Lewe + Liefdes

Oor nare goed wat met mense gebeur

Iemand het een keer gesê mens moet dankbaar wees vir die slegte goed in die lewe, want dit maak mens se oë oop vir die goeie dinge waaraan jy voorheen nie aandag gegee het nie. Dis ‘n baie waar sêding, veral as ek kyk na die keuse van boeke vir hierdie week. In elkeen van die boeke gebeur daar iets dramaties met ‘n karakter. Outomaties het dit weer ‘n impak op mense rondom daai karakter. Hul lewens word ook deur die arme hoofkarakter se ellende aangeraak! Tog kan ek nie uitgelees raak aan boeke waarin mense se stories van ellende vertel word nie. Hoop daar val iets in jul smaak in vandees week se keuse. Onthou om ons elektroniese boekwinkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

So lig soos klip, Jacques Pretorius (Tafelberg, R180)
Pretorius vertel van “die kind” wat “die konstabel” geword het. Dit handel oor ‘n seun wat in ‘n disfunksionele familie opgroei en ná skool by die polisie aansluit. Ons beleef saam met hom sy kinderjare, skoollewe en kennismaking met godsdiens. Nadat hy vir ses maande as leerlingkonstabel gewerk het, ontvang hy sy formele opleiding as studentekonstabel by die polisiekollege in Pretoria-Wes. Hy doen diens in Hillbrow. Net so verbete soos hy die strate patroleer, soek hy na die ideale vrou. Hy word opgeroep vir afgedeelde diens tydens die onluste in die Vaaldriehoek. Hier is hy een van duisende polisiebeampets wat in Casspirs in brandende townships rondry.
 Die verontrustende vertelling wissel tussen sy kinderjare en die huidige en kan die verhaal van enige jong man wees. Dit wys hoe die vermenging van godsdiens, seks en geweld bydra tot die vorming van die manlike psige.  Pretorius is twee maande voor sy debuut roman verskyn het skielik aan ‘n hartaanval dood. –Gert Venter

 

Criminal, Karin Slaughter (Random House Struik, R 215)
In ‘n vervalle Atlanta woonstel word die lyk van ‘n vermoorde vrou ontdek. Dis uit die staanspoor duidelik dat dié moord gekoppel kan word aan soort gelyke moorde wat 40 jaar gelede plaasgevind het. Die man wat aangekla en skuldig bevind is op dié moorde is uit op parool. Amanda Wagner lei die ondersoek. Spesiale Agent Will Trent mag nie deel wees van die ondersoek nie, omdat sy ma een van die vermoordes was. Will ondersoek egter tog die saak en in die proses word hy geforseer om sy verlede te konfronteer. Karin Slaughter gee ons in hierdie speurverhaal ‘n blik op Will se verlede en hoe Amanda in sy lewe inpas.
 As jy ‘n aanhanger van hierdie skrywer is, sal jy nie teleurgestel word deur die verhaal nie. As jy nog nie een van haar boeke gelees het nie, is dit tyd!– Karien Labuschagne

 

Entanglement, Steven Boykey Sidley (Picador Africa, R195)
Laat ek sommer reguit erken: hierdie was een van my gunstelingboeke in ‘n lang tyd! Soos baie eerste romans, is hierdie een ook nie perfek nie, maar dis ‘n heerlike deernisvolle, wonderlike waarneming en veral vol donker humor.
Jared Borowitz is ‘n fisikus wat vinnig besig is om sy geduld met die lewe te verloor, en daarmee saam sy sin vir humor. Daar is ‘n samevloei van redes hiervoor: sy geliefde mentor is aan die sterf, sy eks vrou het nou haar eie vrou, en dit wil voorkom asof die wêreld boonop nou vol dwase is.
Hierdie verandering in Borowitz stem sy vriendin onrustig en bekommerd – miskien is ‘n naweek in die platteland net wat hy nodig het. Sy groeiende arrogansie veroorsaak egter ‘n ketting van gebeurtenisse wat lei tot ‘n nag van geweld en terreur. Spanning kan so gesien word as ‘n sentrale simbool in die verhaal: tussen wat mens weet en wat mens glo.  Dit laat hierdie man van wetenskap, van feite en bewese teoriee, besef dat die wêreld nie meer ‘n plek is wat hy ken nie. – Pieter Hugo

