Oor nagmerries
Foto’s: Verskaf Galery
Het jy al uit ’n baie nare nagmerrie wakker geskrik, en dan met groot verligting besef dat dit net ’n droom was?
Daardie klop in jou bors, klam gevoel oor jou lyf en vreesaanjaende gevoel van hulpeloosheid is iets wat ek nie graag ervaar nie. Tog is dit lekker om ‘n boek te lees waar ander mense nagmerries beleef. Vandeesweek het ek verhale gekies waar nagmerries sentraal voorkom. Dis moord, oorlog, geweld, terreur, erge siekte en ander skokkende gebeure. Van die verhale is gebaseer op ware gebeure en jy kan jou inleef in die slagoffers se nagmerries. Ons kan bly wees ons lees net daaroor en dat dit nie ons storie is nie.
Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.
Kopwond, Anthony Feinstein (Tafelberg, R170)
In Kopwond vertel Feinstein van die vergete slagoffers van die Bosoorlog. Ná hy aan die Universiteit van die Witwatersrand medies studeer het, en met net ’n blitskursus in psigiatrie, voltooi hy sy militêre diensplig in die vroeë 1980’s as ‘n mediese offisier in die psigiatriese afdeling van die weermag. In dié tyd het hy honderde soldate en van hul familielede in Suid-Afrika en op die Grens in Ovamboland, Namibië, geëvalueer en behandel. Ná sy twee jaar diensplig het hy ook etlike maandkampe aan die buitewyke van die townships Sebokeng en Sharpeville voltooi.
Alkoholisme, slapeloosheid en gewelddadigheid is aan die orde van die dag by sy pasiënte. Die gebeure in die boek is op die inskrywings in sy dagboek gebaseer. Om die vertrouensverhouding tussen dokter en pasiënt te bewaar, is van die name verander en hul identiteit gewysig. Tekens en simptome en hoe dit tot uiting gekom het, is egter getrou weergegee. Dit is ‘n aangrypende ware verhaal oor die trauma en onsigbare wonde waaroor soldate selde praat of wat min verstaan. – Gert Venter
![]() |
Betrayed, Carol Thompson met Roxanne Reid (Tafelberg, R180) |
![]() |
Angel With Two Faces, Nicola Upson (Faber & Faber, R127,95) In ’n poging om die duike in hul verhouding uit te timmer, besluit speurder Archie Penrose en sy geliefde, skrywer Josephine Tey, om in Cornwall te gaan uitspan. Maar te midde van dié idilliese omgewing skuil daar onheil agter elke digte bos en mosbedekte klip; van die begin af loop dinge liederlik skeef. Skaars geland, word Penrose by die ondersoek na ’n oënskynlike geval van selfmoord betrek, maar nog is dit het einde niet – kort daarna verdwyn ’n plaaslike jeugdige onder verdagte omstandighede en dan is die gort behoorlik gaar. Dié verhaal speel in die 1930’s af, maar die skryfstyl is nie eg aan die era nie (die taalgebruik is dikwels te modern), die streng sosiale orde van destyds word grootliks geïgnoreer en die uitbeelding van toeka se waardes is plek-plek onoortuigend (’n speurder, hoe liberaal ook al, sou myns insiens nie met soveel kalmte na die vele gevalle van pedofilie, bloedskande, aborsie en homoseksualiteit geluister het nie). Dis ’n ingewikkelde verhaal, vol kinkels en draaie – as jy dus ’n aanhanger is van die klassieke Engelse speurverhaal (geskryf in die tradisie van Agatha Christie) en ’n voorliefde het vir die effens langdradige ontrafeling van donker geheime wat oor geslagte heen strek, is hierdie net die boek vir jou. – Emsie Viljoen |
![]() |
Mercy, Lara Santoro (Other Press, R265,95) Afrika is rou en ‘n mens word gekonfronteer met die werklikheid daarvan. So eerlik en reguit geskryf dat ‘n mens by tye kriewel. Ons in ons gemaksones het nie ‘n idee nie . . . – Chris Botha |
![]() |
The Blue Demon, David Hewson (Macmillan, R195) Die leiers van die G8 vergader in Rome. Maar die stad is vasgevang in die greep van terreur. Die staatspolisie patrolleer die eens besige strate. Wanneer ‘n politikus ontvoer en op rituele wyse om die lewe gebring word, blyk dit die huidige aanvalle hou verband met soortgelyke aanvalle 20 jaar tevore, toe ‘n fanatiese groep genaamd Blue Demon aktief was. Dié groep se aktiwiteite het ‘n vermoorde egpaar, ‘n groep dooie studente, ‘n ontvoerde kind en ‘n kriptiese boodskap nagelaat. Die moord op die politikus word deur speurder Nic Costa en sy span ondersoek, maar kort voor lank word die ondersoek uit hul hande geneem deur die staatspolisie. Italiaanse president Dario Sordi oorreed Nic om in die geheim voort te gaan met sy eie ondersoek. Wanneer Nic en sy span in die verlede begin delf, word hul lewens bedreig. Dit word gou duidelik daar sit meer as net terrorisme agter die terreuraanvalle. Nic en sy span weet nie meer wie om te vertrou of te glo nie. ‘n Spanningsverhaal vol intrige, agterdog en korrupsie. – Karien Labuschagne |

























Kommentaar