drie_reisigers_aan_die_woord
Lewe + Liefdes

Nog ‘n paar oulike boeke vir geskenke vir groot mense

Dis ‘n uiteenlopende versameling. Natuurlik verteenwoordig hierdie keuse ook my smaak. Ek lees oor enigiets en is nuuskierig oor baie dinge. Al hierdie boeke sal iets beteken vir mense wat gek oor boeke is, omdat dit die tipe boeke is waarin jy weer en weer gaan kyk. Ek het ook ‘n oudioboek gekies, sowel as die FAK sangbundel en ‘n CD met liedjies uit die einste bundel. Geniet!

Drie Reisigers & Valiant Swart vat weer die pad, Oudioboek
Hierdie dubbel-CD bevat ‘n hele klomp reisstories van Dana Snyman, Johan Bakkes en Johan Badenhorst. Die skrywers vertel self hul stories en tussendeur sing Valiant Swart  ‘n paar van sy langpadliedjies soos “’n Duisend maande” en “1 000 myl blues.” Selfs al is jy nie op pad nie, is dit ‘n heerlike oudioboek. Die boek is beskikbaar by kalahari.com, maar soek onder die musiekkategorie. Dit kan ook bestel word by www.weg.co.za

Killing for profit 

Killing for profit, Julian Rademeyer (Zebra Press, R220)
Dis nogal ‘n ontstellende boek om te lees, want hierin gee Rademeyer ‘n oorsig oor die hele geskiedenis van renosterstropery in Suid-Afrika.  Hy ontbloot korrupsie, konkelary, onderduimse onderhandelinge en toesmeerdery in hierdie boek wat stropery in konteks  plaas.Mens besef eers hoe gekompliseerd hierdie hele kwessie is en hoe wyd die tentakels van die onwettige handel in renosterhoring strek na jy die boek gelees het. Deeglike navorsing word boeiend aangebied. Beslis ‘n boek wat almal wat die welstand van renosters op die hart dra  moet hê.

 Life in 5 seconds

Life in five seconds, H-57 (Quercus, R164)
Hierdie boek gaan jou vir ure besig hou. Die hele boek bestaan net uit prentjies wat die lewe uitbeeld: bekende mense, geskiedkundige oomblikke en ikoniese plekke. Hoe moet jy hierdie boek lees? Kry ‘n spul vriende bymekaar, kyk na elke prentjie en probeer raai wat dit is wat uitgebeeld word (sonder om na die antwoorde te kyk). Die boek is saamgestel deur ‘n ontwerp- en advertensiemaatskappy in Milaan. Waarskuwing: party prentjies is nogal moeilik om te ontrafel om uiteindelik by die antwoord uit te kom. Maar dis eindelose pret om te bly raai!

 Bond on Bond Bond on Bond, Roger Moore (Michael O’Mara Books, R325)
Bond bly gewild. Dis altyd in my vriendekring ‘n stryery oor watter akteur nou eintlik die beste Bond was of is. My gunsteling bly Sean Connery, net omdat dit ou skool-Bond is. Hy het stewige kompetisie van Daniel Craig, want hy is darem wraggies aantreklik!  In hierdie boek gee Roger Moore ‘n oorsig oor vyftig jaar van Bondrolprente.  Baie foto’s maak hierdie ‘n heerlike kykboek sowel as ‘n leesboek wat uit Moore se persoonlike perspektief geskryf is. Dis lekker om te lees wat hy alles onthou. Van die staaltjies oor dinge wat agter die skerms gebeur het gee meer kleur aan Bond en sy geskiedenis.
 Mens of Monster

Mens of Monster, Carla van der Spuy (LAPA Uitgwers, R190)
Die gesoute joernalis se tweede nie-fiksie boek is ‘n hele 343 bladsye vol interessante  navorsing oor misdaad en die misdadiger.  Dit bevat inligting oor van die land se mees aangrypende misdade en wat agter die skerms gebeur het. Die skrywer het ook plaaslik en internasionaal gaan vra wat van die mens ‘n misdadiger maak en hoe ‘n misdadiger lyk?
Die boek kyk in ‘n lekker-lees tydskrifstyl na die rol wat byvoorbeeld die punt van die neus, ‘n lang middelvinger, ‘n frons,  ‘n geboorte datum  en ‘n naam kan speel wanneer die profiel van ‘n misdadiger saamgestel word. Hoewel dit nie deur die howe aanvaar word nie, help dit dikwels ondersoekers om mense aan te keer of ten minste te weet waarvoor hulle op die uitkyk moet wees.
Wat gee aanleiding tot boosheid,  wat maak van iemand ‘n huisrower, ‘n kaper of ‘n moordenaar? Lang gesprekke met misdadigers en vele besoeke aan van die land se berugste tronke het geweldige insig aan die skrywer  gegee maar die vraag bly steeds: Is die misdadiger Mens of Monster? – Susan Puren