 

Missing, Susan Lewis (Arrow Books, R96)
Dis ‘n doodgewone herfsdag en Miles Avery laai sy vrou, Jacqueline by die stasie af. Jacqueline klim uit die motor, neem haar naweektas en loop die stasiegebou binne. Dis die laaste keer dat enige iemand haar sien. Drie weke na haar verdwyning stel Miles die polisie in kennis. Ondersoek word ingestel, maar kort voor lank word hy verdink van allerhande sinistere motiewe om van sy vrou ontslae te raak. Donker geheime van die verlede en hede word onthul en die groot liefde van sy lewe bevind haarself in gevaar.
Dis ‘n aangrypende verhaal van intense emosies in pynlike en spanningsvolle situasies.  Hoe sal jy reageer as so iets met jou sou gebeur? – Chris Botha

 

Not  dead yet,  Peter  James (Macmillan, R262)

‘n Beroemde Amerikaanse rock ster, Gaia reis oor die Atlantiese oseaan na Brighton, haar geboorte stad.  Gaia wil haar debuut as aktrise maak, met die hoop om ‘n Oscar te verower vir haar rol as Maria Fitzherbert, Koning George IV  se minnares.  Die rolprent word hoofsaaklik verfilm in die Pavilion in Brighton.  Speuder Roy Grace is aangestel om polisiebeskerming vir Gaia te bied aangesien daar ‘n aanslag op haar lewe gemaak is.  Intussen word  Grace se vriendin wat swanger is met hul eerste baba, geteister deur ‘n persoon wat nie die paartjie se beste belange op die hart dra nie.  
Deur die verloop van die verhaal is daar verskeie karakters wat die leser verdink, van ‘n verontregte manuskripskrywer tot ‘n fanatiese aanhanger (stalker).  Die verhaal is goed deurdink met ‘n hele paar draaie en kinkels om die leser se belangstelling te behou. – Tersia Steenkamp

   

Redemption Song,  Amanda Coetzee (Macmillan, R175)
As jy van rillerstories hou, is die een vir jou. As jy ‘n gesoute rillerleser is, sal jy nie opstaan voordat jy die laaste blad gelees het nie. Iemand wat minder gereeld rillers lees, sal maar moet opstaan vir ‘n sterk koppie koffie en om net eers weer asem te skep. Jy word maklik in die verhaal ingetrek en voel soos ‘n toeskouer op die ondersoektoneel. 
‘n Opwindende avontuur begin hom afspeel wanneer Harry O’Connor, ook bekend as Badger, met lang verlof is van diens aan die London Metropolitaanse polisie. Hy bevind hom  weer in die sigeunergemeenskap waar hy  grootgeword het. Hier probeer hy fisies en geestelik van sy vorige saak se impak  herstel.  Wanneer die maatskaplike werker, Emily Meadows hom bel met die nuus van ‘n ma en dogter wat  vasgevang is in die wrede kloue van die Albanese  oorlogvoerder, Jak Kraja, sit  Badger af op ‘n missie om hulle te bevry.  Wanneer Badger probeer ontsnap begin dinge skrikwekkend verkeerd  gaan. Noodgedwonge draai Badger na sy voormalige polisiekollegas en sy sigeunergemeenskap om hulp. Badger moet elke greintjie van sy vaardighede en kragte inspan  teen die uitgeslape vyand en sy trawante,  om die  wedloop vir oorlewing te oorleef.
Lees verseker haar eerste boek, Bad Blood voor jy die ene aanpak. Jy sal  meegevoer word in die verhaal van Harry – net miskien kom jy by die antwoord van hoe lank, hoe ver, en hoeveel emosionele bagasie mens kan dra, wat dan die dryfveer word vir so baie ander dinge. – Selma de WetSelma de Wet

   

Sister,  Rosamund Lupton (Piatkus Books, R121)
Beatrice vlieg na Londen wanneer sy hoor dat haar suster spoorloos verdwyn het, en begin ’n lewe in haar suster se woonstel, en in haar klere. Sy probeer verstaan wat in Tess se lewe voor haar verdwyning gebeur het. Sy besef dat hulle nie so naby aan mekaar was soos wat sy altyd gedink het nie, en dat baie raaisels opgesluit is in die maande voor Tess se verdwyning.

