a_mothers_love
Lewe + Liefdes

Oor verhoudings

Soos ons almal weet, is dit nie ‘n eenrigting-ding nie en moet almal wat betrokke is, belê in die verhouding, anders kan dit ongebalanseerd raak en skeefloop. Of dit nou ‘n verhouding tussen ma en kind, geliefdes, familielede, vriende of kennisse is, jy moet maar ‘n bietjie moeite doen. Verhoudings speel ‘n belangrike rol in elk van die boeke wat ek die week gekies het. In party verhale is die verhoudings meer suksesvol as in ander. Sommige verhoudings is werklik ellendig, maar tog kan ons iets uit die verhaal neem en hopelik ‘n les daaruit leer. Een ding wat ek weet, is dat dit baie moeilik is om heeltemal alleen deur die wêreld te gaan!

Onthou om ons aanlyn-boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke elektronies teen afslagpryse te bestel.

A Mother’s Love, Barbara Greene en Vanessa Howard (Quercus, R99,95)
Die band tussen ‘n ma en haar kind is die hegste wat daar is. ‘n Ma sal enigiets doen om haar kind te beskerm. Maar wat gebeur as haar kind verskriklik erg ly? Behoort ‘n ma dit toe te laat dat haar kind sterf sodat die kind van die pyn bevry kan word?

Frances Inglis en Kay Gilderdale is deur hierdie dilemma gekonfronteer en ná uiters intense wroeging het hulle besluit om die lewe van hul kinders te beëindig. Albei vroue is vervolg vir hul dade.

Die aangrypende verhaal vertel van die besluite wat hierdie twee vroue moes neem en watter impak dit op hul lewe gehad het. Ná die lees van hierdie roerende verhaal worstel jy as leser self met die vraag: Hoe ver sal jy gaan om die lyding van jou kind te beëindig? – Chris Botha

The Soldier's Wife 

The Soldier’s Wife, Joanna Trollope (Doubleday, R215)
Trollope skryf oor gesinsprobleme in die middelklas. Verhoudings trek skeef wanneer ’n gefrustreerde vrou voel sy word misken. Majoor Dan Riley is terug van ses maande harde militêre diens in Afganistan, waar die ongevalle hoog was. In “the zone” by die Wiltshire-kamp sukkel hy egter om by die daaglikse lewe en behoeftes van sy gesin aan te pas. Sy vrou, Alexa, wil ’n beroep hê. Sy stiefdogter haat haar kosskool en loop weg. Dinge is nie lekker in Alexa en Dan se verhouding nie, want Dan kan en wil nie met Alexa oor sy ondervindings praat nie, maar hy ontferm hom oor sy makkers en manskappe. Sy beste vriend, Gus, se vrou verlaat hom en hy probeer help. Jack, Alexa se platoniese vriend, probeer haar met raad bystaan. Almal probeer naderhand keer dat Dan en Alexa se huwelik tot niet gaan.Malene Breytenbach 

 Signs of Life

Signs of Life, Anna Raverat (Picador, R190)
Tien jaar gelede het Rachel ‘n lang verhouding met Johnny prysgegee vir ‘n affair wat heeltemal hande uit geruk het. Eers wanneer sy nie uit hierdie afbrekende situasie kan kom nie, besef sy wat sy verloor het.

Nou probeer sy orde in haar chaotiese lewe herstel deur al haar gedagtes en drome en die notas wat sy gemaak het ten tyde van die affair, in boekvorm neer te skryf.

Die boek is sonder dialoog en in geen chronologiese volgorde geskryf nie, maar hou nogtans jou aandag en belangstelling. Besluit maar self of Rachel se storie ‘n bekentenis of die resultaat van vergeet oor ‘n lang tydperk is. – Amanda van Schoor

 The Gardener

The Gardener, Prue Leith (Quercus, R114,95)
Die hoofkarakter in hierdie verhaal is eintlik die tuine van Maddonpark in Oxfordshire. Die landgoed word besit deur die selfgemaakte miljoenêr Brody Keegan. Hy is getroud met ‘n brandmaer internasionale model, wat aan ‘n eetversteuring ly. Dit weet hy natuurlik nie. Hy soek ‘n tuinier om die vervalle tuin van Maddonpark weer reg te ruk. Lotte Warren, argitek en pas geskeide ma van twee kinders, doen aansoek om die hooftuinier te word. Sy het haar loopbaan as suksesvolle argitek gelos om ‘n graad in tuingeskiedenis te verwerf. Teen haar eie verwagtinge huur Brody haar – nie dat hy oortuig is sy sal die werk kan doen nie. Maar daar is iets aan haar houding wat hom geval. Boonop het sy ‘n intense passie vir tuine.

Leith weef ‘n boeiende verhaal van ‘n tuin wat die karakters se lewens oorheers en selfs die besluite wat hulle neem, beïnvloed. Daar is heelwat konflik tussen Brody en Lotte, maar ook genoeg raakpunte om hul verhouding kompleks en interessant te hou.

Nes in die geval van al haar vorige boeke het Leith deeglike navorsing gedoen oor haar onderwerp. Dit vorm immers die hoeksteen waarop die hele drama gebou word. Sy doen die bouwerk suksesvol, sonder dat die agtergrond die gebeure oorheers. Haar karakters word mense van vlees en bloed en jy word enduit geprikkel om te sien hoe hul lewens verloop. – Phyllis Green

 The Hardest Part of Love

The Hardest Part of Love, Catherine Ryan Hyde (Black Swan, R115)
Hayden Reese dra swaar aan ’n skuldgevoel oor die dood van sy jonger broer. Wanneer sy eie seun by geboorte sterf, vaar hy in woede uit teen God en die wêreld en verloor daardeur nie net die greep op sy eie ambisies nie, maar ook sy vrou en dogter. Vyftien jaar later haal die gevolge van sy onbeheersde woede hom in. Nog vyftien woedende jare verder is dit ’n krisis van lewe en dood wat uiteindelik ontknoping bring.

