arwantie
Lewe + Liefdes

Oor fantasie en ander wêrelde

Dink maar aan hoeveel boeke, verhoogstukke en rolprente al gemaak is waarin ‘n alternatiewe wêreld uitgebeeld word. Dis of die mens ‘n behoefte daaraan het om te kan ontsnap uit ons gewone alledaagse wêreld en dit wat bekend is. Ons is eindeloos gefassineer deur die moontlikheid van vampiere, weerwolwe, gode en godinne, en ruimtewesens. Ek onthou toe ek klein was, wou ek altyd stories hoor oor dwergies, feetjies en diere met towerkragte. En ek het die geneigdheid steeds nie ontgroei nie. Daar is niks so lekker soos om my in te leef in die gebeure wat in so ‘n alternatiewe wêreld plaasvind nie. Hier dink ek aan Tolkien se “Lord of the Rings” (alhoewel ek moet bieg, dit was vir my makliker om die rolprent te kyk as om die boek te lees!), en Stephen King, Suzanne Collins en natuurlik Isaac Asimov. Hierdie week is my keuse dus allerhande fantasieverhale.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com  te besoek om van die boeke aanlyn teen afslagpryse te bestel.

Arwantië 2953, Eben van Renen (Thompson Uitgewers, R180 + posgeld)
Die mensdom is verspreid deur die heelal soos ons dit ken. Ná dekades van omswerwinge en verskuiwings van planeet na planeet vind die Arwantyne uiteindelik hul eie tuiste in die onbekende ruimte. Kobus Steyn, ‘n ruimte-vegvlieënier, se lewe word omvergewerp wanneer hy skielik siek word.  Sy liggaam ondergaan verskeie mutasies omdat sy DNA verander en hy fisiek baie sterker word. Kort nadat hy siek word, val die Tar die planeet aan. Sy meisie, Nina Smit, ook ‘n ruimte-vegvlieënier, sterf tydens die aanval. Die Tar laat ‘n onbekende veranderende virus vry wat al die mense siek maak, maar net Kobus is daarteen bestand. Dan word die Arwantyne hulp aangebied deur die Makroen. Maar is die Makroen se bedoelings opreg? Kobus moet alles in sy vermoë doen om sy mense te red. Opwindende wetenskapfiksie in Afrikaans vir alle ouderdomme.  Bestel by ebenvanr@yahoo.ca  Die e-boek kan bestel word by www.smashwords.com   – Karien Labuschagne

   

For the Mercy of Water, Karen Jayes (Penguin Books, R153)
Dié verhaal speel af in ‘n droogte-geteisterde land waar al die water streng beheer word en waar enigiemand wat water steel swaar gestraf word deur amptenare van die watermaatskappy. Ná ‘n reënbui in ‘n afgeleë deel van die land verskyn berigte dat ‘n ou vrou en ‘n paar jong meisies daar woon en onregmatig water gebruik. ‘n Joernalis vertrek op ‘n tog na die dorpie om uit te vind wat die amptenare van die watermaatskappy aan hulle gedoen het. Wat sy daar uitvind, plaas haar ook in die visier van die watermaatskappy, maar sy ontdek krag in haarself waarvan sy nie bewus was nie.

Die boek verkry ‘n universele karakter deurdat geen plekke genoem word nie en dat net een karakter benoem word – Eve. Hierdie is beslis nie ligte leesstof nie, maar dis so pragtig geskryf dat dit absoluut die moeite werd is om dit te lees en te herlees.  - Retha Burger

   

Hyddenworld en Awakening, William Horwood (Pan Macmillan, R105 en R190 onderskeidelik)

Wie kan ooit die molle Bracken en Rebecca, Mandrake en Rune vergeet? Horwood, bekend vir sy Duncton Chronicles en Book of Silence, keer terug na die fantasiegenre met Hyddenworld, die eerste in ’n reeks van vier romans.  

Jack is bestem om die Hydden-, sowel as ons wêreld van ekologiese rampspoed te red deur die verlore stene te vind wat deel uitmaak van ’n legendariese talisman; tradisie wil dit hê dat dié amulet ’n vonk van die skepping bevat wat die uitwissing van albei wêrelde kan stuit. Jack, ’n Hydden, word gestuur om tussen gewone mense groot te word en ontmoet vir Katherine. Hulle ontdek ’n verborge poort na die Hyddenwêreld, beland in die stad Brum (onder die juk van die sinistere Fyrd) en sluit aan by ’n bende eksentrieke Hydden wat hulle hopelik na die eerste van die vier verlore sierade kan lei.