Nadat Tess se lyk in die toilette in Hyde Park ontdek is, aanvaar Beatrice se verloofde en haar ma Tess se dood as selfmoord. Beatrice kan dit nie aanvaar nie en is in haar kop in gesprek met Tess. Sy gee haar vorige lewe prys om in Tess se skoene na die waarheid te soek. Dit is ‘n emosionele en gevaarlike pad wat sy gekies het en een wat haar duur te staan kan kom. – Liesel Pienaar

   

The Dinosaur Feather,  Sissel-Jo Gazan (Quercus, R184)
Hierdie speurverhaal, uit die Deens vertaal, ontrafel ‘n moord wat gepleeg word in die Biologiese Instituut by die Universiteit van Kopenhagen.  Dit blyk dat die vermoorde Professor Lars Helland baie vyande gehad het en die leser word heelparty kere om die bos gelei met vals leidrade.
‘n Mens kry die gevoel dat die skrywer geweldig baie navorsing gedoen het oor die ewolusie van voëls, en of dit nou inpas by die verhaal of nie, besluit het om hierdie nuttelose inligting te gebruik.  Die boek is heeltemal te lank, die karakterontwikkeling is swak, en die leser word gelaat met heelparty onbeantwoorde vrae aan die einde van die verhaal.  Hierdie boek voldoen hoegenaamd nie aan die aansprake wat op die buiteblad gemaak word nie. – Rheta Burger

   

Death of the mantis, Michael Stanley (Headline, R180)
Die verhaal speel af in die Kalahari-woestyn in Botswana. ‘n Wildbewaarder se lyk word in ‘n rivierbedding gekry. Die verdagtes, ‘n groepie Boesmans, word egter vinnig opgespoor en gearresteer. Die ondersoek beland in die hande van speurder Kubu Bengu. Hy soek ‘n skoolvriend op om hom met die ondersoek te help. Khumanego is ‘n Boesman en ‘n beskermer van die Boesman se belange in Botswana. Die gearresteerde Boesmans word vrygelaat en daar vind nog twee moorde plaas. Is die Boesmans onskuldig? En waarna soek Wolfgang  Haake, ‘n ietwat ongure geoloog, so dringend   in die woestyn? Die soektog na die moordenaars lei die speurders tot diep in die woestyn. Hier neem sake ‘n wending wat lei tot ‘n verrassende slot.
Stanley slaag daarin om moderne Botswana en die mistieke van die Boesman te laat saamvloei in ‘n spannende verhaal wat boei tot op die einde. Michael Stanley is die skrywersnaam van Stanley Trollip en Michael Sears wat al verkeie boeke saam geskryf het. –Gert Venter

   

You against me, Jenny Downham (David Fickling Books, R306)
Mikey se jonger sussie, Karyn, word aangerand. Ellie se broer, Tom, word van dié misdaad beskuldig. So ontmoet Mikey en Ellie wanneer hy by hul huis opdaag om Tom by te kom vir sy vermeende aanval op Karyn. Dié ontmoeting is egter nie wat een van die twee verwag het nie, want met die eerste oogopslag raak Mikey en Ellie verlief op mekaar. Die verhouding het ook nie ’n tekort aan hindernisse nie. Behalwe vir die klag van aanranding, kom die twee verliefdes uit heeltemal verskillende huishoudings: Ellie is ’n rykmanskind, terwyl Mikey se gesin skaars hul weeklikse inkopies kan bekostig. Wanneer Ellie ’n geheim oor Tom onthul wat sy skuld in die saak versterk, begin hul ouers eindelik oor hul seun se onskuld twyfel. Dié boek is aanvanklik moeilik om aan gewoond te raak, omdat die dialoog in ’n plat Britse aksent geskryf is. Ellie se interne struwelinge oor reg en verkeerd en ’n sin van lojaliteit teenoor haar gesin is moeilik vir haar, en enigiemand met ’n broer of suster sal wonder wat hulle in Ellie se situasie sou doen. – Liesl du Toit