incredible_tretchikoff
Lewe + Liefdes

Nuwe boek vereer kunstenaar Tretchikoff

Deur die jare is sy lewe in meer as een boek vasgevang. Incredible Tretchikoff (Tafelberg, R230) deur die Russiese Boris Gorelik is juis dié week vrygestel. Dié boek deel Vladimir se lewe as seun in Harbin, sy volwasse lewe in Sjanghai en uiteindelik ook sy tyd as krygsgevangene.

Hy is in Rusland gebore maar met die uitbreek van die Russiese rewolusie vier jaar later, het sy ouers na Harbin (Sjina) verhuis. Danksy sy kunstalent kon hy as tiener na die Sjinese stad, Sjanghai, verhuis. Hier ontmoet hy die Russiese immigrant, Natalie Telpregoff, en trou later met haar. Die paartjie is na Singapoer, waar hul dogter, Mimi, gebore is.

Maar toe Singapoer in 1941 deur Japan binne geval is, het sy lewe verander. Natalie en Mimi moes die land verlaat, maar hy het nie geweet waarheen hulle is nie. Intussen moes Vladimir saam met ’n handjievol ander oorlewendes oor die Java-see seil na veiligheid, maar toe hulle Java bereik, is dié eiland reeds ook deur die Japannese binne geval. Hy’s gevange gehou, ondanks sy Russiese burgerskap. Drie maande later is hy egter vrygelaat. Dis in dié tyd na sy vrylating in Java wat sy werk gewild geword het.

Uiteindelik kon hy sy vrou en kind opspoor – in Suid-Afrika! Vladimir het Kaapstad toe getrek en in 1947 sy eerste kunsuitstalling gehou. Van daar af, het sy loopbaan as kunstenaar geblom. Uiteindelik het meer as 2 miljoen mense van oor die hele wêreld sy 252 uitstallings besoek. Van die gewildste uitstallings was in die VSA, Kanada en Brittanje.

Ook in Suid-Afrika het sy uitstallings deur die jare meer as 500 000 besoekers gehad.

Chinese Girl  het van die meeste afdrukke van alle tye verkoop. Daar is selfs mense wat glo dié afdrukke het beter verkoop as Leonardo Da Vinci se Mona Lisa.

 

Tretchikoff: The people's painter (Johanthan Ball, R225)

Buiten dié nuwe boek, is daar ook Tretchikoff: The people’s painter (Jonathan Ball Publishers, R225), saamgestel deur die Tretchikoff Stigting om dié kunstenaar, wat in 2006 in Kaapstad oorlede is, te vereer. Hy het ook in 1973 sy outobiografie, Pigeon’s Luck (Collins), saam met Anthony Hocking gepubliseer – dit het sy oorlogervaringe oorvertel.

Lees meer oor Tretchikoff se lewe en gewilde werke op die Tretchikoff Stigting se webblad.