Lewe + Liefdes

‘n Lekkerleesfees in Afrikaans

Dis nou by Exclusive Books se Lekkerleesfees waar hulde aan die ryk geskiedenis van die Afrikaanse taal en skrywers gebring word. Die fees het reeds afgeskop en eindig eers 13 Augustus.

Afrikaanse boeke het altyd saam met Engelse boeke deel gevorm van dié boekwinkel se Homebru-lys, wat sedert 2001 elke jaar bekend gemaak word. Dit word gedoen om plaaslike skrywers en hul werk te bevorder. Die Afrikaanse aanvraag en aanbod het egter so groot geraak dat besluit is om `n Afrikaanse promosie, by name Lekkerleesfees, op die been te bring. Maak gerus ‘n draai by jou naaste winkel en gaan kyk na al die boeke waaruit jy kan kies.

Van die ou gunstelinge is Griet skryf ‘n sprokie, Kringe in ‘n bos, Kennis van die aand en Liewe Heksie. Nuwe titels is Hoogty (E. Kotze), Wals met Matilda (Dan Sleigh), Abel se Lot (Chris Karsten), Boereoorlogstories; 34 verhale oor die oorlog van 1899-1902 (saamgestel deur Jeanette Ferreira) en Tuiskoms: Stories oor die Liefde (Irma Joubert). Vanjaar is daar ook 7 poësie-versamelings, die Groot Verseboek, Breyten Breytenbach, Ingrid Jonker, Antjie Krog en Johann de Lange op die lys.

Jeanette Ferreira, samesteller van Boereoorlogstories: 34 verhale oor die oorlog van 1899-1902 was by die bekendstelling van die lys. Sy het beklemtoon dat Afrikaans steeds deur baie mense gepraat word en dat ‘n fees soos hierdie help om Afrikaans te bevorder en kultureel sterk te hou.

Lede van Fanatics staan ook ‘n kans om een van drie pryse te wen. Meer inligting is beskikbaar by www.exclus1ves.co.za.