karen_dirndl
Lewe + Liefdes

Oktoberfees in München!

As die woord Oktoberfees opduik, is die vraag op almal se lippe: Waarom word dit in September gehou? Die antwoord is maklik – dis nog heerlike warm weer aan die einde van September!

Die eerste Oktoberfees is gehou in die jaar 1810 om die huwelik van Kroonprins Ludwig (later Koning Ludwig I) en Prinses Therese van Saxony-Hildburghausen saam met die inwoners van München te vier. Die fees is afgesluit met ‘n perderesies. Daarna is besluit om die resies die volgende jaar weer te hou. Biertente , ”merry-go-arounds” en ander vermaak is deur die jare bygevoeg.

Die fees word op ‘n groot stuk veld in München gehou, wat ook na die prinses genoem is: Theresienwese. Welkom by die Wiesn soos die ”locals” dit noem.

Hierdie fees het so bekend geword dat dit na sy 201ste bestaansjaar nog steeds die grootste en bekendste volks-/bierfees is wat jaarliks sowat 5 tot 7 miljoen besoekers van regoor die wêreld lok!

Die Oktoberfees-tente waarin almal gesellig sit, staan en dans, is nie tente nie, maar groot sale wat van staal en hout gebou word. Elke jaar voor die fees word hierdie tente opgeslaan en daarna weer afgeslaan. Daar is 14 groot tente wat sitplek vir omtrent 10 000 mense binne en buite bied. Elkeen het iets unieks en spesiaals, of dit nou die mooi kleure is of die energieke orkes wat speel.

Van die bekendste en interessantste tente is:
* Höfbräu-Festzelt: Dis die internasionale biertent en ook die grootste, met 6 000 sitplekke binne, 3 000 buite en omtrent 1 000 staanplekke.
* Schottenhamel: Die oudste van al die tente en die groot opening van die fees vind hier plaas.
* Löwenbräu-Festzelt: Hierdie tent het ‘n 37 m-toring, nie iets wat jy kan miskyk nie. Nou en dan sal jy ook ‘n leeu hoor brul, ”Löwenbräu”.

In Duitsland is 1 300 verskillende bier brouerye, maar net 6 van die 1 300 mag bier by die fees bedien, nl. Augustiner, Höfbräu, Paulaner, Löwenbräu, Hacker Pschorr en Spalen. Hierdie biere word in München gebrou. Bier by die fees word in ‘n Maß beker ( ‘n 1 l-bierbeker) bedien. Tydens die fees word daar oor die 60 000 hektoliter bier verkoop. 1 l bier kos tussen 8,70 en 9,20€ (tussen R90 en R100). Die alkoholvlak van die bier is tussen 6 en 7%, sterker as die normale Duitse bier. Die kelnerinne moet op een slag 10 Maß-biere kan dra – dis nogals iets om te sien!

Die Oktoberfees is nie elke ou se maat nie. Alles is peperduur en dis moeilik om jouself in te hou om nie om elke hoek en draai iets te koop nie.

Die fees is ‘n geleentheid wat elke persoon in sy lewe moet beleef. Net om die massa mense in hul tradisionele kleredrag, die dirndl en lederhosen te sien, pragtige tente, oulike stalletjies, ”rides” en die gees te beleef onder die mense is ‘n moet.

Dis verbasend hoeveel Suid-Afrikaners die fees ook bywoon – as jy jou SA rugbytrui aantrek, dan sien jy hoe spring almal soos meerkatte uit hul gate uit om hallo te kom sê.

Een ding is verseker: Die fees sal my weer sien … en weer!