ‘n skildery van die Madonna wat van daar na die katedraal onder in die ou stad gebring word, te beskerm. Dié pelgrimstog word elke jaar sedert 1433 gehou.
Hier is ek op die trappies wat na die San Luca-kerk lei. Ek  het die pelgrimstog van 3,6 km aangedurf. Volgens legende kruip sondaars tot bo. Almal het geloop of gedraf toe ek dit gedoen het, so daar is seker nie sondaars hier nie! Op die trappe wat lei ná San Luca-kerk.
 Rudi voor die Universiteit.  In Via Zamboni.
Rudi voor die gebou van die departement ekonomie aan die Universiteit van Bologna. Dis die oudste bestaande universiteit in Europa.  

Hier staan Rudi in Via Zamboni, die straat in die hart van die universiteitskompleks. Dis hier waar alles vir ons begin het.