 The Agony Chef

The Agony Chef, Kate Sidley (PanMacmillan, R198)
Is dit ‘n kookboek? Is dit ‘n boek vol raad deur ‘n troostante? Nee, dis so bietjie van albei. Kate Sidley se Agony Chef Delilah-karakter  boei jou van die eerste bladsy af waar sy jou vertel hoe sy ‘n troostante geword het. Die eerste hoofstuk bevat “recipes for a disaster” en sy stel jou voor aan die idee van passiewe-aggressiewe kookkuns terwyl jy debatteer oor “gin and doughnuts in the face of break-ups, bereavements and other crises.” As jy nou nog nie nuuskierig is oor hierdie boek nie, dan weet ek nie wat om vir jou te sê om jou nuuskierig daaroor te maak nie. Ek is gek oor Delilah, sowel as haar resepte.

 Come in, we're closed

Come In, We’re Closed, Christine Carroll en Jody Eddy (Perseus Books Group, R330)
Hierdie boek is vir ware kosliefhebbers wat nuuskierig is oor restaurante vanoor die wêreld, die sjefs en die kos wat hulle en hul personeel eet. Die skrywers deel ‘n kykie in die lewe van die mense wat in top restaurante werk waarin ons bitter selde toegang het. Ferran Adrià vertel in die voorwoord die een ding wat hy onwrikbaar glo is “where cooks eat well, you will eat better.”  Carroll en Eddy vertel iets oor elkeen van die restaurante waar hul besoek afgelê het en deel ook ‘n gesprek met die sjef. Dan is daar die resepte van die disse wat die personeel maak om te eet, vergesel van lieflike foto’s en sketse. Al is jy nie ‘n kok nie, maar hou net van lekker eet, dan sal hierdie boek ‘n aanwins wees tot jou biblioteek.

 JM Coetzee: 'n Geskryfde lewe

J M Coetzee: ‘n Geskryfde Lewe, JC Kannemeyer (Jonathan Ball Publishers, R325)
Dis alom bekend dat Coetzee baie privaat is oor sy lewe en daarom is hierdie boek ‘n belangrike toevoeging tot jou biblioteek as jy fokus op literatuur en skrywers.
In die persvrystelling oor die boek word gesê: “Al is die Nobelpryswenner J.M. Coetzee wêreldwyd  as romanskrywer en letterkundige bekend, was daar nog geen omvattende biografie oor hom nie.”  Kannemeyer het onderhoude met Coetzee gevoer en ook wyd met vriende, familie en kollegas van Coetzee gesels. Verder het hy insae in van Coetzee se private dokumente gehad. Hierdie biografie is met die goedkeuring en samewerking van Coetzee geskryf. Kannemeyer is oorlede op 25 Desember 2011, kort nadat hy hierdie lywige boek voltooi het.

 FAK Sangbundel Volume II

FAK Sangbundel Volume II, (Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, R450 plus posgeld)
Almal van ons wat in Afrikaanse skole was, het op ‘n tyd kennis gemaak met die liedjies in die FAK Sangbundel. Gewoonlik was dit die arme sangjuffrou se taak om ‘n horde vals kinderstemmetjies te probeer tem in ‘n harmonieuse koor terwyl hulle Sarie Marais sing.  In hierdie splinternuwe uitgawe van die geliefde sangbundel maak Sarie Marais plek vir ‘n hele spul meer moderne liedjies deur bekende Afrikaanse sangers soos Laurika Rauch, Johannes Kerkorrel, Anton Goosen en Karin Zoid.  Rooiwarm is die nuutste album deur Andries-Hendrik Potgieter waarop hy 14 verwerkings van nagenoeg 34 FAK liedjies sing. Ek is verheug om te sien my gunsteling,  Al lê die berge nog so blou is darem steeds in hierdie uitgawe. Die bundel kan bestel word by Kraal Uitgewers, e-pos: kraal@solidariteit.co.za of 02 644 4329. Die CD is by 400 musiekwinkels landwyd beskikbaar.