Lewe + Liefdes

Oor wenslysies vir Kersfees

Elke jaar rondom hierdie tyd dink ek opnuut oor die dinge waarvoor ons wens en elke jaar wonder ek steeds hoeveel van almal se wense waar word. Ek weet my grootste wens vir myself en vir die wêreld is altyd vir vrede, vreugde en voorspoed. Die ding met so ‘n wens is jy weet nie altyd of dit bewaarheid word nie.

Maar ek het altyd ander wense ook, vir ‘n lekker nuwe boek of ‘n mooi handsak, of ‘n paar indrukwekkende skoene, musiek, sjokolade . . . En so kan ek nog goed lys.  

Exclusives maak ook elke jaar ‘n lysie van boeke wat boekliefhebbers vir hulself of vir ander mense kan aanskaf. Toe ek so deur vanjaar se The Wishlist kyk, het ek ‘n hele klompie titels gesien wat gaaf op my boekrak sal lyk. Maar my beursie is plat en ek sal daardie boeke vir die dierbares in my lewe moet gee vir Kersfees en dan ‘n plan maak om die boeke te leen. Hoe sê die ou spreekwoord – ‘n boer maak ‘n plan! Gaan maak gerus ‘n draai in jou Exclusives en wees op die uitkyk vir die rooi posbusse wat die keuses vir vanjaar se The Wishlist aandui.

Jy kan ook van die boeke teen afslagpryse by ons aanlyn-winkel op kalahari.com bestel.

Remarkable Gardens of South Africa, Nini Bairnsfather Cloete (Quivertree, R650)
Ek weet party mense gaan mor oor die allemintige pryskaartjie aan hierdie boek, maar glo my, dis elke sent werd. Die foto’s deur Craig Fraser neem jou op ‘n visuele reis deur 20 van die mooiste en mees uiteenlopende tuine in Suid-Afrika, terwyl die skrywer jou verlei met boeiende woorde. In haar gesprekke met die tuineienaars vertel hulle die geskiedenis van hul tuin en ook wat hulle aangespoor het om die tuin te skep en hoe hulle te werk gegaan het om die tuin tot stand te bring. As ek so deur die tuine blaai, wens ek vir myself vir meer tyd in my eie tuin. Helaas, ek vermoed ek gaan elke keer hierdie boek uitpluk en weer en weer op reis gaan in ander mense se tuine!

Nigellissima

Nigellissima: Instant Italian Inspiration, Nigella Lawson (Chatto & Windus, R424)
Sy is die godin van die kombuis en in hierdie jongste boek van haar trakteer sy ons op alles wat lekker en Italiaans is. Die resepte is onpretensieus en fokus op vars, smaaklike bestanddele wat vinnig en eenvoudig berei word. Sy skryf ook in haar kenmerkende geselstrant sodat dit vir jou voel sy is besig om net vir jou te vertel waarom jy hierdie gereg moet maak en natuurlik dadelik opeet. Meer as ‘n 100 geregte van pasta, stowegeregte en risotto tot poeding is verteenwoordigend van die tradisionele, maar ook meer moderne kos, van Italië.

Roots, shoots & leaves

Roots, Shoots & Leaves, Bernadette le Roux (Sunbird Publishers, R295)
As jy gedink het vegetariese geregte is vaal en vervelig, moet jy regtig deur hierdie kookboek blaai. Le Roux se kos is prentjiemooi, vars en aptytlik. Al kweek jy nie jou eie groente nie – ons het nie almal tyd nie – kan jy dit by die mark of groentewinkel koop en steeds lekker gaarmaak. Die skrywer  plant ook heirloom-groente, dis nou groente wat nie deur kwekers gemanipuleer is nie. Sy verduidelik dit aan die hand van wortels. Baie jare gelede was wortels eintlik pers van kleur, maar die Hollanders het gedink oranje wortels is mooier en toe wortels gekweek wat oranje is. Volgens haar is daar ‘n terugkeer na die ou soorte groentes en is die gewildheid daarvan besig om toe te neem.

Sy verskaf ook ‘n nuttige gids oor waar jy sulke sade in die hande kan kry. Sy gee ‘n verskeidenheid van resepte en begin elke hoofstuk met ‘n uiteensetting van die groentes en waarom dit spesiaal is. Die eerste resep wat ek gaan uittoets, is die een vir die verleidelike sjokolade-en-beetkoek.

MasterChef, The Cookbook

MasterChef South Africa the Cookbook (Human & Rousseau, R296)
Hierdie is die amptelike kookboek van die gewilde Suid-Afrikaanse MasterChef-kompetisie wat in samewerking met M-Net uitgegee word. Baie van die opwindende oomblikke wat jy op televisie gesien het, word in dié boek weergegee. Die agter-die-skerms-oomblikke van die 18 deelnemers en van die toetse waardeur hulle is, word gewys. Daar is ook resepte van die gaskokke. Dis ‘n visuele kookboek waarin jy stap-vir-stap-aanwysings kan volg oor hoe om geregte te berei en dit keurig voor te sit. Die boek is vir almal wat verslaaf is aan die televisiereeks.