’n Vlot verhaal in ’n lekkerlees-styl geskryf, hoewel die eksistensiële vrae wat geopper word (o.m. aan die hand van Job en Jona se verhale), nooit werklik antwoorde kry nie. – Ilse van Staden

 The Ice Age

The Ice Age, Kirsten Reed (Picador, R119)
‘n Onthutsende, verleidelike roman wat jou skuldig een bladsy na die ander laat omblaai, deels omdat jy jou oë nie kan glo nie en deels omdat dit so  hipnoties-meesleurend en eerlik geskryf is.

Die verteller is ‘n jong meisie wat die leser met gemengde gevoelens laat. Enersyds vertel sy in die grootste onskuld van haar Lolita-reise saam met ‘n veel ouer, boheemse man, en wil jy die onskuld glo waaroor sy skryf.

Andersyds raak sy en dus die leser ook, mettertyd ontgogel deur haar reisgenoot wanneer hy haar by ‘n vriendin uit sy verlede los en self verder reis. Sy en Stephanie vier haar verjaardag saam en sy probeer Stephanie help om gesonder te leef. Sy laat jou dink dat sy gevestig raak, totdat sy haar werk en nuutverworwe vriende agterlaat om weer eens die langpad met Gunther aan te durf.

Sy vertel terloops hoe hulle saans dagga rook, skryf byna emosieloos oor haar verkragting, en verlei uiteindelik vir Gunther wat haar op sy manier beskerm. – Mariette Postma

 The Island at the End of the World

The Island at the End of the World, Sam Taylor (Faber and Faber, R224,95)
 ’n Pa, ontnugter deur die sondige wêreld waarvandaan hy en sy gesin kom, doen alles in sy vermoë om hulle te beskerm teen die “besoedelde” mense en waardes van Los Angeles, hul oorspronklike tuiste.

Groot dele van die verhaal ontvou vanuit die 8-jarige seun Finn se perspektief. Die ruimte wat hy beskryf, is ál wat hy ken: die eiland en die ark waar hulle woon. Laasgenoemde is deur sy pa, Ben, gebou. In stories en liedjies leer Ben die kinders van die vloed wat hulle, soos Noag van ouds, van die sondiges geskei het. Maar vroeg in die verhaal verskyn ’n indringer uit die buitewêreld. En dit lyk asof Alice, die oudste dogter, voor hom sal swig …

Beslis die beste boek wat ek tot dusver dié jaar gelees het. Uitstekende karakterbeskrywing, ’n oorspronklike en interessante gegewe, met ’n goeie spanningslyn daarby. Hierdie is kontemporêre letterkunde van die boonste rakke. – Maya Fowler

 The Meeting Point

The Meeting Point, Lucy Caldwell (Faber and Faber, R184,95)
Euan en Ruth Armstrong verlaat Ierland met hul tweejarige dogtertjie Anna om in Bahrein te gaan sendingwerk doen. Euan is ‘n pastoor. Sy vrou, Ruth, kom agter Euan is baie senuweeagtig en met hul aankoms in Bahrein vind sy uit hoekom. Hy bieg teenoor haar dat hy eintlik op ‘n missie is om die Bybel na Saoedi-Arabië te smokkel. Ruth voel verkul en teleurgesteld en knoop ‘n verhouding aan met Farik, hul buurman se twintigjarige broer. Intussen begin Noor, die buurman se dogter, ‘n baie intense vriendskap met die Armstrongs. Sy is dertien jaar oud en moes haar skool in Engeland verlaat weens afknouery en ‘n insident waar ‘n ander skooldogter haarself gehang het. Noor fikseer haar hele toekoms op Ruth en Ierland, waar die Armstrongs vandaan kom.

Haar borrel bars egter wanneer sy uitvind Ruth is nie perfek nie en gebruik haar net as babaoppasser vir Anna sodat sy haar buite-egtelike verhouding met Farik kan voortsit. Dit is dan wanneer Noor vir Anna ontvoer. Ruth word hierdeur gedwing om ‘n keuse te maak en sy kies haar huwelik. – Jenny du Toit

 The Sea of Wise Insects

The Sea of Wise Insects, Terry Westby-Nunn (Jacana, R145)

Alice is eksentriek en ’n ware ongeluksvoël. Ofskoon sy na goedkeuring en veiligheid smag, weier sy om volgens konvensionele norme te leef. Sy gaan werk by ’n derderangse hotel in Engeland en ontmoet vir Ralph, ’n skrywer.

Sy oortuig hom om saam met haar terug te keer Kaapstad toe, maar kort daarna verdwyn hy sonder taal of tyding. Al wat van hom agterbly, is sy boek (geskryf onder ’n skuilnaam). Wanneer Alice dit uiteindelik lees, vind sy tot haar skok uit dat sy, haar gesin en hul somber verlede as navorsing vir Ralph se roman gedien het – maar in dié skrynende vertelling van tragiek en valse hoop is ’n mens nooit seker van die ware gebeure en of enigeen wel die waarheid praat nie.

Hierdie morbiede relaas sal nie in almal se smaak val nie; tussen Alice se volgehoue wanopvattings en haar droewige verwagtinge word ’n mens tegelyk aangetrek en afgestoot deur die wedervaringe van Westby-Nunn se emosioneel oordrewe hoofkarakter. – Emsie Viljoen