Lewe + Liefdes

Vroue in inligting en kommunikasietegnologie kry erkenning

Vroue in die sektor inligting en kommunikasietegnologie in Suid-Afrika gaan voortaan jaarliks vereer word met nuwe toekennings wat bekend gemaak is.

Die nuwe toekennings, wat bekend staan as Women in ICT – Partnership for Change Awards, is die inisiatief van MTN in vennootskap met Jacaranda FM en East Coast Radio, wat albei deur Kagiso Media besit word. Op hierdie manier wil hulle vroue nie net erkenning gee vir die rol wat hulle in die ontwikkeling van die bedryf speel nie, maar ook meer vroue aanmoedig om betrokke te raak in dié bedryf wat tradisioneel deur mans oorheers word.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Mteto Nyati, MTN Suid-Afrika se uitvoerende hoof, het in Johannesburg met die aankondiging van die toekennings gesê: “Die Women in ICT  Awards gee uitdrukking aan die behoefte vir demografiese verandering ten opsigte van geslag in die sektor en wil verseker dat vroue se bydrae tot die groei van die sektor erken en gevier word.” Volgens hom speel vroue ’n beduidende rol in hierdie bedryf en dis hoog tyd dat kennis hiervan geneem word en dat hulle vereer word daarvoor.

Nyati het sy kommer uitgespreek oor hoe min meisies op skool wetenskap en wiskunde as vakke neem, en bygevoeg dat meisies gemotiveer kan word deur die prestasie van vroue wat hierdie toekennings kry. Hopelik sal dit bydra tot ’n toename in meisies wat presteer in hierdie vakke.

Die toekennings is vir vroue reg oor die spektrum van inligting en kommunikasietegnologie. Vroue kan reeds van vandag af benoem word in nege kategorieë. Vir meer oor die kategorieë en om iemand te benoem vir ’n toekenning, besoek https://events.mtn.co.za/Women-in-ICT. Die wenners sal op 31 Augustus aangekondig word.