In Awakening maak lesers kennis met Judith, Jack en Katherine se dogter. Van kleins af is sy bewus van haar lot; as langverwagte Skildmaagd is sy die draer van die stene. Maar sy ervaar haar bestemming as ’n kruis en Jack besef die tyd raak min; as sy nie spoedig daarin slaag om die stene te herenig en die amulet suksesvol te gebruik nie, is dit klaarpraat met albei wêrelde. Hierdie gegewens word verder ontwikkel en ’n boeiende verhaal van vriendskap en trou, liefde en opoffering volg – Horwood se skryfstyl is liries en kleurryk, en sy kostelike beskrywings dra by tot die geloofwaardigheid van die karakters en die milieu waarbinne al twee boeke afspeel. As ’n liefhebber van fantasie sien ek uit na die derde deel. Dié reeks sal beslis byval vind by aanhangers van J.R.R. Tolkien, C.S. Lewis en Philip Pullman. – Emsie Viljoen

   

The Song of Achilles, Madeleine Miller (Bloomsbury, R180)
In The Song of Achilles word die welbekende mitologiese verhaal van die Griekse held Achilles vertel vanuit die oogpunt van sy vriend en vertroueling, Patroclus – behalwe in dié weergawe is Achilles in ‘n liefdesverhouding met Patroclus betrokke. Ten spyte van Achilles se ma, die seenimf Thetis, se konstante inmenging en absolute afkeur van Patroclus, blom die twee se verhouding sedert hulle kinderdae tot die dag van Achilles se dood in die Trojaanse oorlog. Madeline Miller se navorsing is indrukwekkend. Ek was dus verbaas dat daar niks genoem is van Achilles se onoorwinlikheid en die enigste swakplek in sy mondering, sy hakskeen, nie. Haar weergawe van hoe die held aan sy einde kom strook ook nie met Homerus se Illiad nie. The Song of Achilles is ‘n ongewone interpretasie van Achilles se lewe, maar die boek is beslis nie vir mitologiese puriste of homofobe nie. – Liezl Thom

   

Inheritance, Christopher Paolini (Doubleday, R235)
Dis die laaste boek in die Eragon-reeks. Die Varden rebelleer teen die bose koning en draakruiter Galbatorix. Draakruiter Eragon en sy draak, Saphira, mars saam met die Varden ná Urû’baen, om Galbatorix te verslaan. Eragon en Saphira is die Varden se beste verweer teen Galbatorix. Hulle word bygestaan deur al die inwoners van Alagaësia. Die inwoners bestaan uit mense elwe, dwerge, Urgals en Weerkatte. Eragon en Saphira is steeds onseker of hulle sterk genoeg sal wees om die koning te verslaan. ‘n Weerkat help hulle om ‘n verrassende ontdekking te maak op die eiland, Vroengard. Dit help hulle om die koning te verslaan. So bevry hulle Alagaësia en vind ook uit dat drake nie sal uitsterf nie. Die storie bewys samewerking kan die grootste probleme oorwin. Die boek is vir almal wat jonk van hart is en wat van fantasie hou. – Chantel de Beer

   

Frankenstein, the Dead Town, Dean Koontz (Harper Collins, R197)
Dis die vyfde en finale boek in Dean Koontz se Frankensteinreeks. Deucalion is die heel eerste Frankensteinmonster wat sowat 200 jaar gelede deur Victor Frankenstein gemaak is. Hierdie eerste skepping is uniek, want hy kan tyd en ruimte manipuleer. Hy kan in ‘n oogwenk van een dorp na ‘n ander gaan, en selfs na ander lande. Verder is hy reeds die afgelope 200 jaar in ‘n stryd gewikkel met Victor, wat die mensdom wil uitwis en vervang met nabootsings van mense wat slegs aan hom gehoorsaam sal wees.

Deucalion word weer eens in sy stryd bygestaan deur Carson en Michael. Victor begin stelselmatig om die hele bevolking van Rainbow Falls, Montana, met sy nagebootste skeppings te vervang. Carson en Michael probeer om die oorlewendes te help, maar hulle is nie aldag seker wie nageboots is en wie nie. Dis ‘n uitstekende boek wat jou boei tot aan die verrassende einde.  – Karien Labuschagne

   

Rapture, Lauren Kate (Doubleday, R165)
Rapture is die laaste boek in die Fallen-reeks. Lucifer bedreig die verlede asook die toekoms. Luce en Daniel het net nege dae om ‘n strategie uit te werk wat hom sal verhoed om sy bose planne uit te voer. Hulle word bygestaan deur al die gevalle engele en demone. Die plek waar die engele op die aarde geval het, moet opgespoor word. Sake word bemoeilik deur die vloek op Luce en Daniel se liefde. In hul soektog ontdek Luce wie sy werklik was, en dat die vloek op haar en Daniel se liefde die gevolg was van ‘n liefdesdriehoek. Die ontdekkings stel haar in staat om Lucifer te konfrontreer en te oorwin. Die Troon stel hulle voor ‘n finale keuse wat hul lewens onomkeerbaar kan verander. Hierdie vierde en laaste boek in die reeks is ‘n goeie afsluiting en word aanbeveel vir almal wat hou van avontuur en ware liefde. – Chantel de Beer

   

Catching Fire en Mockingjay,  Suzanne Collins (Scholastic, R182)
Hierdie is die finale twee boeke in die Hunger Games-trilogie, en ongelukkig voldoen hulle nie aan die standaard wat deur die eerste boek gestel is nie.

