Boeke finaal
Boeke

Noot vir Dood-bekendstelling

Dié bekendstelling was nie soos enige ander nie: Met ‘n glas wyn in die een hand en ‘n peuselhappie in die ander, het ‘n paar boekwurms en aanhangers heerlik rondom Ilza se boek gekuier. Ilza se goeie huisvriende van Melkbosstrand, Corné en Justine Krige, het hul huis vir dié geleentheid beskikbaar gestel. Daar is heerlik gelag, geskerts en gesels oor die boek.

 In Noot vir Dood (Queillerie, R199,95) is daar elemente waarvan Ilza grondige kennis dra – die musiekbedryf en glanswêreld van die mense daarin en die joernalistiek. Sy gebruik hierdie kennis om ‘n heerlike, boeiende spanningsverhaal te skryf. Daar is ‘n paar geheime, ‘n joernalis wat vermoor word, ‘n obsessiewe aanhanger en allerhande ander kinkels!

Nadat Ilza ‘n paar vrae van die uitgewer en die ‘gehoor’ beantwoord het, het sy self ook ‘n paragraaf of twee uit haar boek voorgelees. Sy het ook laat val dat die tweede boek dalk vinniger gaan verskyn as wat ons dink. “Toe ek nou die aand vir Deon Meyer by kykNet se Silwerskermfees raakloop, was sy eerste vraag aan my:’Het jy al met die tweede boek begin?’ My keel het vir ‘n oomblik toegetrek, en toe besef ek dat daar ‘n karakter in dié boek is wat ‘n tweede kans verdien.”

Ilza Roggeband

Noot vir Dood kan aanlyn by Kalahari.Net bestel, of by enige toonaangewende boekwinkel gekoop word.