Lewe + Liefdes

‘n Troue en reis in Indië is nie vir papbroeke nie

Viljean was so meegevoer dat sy hul ondervinding op papier moes sit en met ons deel.

En toe trou Mikhin …

In die vreemde staan expats altyd saam en dis hoe Mikhin, my kollega en buurman in die gr. 1-gang, my pad kruis. ‘n Pragtige Hindoeman, baie geleerd in sy IT-rigting, en dan is hy nog gaaf ook. Op ‘n dag voel Mikhin reg vir vrouvat, en dis waar alles begin het.

Mamma Indië stuur die foto’s van die gekose kandidate uit Indië. Mrs. Alma (ek) skiet hulle af volgens die Europese kriteria en Mikhin raak al meer bewus van sy jongmansluste. En toe begin ons bid. Nou staan Christen, Moslem en Hindoe saam, want almal wil gaan troue hou in Indië. Vier en ‘n halwe jaar later sien ons lig. Mikhin en Reshma trou op 3 Februarie.

Dis geld tel, visums kry en die moeilikste deel: om die geskikte sari’s en koertas te kry. Ons gaan as geëerde en gerespekteerde vriende van Mikhin en hy mag hom nie vir ons skaam nie.

Op Kochi wag ‘n vriendelike, bedeesde man ons in, ons drywer vir die volgende paar dae. Maar min weet ons dié man verander op die pad in ‘n maniak. Hier begin Alwyn, my vredeliewende en diplomatiese man, sy haat-liefde-verhouding met Shepo George, ons drywer.

Reis in Indië is nie vir lafhartiges nie. Die “signal”-toetersisteem maak ons angsbevange, maar Shepo sê:  “India has own rules”.  Spoedtekens wat hy 3 maal oorskry, is “OLD SIGNS.”

Alwyn wys hom baie diplomaties op die hoë dodetal op Indiese paaie. ”No problem, India is a very big country”.  Ons jaag al toetend deur  BYPASS, BIG CITY ROADS, HAPPY BY BYES en BEER PARLOURS. Al wat hom laat rustiger ry, is as ons sê “Sir big tension” en “Mam vomiting.”

En toe is dit Mikhin se troudag! Ek gryp sommer een van die eerste gaste om my aan te trek, want die sari het meer jaartse materiaal as wat ek kan baasraak. My stilis is baie afgehaal. Nie genoeg goud nie, en waar is die KOHL? Bollywood, hier kom ons!

Bollywood is ‘n ander storie. Ek en Bollywood-ster Bharat Thakur is nou op voornaam-terme. Hulle was besig om aan sy nuwe fliek “Buddy” te skiet by ons hotel/oornagplek in ’n baie scary omgewing. Ons is op ‘n budget vakansie in Indië!  Ewenwel, ek was so opgewonde dat ek later oor die regisseur se skouer hang en saam skree aan “ACTION/CUT”.  Alwyn sit in die bad net langsaan en “Action/Cut” ook saam.

Terug troue toe. Mikhin, Reshma en die res van die “family and extendeds” was pragtig. Die blommemeisie en haar pa was nog besig om op en af  op die Vespa te jaag vir die laaste reëlings. Rooi skoentjies en al.

Ná die Hindoe-priester die soveelste ritueel uitgevoer het, was dit onthaaltyd. 1 000 piesangblare is oopgerol, kos opgeskep en weer toegerol – ja, net soveel gaste. Uiteindelik kon ons ‘n bietjie gaan rus. Ons het darem al die oggend vroeg begin ry vir die troue om 09h00.

Uitrusting nr. 2 het langer gevat om aan te trek, of was dit net die moegheid wat ingetree het? Ons is net betyds om aandete saam met die bruidspaar te nuttig. Die volgende sewehonderd gaste is klaar ge-party. Aandete was moeilik, want die bruid oorkant my het my heeltemal verblind met haar vreeslike hoeveelhede 24 karaat goud.

Terug by ons toer. Die huisboot-vaart op die Backwaters was ‘n belewenis. Vyfuur saans is ‘n bedrywige tyd langs die kanale. Kleintjies bad, piepie en poef in die water. Mammas skuur die potte. Pappas skrop hulself ná ‘n lang dag in die ryslande en Oupa sit rustig en visvang. En ja, ons het die garnale geëet wat hulle vir aandete voorgesit het.

Ons ry deur teeplantasies, eet kos by padstalletjies en koop ayurvediese middels, sponsies en olies wat ‘n leeftyd se sensualiteit waarborg. Ons “squat” langs die grootpad in plastiek-omheinde kampies met ‘n regte porseleingat en waai vir die jillende skoolkinders wat hang aan die outo-rickshas. Alles in die naam van GODS OWN COUNTRY.

Ons vakansie is verby. Sewe dae en 1 200 km – wat beteken 40 uur op die pad – later, groet ons met ‘n hart wat vol is van verstaan.

Mikhin, ons glo en vertrou dat al die koring wat op jul troudag gestrooi is, net soveel seën en vreugde sal inhou as wat ons in jou land ervaar het.