paul_1_b_w
Lewe + Liefdes

FOTO’S: Namibië se vlieënde fotograaf Paul van Schalkwyk

Sy foto’s vertel die verhaal van ‘n uiteenlopende landskap. Van goud geel duine, wuiwende grasvelde, fyn patroonpaadjies van wildspore wat ‘n abstrakte kunswerk vorm, elke toneel uniek en anders. Vir hom het elke trip in dié landskap in sy eie magic.

 Hy glo – If you don’t get it, you don’t deserve it. Wanneer ek na sy foto’s kyk, dan weet ek Paul verdien hierdie magic. Ek het met hom gesels oor fotografie, vlieg en vele ander goed.

Wanneer het jy fotografie begin doen?

Ek het my eerste kamera gekry in standerd twee en het van toe af foto’s geneem.  Op universiteit was ek baie meer aktief  en het alles wat beweeg en nie beweeg het nie, afgeneem. Nie altyd met ewe veel sukses nie. Ek kry toe ‘n job in die filmbedryf as ‘n runner  op  Jakkalsdraai se mense met Franz Marx as regisseur.  ‘n Week in die film in – daardie tyd is Afrikaanse films geserialize  in fotoverhale in die Huisgenoot – het die fotograaf  op stel ‘n fight gehad met Franz  en toe vat hy sy goed en loop.

Ek het toe net ‘n prys gewen in ‘n fotokompetisie in ‘n fototydskrif. Met jeugdige voortvarendheid vra ek toe of ek die fotograaf kan word. Die kamera crew was daarteen, want ek was ‘n baie goeie runner. Toe doen ek maar al twee die jobs, natuurlik teen betaling. Dit was my eerste fotografiese werk. In die proses om die afdrukke vir die Huisgenoot en ook al die publisiteitsfoto’s te maak, het ek kennis gemaak met ‘n Sotho man in ‘n donkerkamer, Sakkie,  wat my alles geleer het oor fotografie – hoe om foto’s te druk, komposisie. . . Ek is soveel verskuldig aan hom. Al daai kennis pas ek vandag nog toe in my fotografie.

Na jou studies is jy Namibië toe waar jy vir ‘n koerant gewerk het en  besluit het dis nie vir jou nie. Toe het jy ook films vir National Geographic gemaak. Was dit ‘n uitdaging?

Dit was een van my ideale om vir NG films te maak. Dit het my agt jaar gevat om in te kom by hulle. Dis fisies en ook emosioneel moeilik om ‘n wildlewe film te maak. Ek het ‘n film oor die leeus in Etosha gemaak, oor die koalisie van drie leeumannetjies wat in Etosha rond getrek het en al die ander troppe se mannetjies aangevat het. In ander wildparke beweeg leeus in die dag, maar in Etosha slaap hulle in die dag, want dis so warm. Ek moes in die nag agter hulle aan en ek moes eers die vaardigheid ontwikkel. Aan die begin het ons die leeus aanhoudend verloor. Hulle het op loop gesit, want ons het geraas en ook te veel lig gebruik.

Ek moes vinnig leer om sonder ligte en baie sagter te werk. Die eerste drie maande was ‘n frustrasie tot ek en Max, my assistent meer behendig geraak het.  Ons het gehoop dat ons hulle vroegoggend kon kry waar hulle ‘n bok plat trek en ons dit dan kon verfilm.  Die uitdaging was groot. Ek moes in die dag slaap, alles regkry en nog probeer om my familie aan die gang te hou. Dis voor die tyd van selfone. Ek moes na ‘n kamp ry waar daar ‘n tiekieboks was om vir Riéth, my vrou te kon bel en te hoor of alles by die huis nog reg was.

Daar is ‘n storie agter die storie van die leeus film. Vertel meer.

Ek het ‘n Landrover omgebou met ‘n kameraplatform. Ek moes die Landie terugsleep Windhoek toe op ‘n A-raam en ‘n bout het gebreek. Die hele A-raam het onstabiel geraak en begin swaai. Ek het beheer verloor en het toe die voertuie gerol en my rug gebreek.

Dis nog voor ek die kontrak vir die film geteken het. Natuurlewe films se styl daardie tyd was baie dokumentêr sonder dat jy ‘n mens in die film sien. Daar was ‘n Australiese filmmaker wat anders begin werk het en hy het films gemaak waar hy interaksie het met diere. Ek het reeds begin met die film voordat ek die kontrak geteken het, sodat ek ‘n headstart het. Ek beklink die transaksie met NG en begin myself rehabiliteer. 