Die blou van onthou

Die blou van onthou, Marita van der Vyver (Tafelberg, R226)
Colette Cronje kry laat in haar lewe ‘n brief van ‘n lank vermiste familielid uit Portugal. Sy word teruggevat op die spore van haar lewe, want sy onthou nou weer alles wat sy ‘n leeftyd lank probeer vergeet het. Die gebeure van ‘n halfeeu gelede in Portugal het haar eie lewe asook dié van die volgende twee geslagte onherroeplik verander.

In hierdie boek word drie generasies vroue, almal van een familie, se verhaal vertel: van Colette, haar rebelse dogter, Nandi, en haar kleindogter, Tina, wat sonder haar bloedfamilie grootgeword het. Dis ‘n boeiende verhaal waarin jy nie anders kan as om uiteindelik empatie met Colette te hê oor die pad wat haar lewe geloop het en al haar pyn en verlies wat sy self veroorsaak het nie. Die boek is ook in Engels beskikbaar as Forget-Me-Not-Blues.

Philida

Philida, André P. Brink (Human & Rousseau, R302)
Hierdie is ‘n baie persoonlike verhaal vir Andre P. Brink, want hy delf hier in sy eie voorsate se geskiedenis en herkoms. Philida, ’n slavin, het tussen 1820 en 1835 op die plaas Zandvliet in die Drakenstein-distrik gewoon. (Vandag staan die plaas as Solms Delta bekend.) Philida was in ‘n verhouding betrokke met Frans, die seun van Cornelis Brink, die eienaar van die plaas. Hulle het ook ‘n paar kinders saam gehad. Cornelis was nie baie gelukkig hieroor nie en het besluit Frans moet met die dogter van ’n ryk Kaapse familie trou. Hy verkoop ook vir Philida en haar kinders aan ‘n nuwe eienaar.

Die roman begin waar Philida by die drostdy op Stellenbosch ’n klag teen haar baas gaan indien. Dit gaan dan voort en vertel van Philida se swaarkry en vernedering van baie jare. Dis ‘n boeiende verhaal wat gebaseer is op ware gebeure. Die boek is ook in Engels beskikbaar.

The Mystery of Mercy Close

The Mystery of Mercy Close, Marian Keyes (Michael Joseph Ltd, R209)
Dis Marian Keyes se eerste boek in drie jaar. Die hoofkarakter in hierdie verhaal is Helen, die jongste van die Walsh-susters. Sy volg haar eie kop, raak maklik verveeld en is van nature nie eintlik diplomaties nie. Daarom is sy ook die trekpas gegee by byna elke plek waar sy gewerk het. Sy word ‘n private speurder, want dit is, glo sy, haar redding van ‘n andersins saai bestaan. Werk is egter skaars en sy moet noodgedwonge ‘n saak aanvaar waar sy moet soek na die has-been boyband sanger Wayne Diffney. En nou ja, haar speurtog lei haar na Mercy Close en al die geheime wat sy daar moet ontrafel. Klassieke Keyes op haar amusante beste!

A Wanted Man

A Wanted Man, Lee Child (Bantam Press, R188)
Hierdie is die jongste Jack Reacher-spanningsverhaal waarin hy duimry na Virginië. Daar het hy nog ‘n paar goedjies wat hy moet afhandel. Hy sukkel om ‘n geleentheid te kry, maar hy gee nie moed op nie en word uiteindelik opgelaai deur drie mense. Die twee mans en ‘n vrou is maar vreemd en hulle praatjies maak ook nie sin nie. Die een lieg meer as die ander. Hulle word voorgekeer by ‘n padblokkade op die snelweg, waar daar na misdadigers gesoek word. Is Reacher se drie maters onskuldig of is hulle skuldig en gebruik hulle hom as ‘n weerligafleier? ‘n Heerlike spanningsverhaal waarin Reacher weer op sy stukke is.

Flight Behaviour

Flight Behaviour, Barbara Kingsolver (Faber and Faber, R215)
Dellarobia Turnbow is vasgevang in ‘n huwelik wat haar versmoor. Boonop sit sy op ‘n plaas in die boendoes. Haar verhouding met haar man is glad nie goed nie en sy is jeukerig om ‘n flirtasie met ‘n jonger man te begin. Op pad na ‘n ontmoeting met hom word sy gekonfronteer met ‘n toneel wat so onverwags is, dat sy skoon vergeet sy wou hom gaan ontmoet. Sy sien derduisende oranje koningvlinders wat van koers af gemigreer het en tien teen een deur uitwissing in die oë gestaar word. Ná haar ontdekking kom daar ‘n span entomoloë om die wetenskaplike fenomeen te bestudeer en Dellarobia raak betrokke by die span.

Hierdie roman is Kingsolver op haar beste, waar sy oor ‘n onderwerp skryf wat vir haar tekenend is van die tye waarin ons leef – klimaatsverandering. Maar sy skryf oor die onderwerp op so manier dat daar allerhande ander vrae by jou ontstaan: die verganklikheid van die mens en versoekings wat op jou lewenspad kom en hoe mense met hul gewete moet saamleef.