Lewe + Liefdes

‘n Nuwe passie vir Charl Ackerman in Korea

Hoe het ek uiteindelik hier gekom? Dit het ses jaar van verskillende goed doen en die regte goed wat gebeur het, gekos.

Ek het in 2003 as prokureur gekwalifiseer, waarna ek drie jaar by een van die vyf groot firmas in Johannesburg gepraktiseer het. Ek was nooit heeltemal gelukkig met die lewe as prokureur nie en het altyd daarvan gedroom om afgeleë oorsese plekke te verken. Tog het ek in daardie stadium nie die moed gehad om my bestaan te ontwortel nie. In 2007 het ek by ‘n bankgroep gaan werk, waar ek bygedra het tot die groei van die groep se belange in Afrika. Ek het steeds nie die geleentheid gekry om te reis nie, al was ek besig om dokumente op te stel vir gebruik in bestemmings soos Nigerië, Ghana en Uganda.

Die lewe was heel genotvol. Ek het ‘n mooi woonstel in Sandton gehad en het ‘n mooi motor gery. Maar, my lewe was onvervuld. Iets het ontbreek, en daardie iets, hier diep in my agterkop, was my drome oor reise en verkenningstogte die onbekende in.

In 2010 het die bankgroep begin met ‘n proses van afleggings. Ten spyte van my baas se versekering dat ons afdeling nie geraak sou word nie, het dit tog gebeur. Ek het kennis gekry dat ek moontlik afgelê sou word. Dit was net die skop wat ek nodig gehad het. In die paar maande wat ek met die bank onderhandel het om my werk te behou, het ek stadigaan meer en meer daaraan gedink om na Suid-Korea te verhuis. Ek het een oggend wakker geword en myself gevra wat ek regtig met my lewe wil doen. Wou ek by die bank bly, of wou ek weer as ‘n regsmens praktiseer by ‘n groot korporasie? Die antwoord was nee. Ek wou die Ooste gaan verken.

Ek het navraag begin doen oor werkgeleenthede in die Ooste en het uitgevind ek kan met my B.A.-graad gaan klas gee in Engels. Die geluksengel was aan my kant, want ek kon iemand kontak wat in Korea klas gee. Binne drie en ‘n half maande was ek op ‘n vliegtuig op pad na die Incheon Internasionale Lughawe in Seoul.

Ek het ‘n pos gekry by dieselfde skool as waar die vriend skool hou. Ek is nou reeds ‘n jaar lank by hierdie skool en sal my kontrak vir nog ‘n jaar verleng. Dis die ondervinding van ‘n leeftyd.

Een van die eerste items op my inkopielys hier was ‘n kamera. Ek het gevoel ek moet my ervarings hier darem dokumenteer. Dit het ontaard in ‘n obsessie en ek het nou ‘n stokperdjie. My kamera is my daaglikse metgesel op my reise en ek deel nou my foto’s en ervarings met almal op my blog: http://charlackerman.tumblr.com/. So hoop ek om my passie met ander mense te deel.

 Kabelkar  Stalletjie
Kabelkar – Ek het in Seoul vir die kabelkar gewag om berg op te gaan. Die foto is van ‘n skets van ‘n kabelkar op ‘n venster met die ware Jakob op die agtegrond, asook die Namsan-toring. Stalletjie – Dié foto is ongeveer elfuur in die nag by ‘n kosstalletjie in Seoul geneem. Niks gaan slaap ooit in Korea nie, en die meeste winkels en eetplekke bly omtrent 24 uit die 24 uur oop, dus sal jy altyd ‘n plekkie kry vir iets te ete. Ek is besonder mal oor Koreaanse kos se komplekse eenvoud – baie speserye en bestanddele, maar maklik om te berei en boonop gesond.
 612  Taxi
612 – Tyd staan stil vir hierdie passievolle paartjie, terwyl die wêreld voortstoom. Ek was gelukkig met my tydsberekening. Geneem in Eunhaeng-Dong in Daejeon. Taxi – Baie anders as die taxi’s waaraan ons in SA gewoond is, maar glo my, die bestuurstyl is dieselfde! Dis vreemd om te dink ek het meer as ‘n jaar gelede laas ‘n motor bestuur. Hier is daar geen rede om ‘n motor te besit nie. Openbare vervoer is doeltreffend en betyds. Die foto is geneem in Tanbang-Dong in Daejeon.
 Canyon  Kontras
Canyon – Die strate in Korea is oral verlig. Een aand terwyl ek op pad was huis toe, het dit my getref hoe evolusie die mens geraak het. Ons stap deesdae selde in natuurlike canyons, maar word konstant omring deur mensgemaakte canyons wat myle ver bo ons uittoring. Geneem in Dunsan-Dong in Daejeon. Kontras –  In hierdie foto gaan dit vir my oor die kontraste – die moderne geboue, neon advertensieborde, motors, Mr Pizza-afleweringsmotorfietse en ‘n ou man wat ‘n karretjie trek. Dis geneem in Dunsan-Dong.
 Da  Voete
Da – Ek het rondgestap in systraatjies en per toeval op die familie – ma, pa, kind en hond – afgekom wat besig was om ‘n versnapering op hul “stoep” te geniet. Ruimte, wat ons in Suid-Afrika as vanselfsprekend aanvaar, is beperk in Korea. Geneem in Cheong-Ju. Voete – Dit val my telkens op hoe stil dit op die trein is. Almal gedra hulle stemmig en gesels nie met mekaar nie. Al wat jy hoor, is die klank van die trein en die advertensies oor die interkom. Geneem op die Daejeon-moltrein.
 Zackpot Zacpot – Ek is lief vir koffie en in Korea kan ek kies en keur uit die vele onafhanklike koffiewinkels. Dié kunswerk was op ‘n deur van so ‘n koffieplek en ek het gewag vir die perfekte oomblik toe ‘n vrou en Mr Zacpot mekaar in die oë gekyk het. Die foto is geneem in Samcheong-Dong, Seoul, in ‘n voorstad waar daar baie koffiewinkels is.
  • Tjaart Herbst

    Dis so lekker om van jou ervaringe te lees. Sterkte vir jou pad vorentoe aangesien ek ook in ‘n soortgelyke bootjie reis. Dalk ontmoet ons mekaar nog eendag.
    Groete uit Thailand

  • A Herbst

    Ai tog,nie altyd lekker om jou werk op so jong ouderdom te verloor nie.Hoop jy kom weer gou reg met iets in SA