Vyf maande later is ek terug in die veld. Toe ek die film aflewer, vertel ek hulle die drama van my rug. Hulle werk dit toe onmiddellik by, want die menslike drama het die film soveel sterker gemaak.

Waarom het jy ophou wildlewe films maak?

Op daai film het ek besef ek sal moet compromise as ek wil films maak. Ek moes kies tussen my familie en wildlewe films. Toe het opgehou om wildlewe films te maak. Ek het toe aangegaan met my reklame- en skakelmaatskappy en ook ‘n televisiestasie begin.

As ek kyk na jou foto’s kan ek nie glo jy vlieg en neem nog self die foto’s nie.

Jy moet onthou die landskap kap al met my kop van standerd ses af.  Ek oefen al vir dertig jaar om foto’s te neem. Ek voel uiteindelik ek is nou by ‘n plek waar ek iets reg kry. Ek het my vlieglisensie gedoen om selfstandig te kan wees. Dit was my sleutel tot vryheid. Dis waaroor ek gedroom het. Daar was al ‘n paar noue ontkominge en passasiers het al ‘n paar benoude oomblikke beleef as ek te ywerig is met die kamera en nie die vliegtuig heeltemal op koers hou nie.

Op watter formaat kamera’s werk jy?

Verskillendes: 35mm, asook my Hasselblad filmkamera. Die probleem met die Hasselblad is sy vinnigste sluiterspoed is ‘n 500 van ‘n sekonde en dis bietjie stadig vir wat ek doen. En die Phase 1. Digitaal het die groot bevryding vir my gebring. Ek hoef nie meer films om te ruil nie. Maar die grootste voordeel vir my met digitaal is, dit laat my toe om te eksperimenteer. Dit laat my my grense altyd te skuif. Film, elke raampie, dis te duur.

Is daar ‘n spesifieke plek in Namibië wat jou hartsplek is?

Die woestyn.  Dis ‘n ontoeganklike plek. As jy nie opoffer vir die plek nie, gaan hy niks vir jou ontbloot nie. Jy moet warm kry, dors hê, vassit in die sand, jy moet sukkel om deur te kom, slegs dan wys die woestyn vir jou sy skoonheid. Omdat die woestyn so ontoeganklik is, is dit ongerep. Daar’s min tekens van menslike beweging en die konsep van “ ek is die eerste mens wat my voetspore hier laat.” – Riéth sê altyd ek sal op my gelukkigste gewees het as ek ‘n duisend jaar gelede hier was met ‘n Landrover en ‘n vliegtuig en ‘n oneindige voorraad petrol, dat ek eerste kon wees om te ontdek.

Wie wil jy bereik met jou werk?

Almal wat iets voel wanneer hulle na my werk kyk. Ek wil nie beroemd wees nie. My droom is dat my prente mense plesier sal gee, nes dit my plesier gee om dit te maak.

Is jy steeds opgewonde wanneer jy ‘n kamera optel?

Ek kan nie daarsonder lewe nie. Ek het ‘n affair met ‘n kamera. Daarsonder sal ek mal word. Ek geniet my lewe deur ‘n viewfinder. Ek sien tonele voor my in raampies afspeel. My intensie is om iets te skep. Ek het baie min foto’s van my gesin, want ek neem nie kiekies nie – ek is nie ‘n happy snapper nie.

* Lees ook die Kuberkuier met Paul in die November-uitgawe van SARIE, vanaf Maandag 17 Oktober 2011, te kry.

Volg SARIE op Twitter en Facebook

  • Maretha Claasen

    Ek ken Paul van Schalkwyk vir baie jare…en ek bewonder sy talente al vir net so lank! Hy het n intuitiewe aanvoeling vir ‘n foto…hy skep emosie met sy fotos en gee terselfdertyd uitdrukking aan homself deur sy fotografie…Sy fotos is kleur-poësie…hy "sklider" met sy kamera!

  • Magriet Meiring

    Plaas asb. vir ons ‘n foto waar jy oor die maanlandskap vlieg vanaf Walvis na Windhoek. Ek het daar grootgeword en dan ook die voorreg gehad om dit eenmaal uit die lug te sien – Ongelooflik!!! Dankie vir ander wonderlike fotos!!

  • Ansie Mare

    Trots!!

  • cathy blatt

    Absolutely overpowering. Incredible work!