In die tweede boek, Catching Fire, moet Katniss en Peeta voortgaan om voor te gee dat hulle op mekaar verlief is. Hulle vertrek op ‘n amptelike oorwinningstoer van al die distrikte, en kom agter dat ‘n revolusie teen die Capitol besig is om kop uit te steek en dat Katniss as die simbool daarvan gesien word. Die mense noem haar die Mockinjay, na aanleiding van die borsspeld wat sy tydens die Hunger Games gedra het.

In Mockingjay, die laaste boek, kom District 13 na vore. Dit is ‘n geheime gemeenskap van rebelle waarvan niemand bewus was nie, maar hulle sal nie rus totdat die Capitol verwoes is nie. Panem se toekoms hang van Katniss af ten spyte van die persoonlike prys wat sy daarvoor moet betaal.   – Retha Burger

   

Seraphina, Rachel Hartman (Doubleday, R165)
Seraphina Dombegh, die dogter van ‘n draak, raak verlief op ‘n man. Hierdie liefde is ‘n groot skandaal en plaas haar menslike – en draakfamilie in gevaar. Seraphina moet dus haar geheim baie goed bewaar wanneer sy besluit om in die paleis te bly en as musikant te werk. Die vrede tussen mense en drake is baie kwesbaar.  Die vrede is wankelrig wanneer ‘n draakgeneraal probeer om Ardmagar (Hoof van die drake) en die Koninklike familie uit te wis. Seraphina bevind haarself in the middel van die stryd, want dié generaal is haar draak-oupa. In die tog om hom te probeer keer, ontdek sy daar is nog ander halfmense soos sy. Saam met haar vriende verhinder sy haar oupa om sy planne uit te voer, maar daar is steeds ‘n uitval. Die drake maak nou gereed vir ‘n burgeroorlog en die mense gaan in die middel daarvan wees.  - Chantel de Beer

   

Switched, Book One of the Trylle Trilogy, Amanda Hocking (Tor, R105)
Op Wendy Everly se sesde verjaardagpartytjie probeer haar ma haar vermoor. Haar ma kryt haar uit as ‘n monster wat nie haar kind is nie, voordat sy haar met ‘n mes aanval. Elf jaar later besef Wendy dat haar Ma moontlik reg was wanneer sy Finn Holmes ontmoet en hy haar van ‘n ander wêreld vertel. Saam met hom moet sy dié wêreld leer ken en waar sy inpas. Maar dis uiters moeilik en sy oortree dikwels van die reëls wat haar in moeilike situasies plaas. Finn is haar rots in dié tyd. Maar wat gaan gebeur as Finn weggestuur word? Wendy moet moeilike besluite neem wanneer sy uitvind dat alles wat sy haar hele lewe lank geglo het ‘n leuen was. Dié paranormale romanse is gemik op tieners, maar selfs volwassenes sal die verhaal geniet.  – Karien Labuschagne

   

The Emerald Atlas, John Stephens (Doubleday, R195)

Hierdie  is die eerste boek in die reeks, ” The Books of Beginning”. Die verhaal is propvol avontuur en towerspel, van dwergies, reuse en gruwelagtige monsters. Kate, Michael en Emma word van hul ouers weggeneem vir hul eie beskerming. Hierdie kinders word dan van weeshuis na weeshuis gestuur totdat hulle ná 10 jaar hulself in ’n vreemde dorp, Cambridge Falls, bevind. In die nuwe weeshuis ontdek hulle ‘n boek wat hulle op ‘n ongelooflike avontuur neem. Die oomblik dat hulle aan die boek raak, begin ‘n magiese avontuur homself afspeel. Die boek is die eerste van drie towerboeke. Die kinders beveg ‘n nare heks en red die dorpie met die behulp van ‘n towenaar en hul vriende. Alhoewel hulle ‘n groot geveg gewen het, is daar nog ‘n bose persoon wat na hulle soek, en die kinders vind uit dat hul ouers gevange gehou word deur die einste persoon. Om hul ouers te red, moet hulle die ander twee towerboeke opspoor.  So lê daar nog ‘n lang avontuur vir hulle voor. – Chantel de Beer